Author: Karen de Lange (Page 31 of 33)

Dagstuk 23 April 2020 Wat sal ek vandag doen (Deel 2) Hoe klink my voetstappe?

Skrifgedeelte: Rm 10: 5-15                                 Teks wat tref: v 15

Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel

Met ’n  gesonde hart geniet ons meestal goeie gesondheid. Verder skryf Paulus dat iemand met ’n vaste geloof, nooit teleurgestel sal word nie (v 10). 

Tog is geloof nie maar net ’n saak vir my hart en mond nie.  Met my voetstappe moet ek ook die heerlike boodskap van die Here se redding en genade verkondig.  In sy brief aan die Romeine beklemtoon Paulus Christus se verlossingswerk.  Elke mens wat Christus opreg bely, en dit ook verkondig, kan seker wees dat hy gered is. 

So ’n belydenis is persoonlik en beteken dat ek erken dat Jesus die Here is.  Daarmee bely ek dat Hy my Eienaar is, en dat Hy vir my alles ten beste sal laat meewerk.  Dit gee aan die gelowige sekerheid en rigting.  Dit maak dat ek met vasberadenheid en geloofsoortuiging kan optree. 

Dit gee vrymoedigheid om van die Here te getuig.  Paulus maak ons geloof baie prakties wanneer hy die opdrag gee dat ons voetstappe die heerlike boodskap moet uitdra.

Dit help nie maar net om oor geloof te praat nie. Die huidige Covid 19 pandemie perk ons in.  Maar dink aan ander maniere om uit te reik.  Hierna loop ons na plekke waar nood is. Loop ons na mense wat honger het. Bemoedig ons diegene wat moedeloos is.   

Ons leef in ’n wêreld vol uitdagings en wat uitsien na mense wat voor kan loop en in wie se voetstappe hulle kan volg. 

Laat die oortuiging van jou hart, die pas aangee vir jou voetstappe om van Christus te getuig. 

Dors vir meer:

Mt 28:16-20

Gebed

Niemand wat op U vertrou sal teleurgestel word nie.  Gee aan my daardie opregte vertroue.  Amen

NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding. Ons neem beurte met die dagstukkies. Besoek ook Gereformeerde Kerk Rietvallei se Facebook- of webblad vir meer inligting.

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstukkie 22 April 2020 – Wat sal ek vandag doen? ( Deel 1) Nederige hande

Skrifgedeelte: Jh 13:1-17                             Teks wat tref: v 4

Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel

Sal ek bereid wees om die werk van ’n  slaaf te doen?  Die meeste mense sê dat hulle hiertoe bereid is.  Maar wanneer die taak uitgevoer moet word, is daar baie verskonings en deins ons vinnig terug. 

Jesus se woorde was veel meer as lippetaal. In vers 1 beklemtoon die Here sy liefde vir sy mense en in vers 4 bevestig Hy dit met konkrete dade.  Dit is ironies dat die Koning van die wêreld, nie terugsit en ’n maaltyd geniet nie, maar met ’n konkrete daad sy onvoorwaardelike liefde bewys.  ’n Koning doen die werk van ’n slaaf.  

Om die gaste se voete te was, is een van die take wat gewoonlik aan die geringste slaaf opgedra was.  Weens die stowwerige paaie, moes die gaste eers hul voete was voordat hulle aan die etenstafel kon aanlê.  Sonder die ritueel kon die ete as’t ware nie begin nie. 

Jesus neem inisiatief en begin om sy dissipels se voete te was.  Dit was ook simbolies daarvan dat Hy met sy bloed hulle hele liggaam gewas het.  Hy het ter wille van ons alles verduur en is selfs verneder sodat ons aan die maaltyd van die Here in die hiernamaals kan aansit. 

Christus se nederige optrede verseker aan my ’n ereplek.   Maak jouself gereed om ook jou naaste se voete te was.  In die nadraai van Covid 19 sal daar vele geleenthede kom waar ek diensbaar kan wees. Maar vandag kan ek ook my hande in gebed saamvou en aan soveel mense dink wat beïnvloed word deur die virus.

Nederige hande beteken eintlik ’n verhoogde plek saam met Christus. 

Dors vir meer:

Mt 14:13-21

Gebed

Maak my in hierdie wêreld diensbaar en bereid om U met my hele lewe te verheerlik.  Amen

NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding. Ons neem beurte met die dagstukkies. Besoek ook Gereformeerde Kerk Rietvallei se Facebook- of webblad vir meer inligting.

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstukkie 21 April 2020 – Wat sal ek vandag eet?

Skrifgedeelte: Dan 1:1-21                                  Teks wat tref: v 15,17

Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel

Skrifgedeelte: Dan 1:1-21                                  Teks wat tref: v 15,17

Daniël en sy vriende word as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer. Hulle word aan die vreemde praktyke en gewoontes van ’n koning wat God nie erken, onderwerp. Hulle word van hul identiteit gestroop wanneer hulle ander name kry.  Alle bande met hul verlede word verbreek.  Selfs hulle eetgewoontes moes verander.  Met Covid 19 is meeste mense tuis en het etenstye en eetgewoontes sekerlik verander.

Die proefneming met die kossoorte wat Daniël en sy vriende moet eet, lei daartoe dat hulle ver bo die ander gevangenes uitstyg.  Hulle ontvang verstand, insig en wysheid in so ’n mate dat die vreemde koning hulle onverwyld in top poste aanstel.

Tog was dit nie hulle dieet wat hiervoor gesorg het nie.  Alhoewel die regte en gesonde voedsel belangrik is, was dit eerder hulle vertroue op die Here wat hulle onderskei het.  Hul toewyding aan God was so belangrik dat hulle bereid was om hul eetgewoontes aan te pas om te wys dat die Here in alles voorsien.  Die huidige tydgreep waarin ons lewe vra ook verandering van gewoontes en gebruike waaraan ons gewoond was.

Om in ’n lewende verhouding met die Here te staan, is veel belangriker as dit wat ek eet en drink. Daniël en sy vriende se gehoorsaamheid aan God lei daartoe dat hulle tien maal beter as al die ander towenaars en voorspellers is. 

Vandag berei die Here ons ook voor om op ’n bepaalde plek in sy diens te gebruik.  Benewens dit wat ek in sy Woord leer, sorg Hy ook vir die regte dieet, sodat ek met onderskeiding kan optree. 

Dors vir meer:

Mt 6:25-34

Gebed

Onse Vader, gee aan my my daaglikse brood en leer my bereid om voluit op U te vertrou.  Amen

NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding.

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstukkie 20 April 2020 – Wat sal ek vandag aantrek?

Skrifgedeelte: Eks 28:1-29                                  Teks wat tref: v 12

Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel

Vandag is dit die 25 ste dag dat die grootste gedeelte van Suid-Afrika se bevolking as gevolg van die Covid 19 epidemie tuis bly en werk. Ons skoolkinders en studente gebruik saam met ouers die nuutste tegnologie en maniere om vanaf hul huise steeds te leer en te werk. Talle ander verrig noodsaaklike dienste en ons bly hulle en die pasiente wat versorg word in ons gebede aan die Here se sorg opdra.

Na die soveelste dag moontlik tuis,  of op pad werk toe,  word kleredrag dalk iets waaraan ons nie so gereeld gedink het nie.  Tog vertel die klere wat ek elke dag aantrek soms hoe ek voel. 

Daar moes vir Aäron en die priesters gewyde klere gemaak word wat mooi en waardig was.  So is verseker dat die priesters in die Here se diens met hulle klere ook ’n boodskap sou uitstuur.

Maar hulle klere het nie iets van hulleself vertel nie.  Hulle klere het God se liefde vir sy kinders beklemtoon.  Hulle klere was daar om God aan hulle te herinner.  God se volk was vir Hom so belangrik dat Hy die hele tyd aan hulle dink.

Hiervoor moes die priesters se klere met groot sorg en noukeurigheid gemaak word.  Net die beste materiaal en bykomstighede en die kundigtse vakmanne is ingespan.  Hulle moes ook edelstene op die klere monteer met die name van elke stam daarop.  

Met hierdie klere aan het die priester in die heiligdom diens gaan verrig en die Here daarmee altyd aan sy volk herinner.  Die feit dat elke stam se naam op die edelstene monteer is, wys daarop dat die Here ook by elkeen persoonlik betrokke is wanneer Hy sy liefde betoon. 

In Openbaringe gee die Here ook aan sy kerk wit klere waarmee hulle sy koninkryk ewig binnegaan. As klere belangrik is, hoeveel te meer sal die Here nie aan my alles skenk wat vir liggaam en siel nodig is.

