Skrifgedeelte: Daniël 2
Vers wat tref: Daniël 2:20-23 en 28.
Hoe baie dink jy aan die toekoms voor jy gaan slaap?
Word jy daardeur wakker gehou en kan jy nie tot rus kom nie?
Maak die toekoms jou onseker, veral as jy kyk na die omstandighede wat in die land aan die gang is? So die koning van die magtigste ryk daardie oomblik in die wêreld, koning Nebukadneser ook gedink oor die toekoms en wat gaan gebeur.
Die Here maak die toekoms aan hom bekend in ‘n droom. ‘n Droom wat hy nie verstaan nie maar die baie graag die ware betekenis wou uitvind. Soveel so, dat hy bereid is om al die wyse manne en raadgewers om die lewe te bring, as wat hy ‘n valse uitleg kry.
Hy stel die onmoontlike aan die dienaars: Kom sê julle eers vir my wat is die droom wat ek gedroom het en gee dan die uitleg. Die dienaars erken dis onmoontlik en beskuldig hom dat geen koning dit al ooit van iemand gevra het.
Wat is Daniël en sy vriende se reaksie toe hulle van die bevel verneem dat al die raadgewers doodgemaak moet word insluitend hulle?
- Hulle kom saam en bid saam. Hoe wonderlik is dit nie dat ons die voorreg het om tot die Here te nader in gebed. Hy aan wie die wysheid en die mag behoort mag ons nader vir wysheid en leiding.
- Hoe baie beoefen ons nog hierdie voorreg? Volhard jy in gebed?
Die Here maak aan Daniël die droom en die uitleg bekend en verhoor ook so die gebed. Wat is Daniël se reaksie? Hy gee aan God al die eer! Hy bely dat die Here die een is wat regeerders aanstel, wysheid en gawes aan mense gee, Hy alleen kan verborge dinge bekend maak en dat dit die Here is wat bekend gemaak het wat hulle gevra het.
Toe hy voor die koning verskyn, neem hy nie die eer vir hom.
Hy getuig daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur.
Koning Nebukadneser se groot magtige ryk wat hy bymekaargemaak het gaan na hom nie meer voortgaan nie, ‘n ander ryk gaan aan bewind kom. Net soos sy ryk gaan hierdie ryk ook nie lank bestaan nie en dié daarna ook nie.
Maar die ryk wat gevestig word, nie deur mense hande nie, maar deur God self gaan vir ewig bly bestaan. So het Christus met Sy koms en kruisiging en opstanding die koninkryk van God gebring wat nie oorwin of vernietig gaan word nie.
Wanneer jy dan bekommerd is oor die toekoms, oor die dinge wat om ons gebeur, besef dan Wié is in beheer.
Die Here is HERE oor die hede en die toekoms, Hy bepaal watter konings regeer maar Sy koningskap duur tot in ewigheid!
Dors vir meer:
Matteus 2:13-23 en Openbaring 1:1-6.
Gebed
Ons Vader, dankie dat ons weet U is in beheer, vir nou en vir ewig. Mag ons nie vrees nie, maar weet U is ook by ons deur U Heilige Gees. Amen.
Ds Danie 072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply