Skriflesing: Jesaja 1:10-20.
Vers wat Tref: Jesaja 1:18.