Dors vir meer:

Num 10:1-10, Op 21:9-27

Gebed

Vader, dankie dat U my elke oomblik bewaar en beskerm.  Dankie dat ek vir U so kosbaar is. Amen

NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding.

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Vrydag 17 April 2020 – Lewe in die lig wat van die Here af kom.

Skriflesing: Jesaja 2:1-5.

Vers wat Tref: Jesaja 2:5.

Jesaja gaan in hoofstuk 2 en 3 voort om met die oordeelsaankondiging.  Hoekom moet Juda en Jerusalem hierdie boodskap hoor? Is die ander volke nie soveel meer in verval nie?  Want God gaan Juda en Jerusalem gebruik sodat God se heil aan almal verkondig word!  

Die grootste gedeelte van die Ou Testament fokus op God en sy verhouding met die bondsvolk Israel. Dit gebeur min dat ander volke besondere aandag kry wanneer die verlossing wat God bring, aan die orde kom.

Tog kom die ander volke meermale aan die orde wanneer oor die eindtyd gepraat word, soos in ons fokusgedeelte.

Jesaja kyk egter ook na die einde van die tyd en verkondig die heil van God wat dan sal aanbreek. In daardie heil is daar ook ’n plek vir ander volke. Die eindtyd sal ’n tyd van vrede wees, wanneer oorlogswapens omvorm sal word tot landbou-implemente. In daardie tyd sal die ander volke ook na Jerusalem kom om die Woord van die Here te hoor!

Met Pinkster het die tydperk aangebreek dat die ander volke ook die evangelie moet hoor. Dit is die vernaamste taak van die kerk in die tyd tussen die koms en wederkoms van Jesus Christus (Mark. 13:10).

Die ander volke, waarvan ons ook deel is, kan alleen deur die Evangelie, deur Christus, aan die heil van God deel kry.

Dis ons taak om steeds die evangelie te verkondig aan almal wat dit nog nie gehoor het nie.

Dit kan ons alleen doen as ons werklik self in die lig van God se Woord lewe. Daarom begin die bekering oproep by ons, sodat ons self die lig van God uitsraal!

Die Inperking voel dalk al baie lank, die onsekerhede ry ons, wanneer gaan dinge weer kan terugkeer na vore?  Gaan ek nog ʼn werk hê?  Gaan die skole binnekort weer open?  Hierdie is maar ʼn kort, kort tydjie voor Jesus Christus weer kom.  Met Christus se koms gaan alles vir altyd tot stilstand kom. Gebruik dan vandag as ʼn genade tyd om te volhard in jou geloof, maar ook vir ander om die Lig van God te sien.

Dors vir meer:

Miga 4:1-7 en Hebreërs 10:32-39.

Gebed

Here God, Vader Seun en Heilige Gees. Aan U bring ek weer opnuut die dank en die eer!  Dankie dat ek na U toe kan kom met vertroue en vrymoedigheid.  Dankie dat ek vorentoe kan kyk en U Seun se koms spoedig kan verwag.  Lei my om te lewe in die lig van U woord. Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 16 April 2020 – Waar lê my vertroue?

Skriflesing: Jesaja 1:21-31.

Vers wat Tref: Jesaja 1:27-28

Jesaja se tweede oordeelsaankondiging is teen Jerusalem.  Teen die stad en sy leiers en almal wat daarin is.  Is ons daarby ongesluit?  Sou hierdie ook van Pretoria en ons land gesê kan word?  Waar is die reg, hier is dan net korrupsie.

Ek kla graag oor my land. Wie sal ek blameer? Die staat? Ja. Die munisipaliteit? Beslis. Die ander in my buurt? Definitief. Myself? Nooit!

Ja, ek het nie beheer oor alles nie. Kan ek die hele land bekeer? Maar wat kan ek doen?  Ek kan begin by my daaglikse werk, by my gesin, by my gemeenskap en die klippie al wyer laat uitkring.

Vanoggend, elke dag word ek opgeroep om my te bekeer.  Jesaja preek nie hier vir ander nie, maar vir my. 

Die Here roep my as Sy kind om elke keer weer terug te draai!  Want waar is my vertroue?  Waar is my vreugde?  Binne ʼn maand het die Here alles waarin die wêreld hulle vertroue en vreugde stel weggevat.  Sport en sangsterre oorheers nie die aandag nie.  Dobbelhuise en kroeë is toegemaak.  Geldmarkte het in duie gestort. Besighede wat op korrupsie gebou is gaan inmekaar tuimel. As dit jou hoop was, dan is jy nou verpletter.

Herstel kom eers as daar afgebreek is.  So stuur die Here die oordeel op Jerusalem om te verpletter, maar ook om vry te maak.  Om te bekeer vra van my om alles af te breek.

Afsterf is opstaan! Hartlike berou word dan hartlike vreugde.

Haat vir die sonde is liefde vir God. Wegvlug van die sonde is ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Hoe begin ek vandag met my daaglikse bekering? In my binnekamer. By my huwelik.  By my gesin.  By my werk. By my klasse. Met my studies. Hier dien ek Hom van harte!

Met hierdie gedeelte vanuit Jesaja herinner die Heilige Gees my: “Jy is myne,

Ek het jou gekoop met die bloed van Christus!” Dit werk in my ‘n liefde

vir my God. Liefde vir God en liefde vir my naaste. Ek wil my Eienaar ken deur Sy

Woord te bestudeer. Meer nog, ek wil Hom dien, ook in my bediening van ander!  Die Here het my hier geplaas in hierdie buurt, in hierdie stad, in hierdie land en in hierdie tyd van vandag.

Ek sal my bekeer!  Ek sal ander oproep tot bekering!  Ek sal die reg en geregtigheid van die Here uitleef in my omgewing en Sy liefde verkondig en uitleef!

My vertroue is in die Here wat my gemaak het en duur gekoop het!

Dors vir meer:

Markus 8:34-38 en 1 Johannes 1.

Gebed

Hemelse Vader, dankie vir u liefde en versorging.  Mag ek altyd U woord hoor en luister! Dankie dat U in beheer is en ek altyd op U kan vertrou.  Laat U wil geskied! Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 15 April 2020 – Die Woord as dryfkrag vir ons lewe!

Skriflesing: 2 Timoteus 3:10 – 4:8

Vers wat Tref: 2 Tim. 4:1,2.

Paulus skryf hierdie riglyne en dryfkrag vir Timoteus waar hy self in die gevangenes sit.  Paulus beskryf die lyding en vervolging wat moes hy deurmaak ter wille van die verkondiging van die Evangelie.  In die tyd waarin hy en Timoteus leef, gaan almal wat toegewy aan Christus lewe, ook vervolg word. Baie moeilike omstandighede waarin die evangelie verkondig moet word.  Self baie moeiliker as wat ons dit vandag het.

Wat is die Paulus se aansporing dan vir Timoteus?  Gaan voort om die taak te vervul waartoe die Here jou geroep het.  Fokus nie op die struikelblokke om jou nie.  Dan sal jy vinnig rede vind om mismoedig te word en op te hou. Fokus op God, fokus daarop dat Christus weer gaan kom om die lewendes en die dooies te oordeel.  Gaan verkondig die Woord met die oog op sy koms en Koningskap. Hou vol met die verkondiging van die Woord- in al die fasette.  Party het bemoediging nodig, ander moet bestraf word ander moet geduldig onderrig word.  Wat het jy nodig om te hoor uit die Woord vanoggend?  Moenie laat ons ooit ons eie begeertes volg nie en ʼn waarheid gaan soek wat ons wil hoor.

Bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo!  Leef vanuit God se Woord sodat jy volkome voorberei en toegerus kan wees vir die diens waartoe God jou geroep het.

Mag hierdie Inperking ons aanmoedig om ons dryfkrag nie in ons self toe soek nie, maar dit by God te vind. God wat kragtig jou versterk deur die Heilige Gees en die Woord.

Mag jy vandag by die huis, of by die werk, of waar jy werk vanaf die huis, die dryfkrag van God se Woord uitleef!

Dors vir meer:

Josua 1:1-9 en Filippense 4:1-9.

Gebed

Ons Almagtige God en Vader, mag ons vandag leef met die oog gerig op U en U Woord gebruik om persoonlik te kan groei in die geloof.  Mag ons met vrymoedigheid U Woord verkondig tot en met die wederkoms van Jesus Christus. Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 14 April 2020 – Skoongewas van skarlakenrooi tot so wit soos sneeu.

Skriflesing: Jesaja 1:10-20.

Vers wat Tref: Jesaja 1:18.

Hierdie kwartaal fokus ons op die boek Jesaja.  Jesaja 1 begin met ʼn oordeelsaankondiging oor die ongehoorsame Juda en Jerusalem.

Uiterlike godsdienstige optrede is nie altyd gekoppel aan diens vir God nie.  Uiterlik lyk dit of die volk al die voorskrifte nakom.  Hulle hou die feesdae en bring die offers soos voorgeskryf. Hoe lyk dit verder in die samelewing, daar waar godsdiens uitgeleef word? Hulle moet nie net alleen goed doen aan ander nie, maar kyk dat die reg geskied aan ander wat hulleself nie kan verdedig nie- die weeskinders en die weduwees.  Dit gebeur egter nie.  Hulle word as Sodomsleiers en as ʼn Gomorrasvolk aangespreek (Sodom en Gomorra se vernietiging is gekoppel aan die sosiale verval en onderdrukking van ander). 

Dan volg die harde woorde van die Here:  “Ek is moeg vir julle.  Jullle is vir My ʼn las.  Selfs al bid jul hoe baie, Ek sal nie luister nie.”  Die Here maak nie net sy afkeer aan die volk bekend nie, maar volg dit altyd op met die oproep van bekering. “Hou op met kwaad doen.  Was julle, reinig julle. Leer om weer goed te doen. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.”  Die Here vra van die volk totale vernuwing- breek met die ou sondige en doen die nuwe wat goed en reg is.  Maak nie saak hoe groot die sondeskuld is nie, die Here kan hulle skoonwas.  Indien hulle volhard in die sonde, volg totale vernietiging.

Hierdie gedeelte vra aan jou vandag opnuut die vraag: Hoe lyk jou uitlewing van jou geloof?  Is dit net op die oppervlak, of is dit in die al die vlakke van ons lewe?  Hoe word die weeskinders en weduwees in jou omgewing versorg of word daar geen reg geskied nie?  Reik ons uit na ander buite die gemeente, die wat nie vir hulleself kan sorg nie, in hierdie tyd van Inperking?

In Christus is jou skarlakenrooi sondes met Sy bloed wit gewas soos sneeu.  Jou purperrooi oortredings skoon gewas so wit soos wol. Openbaring 7:14 “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.”

Hoe wonderlik weet ons dat die Here nie net ons sonde vergewe nie, Hy het self daarvoor betaal met Sy bloed aan die kruis.  Eenmaal het Christus dit vir ons volbring.

Hoe gaan jy dan nou lewe?  Kom bely jou sondeskuld voor die Here.  Lê die vuil kleed van die ou mens af en trek die wit kleed van die nuwe mens aan. Reeds nou is ons sonde vergewe en is ons skoongewas deur die bloed van die Lam. Deur Christus se dood is die sonde betaal. Daar is geen offer meer nodig nie. Daarom het Jesus aan die kruis uitgeroep: “Dit is volbring.”

Leef dan vandag hierdie dankbaarheidslewe, waar ons saam met gelowiges die Here aanroep en in al die ander aspekte van ons lewe. 

Dors vir meer:

Openbaring 7:9-17 en Hebreërs 10:19-31.

Gebed

Hemelse Vader, ek bely my groot sondeskuld voor U.  Dankie dat my sondes heeltemal skoongewas is deur die bloed van Jesus Christus.  Daarom wil ek U loof en prys met my hele lewe. Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 13 April 2020 – Op pad tussen nou en nog-nie.

Skriflesing: Lukas 24:13-35.

Vers wat tref: Lukas 24:25-26 en 32

Gister het ons met Paasfees Christus se opstanding gevier!  Die graf is leeg!  Christus het opgestaan!  Wat ʼn wonderlike boodskap is dit!

Op pad na Emmaus kry ons twee volgelinge van Jesus wat die kruisgebeure gesien het en die opstanding van Christus gehoor het. Hulle is deel van die binnekring volgelinge van Christus.  Hulle het gesien en gehoor, maar verstaan nie.  Hulle praat onder mekaar om hierdie dinge te verstaan.  Hulle is nie net op pad na Emmaus nie, hulle is op die pad tussen nou en nog-nie.

Om op die pad tussen nou en nog-nie te wees, is nie maklik en lekker nie. Ons is in die middel van die Inperking, maar is nog nie daardeur nie.  Ons sien die markte tuimel en val, maar weet nog nie wat gaan volgende gebeur nie. Wat moet ons maak in hierdie tye?  Ons leef nou na Christus se opstanding maar ons het nog nie sy wederkoms beleef nie. Net soos Kleopas (en moontlik sy vrou Maria wat saam met hom was) kan ons met somber gesigte staan.

Dan kom Christus se oproep in vers 25 “Wat ʼn gebrek aan begrip en wat ʼn traagheid van gees! Glo julle nie al die dinge wat die profete gesê het nie?”  Waar is ons geloof?  Waar is ons begrip en kennis van wie God is?  Ken ons die Woord en is ons gees ingestel vir die werking van die Heilige Gees?

Op die pad tussen nou en nog-nie is baie keer moeg en kwesbaar en sit ons met somber gesigte. Die verandering het ingekom vir Emmausgangers toe Christus die Skrif vir hulle uitgelê het- hulle hart het warm geword, nog voor dat hul oë geopen is en hulle Christus herken het.  Waarmee hou jy jou besig in hierdie tyd? Gebruik dit om Skrif te leer ken, om God beter te leer ken. Gebruik hierdie tyd om met mekaar oor die Here te praat, al is ons besig met die alledaagse soos die Emmausgangers wat op pad huis toe met mekaar praat.

Ons voel dalk of ons nou in die wagkamer sit- maar dis hier waar ons besef dis goed om op die Here te wag. Hy leer ons opnuut weer geduld, vertroue en versterk ons geloof.  Ons besef dat God die hele tyd saam met ons is. Wanneer die tyd dan reg is ons voorbereid vir die dienswerk waarvoor die Here ons roep.

Dors vir meer:

Genesis 45 en Handelinge 1:1-11 en 2:1-4.

Gebed

Dankie Here dat ons kan deel deur die kruisiging en opstanding van U seun Jesus Christus.  Lei ons op ons lewenspad, maak ons oë en gees oop om U Woord te verstaan. Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstukkie 10 April 2020 – Gaan sit aan die Here se voete

Dit is vandag Goeie Vrydag. Ons vier Paasfees. Ons dink aan die dood van ons Here Jesus Christus. Dit laat ons besef dat daar net by God krag en hoop is.  Christus se dood bring my by God. Niks kan my ooit van God vervreem nie. Mag dit alles my lei om aan ons Here se voete te sit.
 
Skrifgedeelte: Lk 10:38-42                                  Teks wat tref: v 39
 
Die laaste paar weke met die grendelstaat en gepaardgaande inperking kan ons maklik oorweldig. Het jy ook die gevoel en belewenis dat die uitdagings en onsekerheid net te veel word.  Veral met die aankondiging gisteraand dat die inperking verder verleng word. Ons het vrae oor ekonomiese oorlewing, vrees vir siekte en gespanne situasies as gevolg van die inperking. Lukas vertel vir ons van ’n huisgesin wat ook worstel.
 
Jesus se besoek aan die twee susters,  het hulle hele huishouding in rep en roer gebring.  Dit is beslis ’n groot voorreg wat hulle te beurt val.  Gevolglik spring die gasvrou Marta dadelik aan die werk om alles gereed te kry.  Sy wou net die beste voorsit en Jesus dalk ook nog beïndruk. 
 
Aan die ander kant gaan sit haar suster Maria aan die voete van Jesus.  Miskien redeneer ons dat sy haar suster moes help.  Hieroor ontstaan daar by Marta ’n frustrasie sodat sy teenoor die Here uitroep dat Maria tog moet kom help. 
 
In sy antwoord noem Jesus haar naam twee maal om te kenne te gee dat hy intens na haar versoek geluister het.  Dit is goed om met voorbereidings vir die Here besig te wees.  Maar daar is iets van groter belang. 
 
Hy wil hê dat ons aan sy voete moet gaan sit.
·         Daar kan ons gehoorsaam na Hom luister. 
·         Aan sy voete word ons afhanklikheid aan Hom beklemtoon. 
·         Aan sy voete is ons naby wanner Hy ons vir dienswerk oproep. 
·         Aan sy voete is ons verseker dat Hy ons in alle gevare sal beskerm en in elke situasie sal dra.
 
Dit is juis die Kruisgebeure wat dit weer beklemtoon waarom ek aan die voete van ons Here moet sit. Maak nou tyd om aan die Here se voete te gaan sit.
 
Dors vir meer:
Lk 11:1-13
Gebed
Here, ek begeer om aan u voete te sit en na U woorde te luister. Help my om te vertrou en naby U te leef.  Amen. 
 
Petrus van Blerk
0824560235

« Older posts Newer posts »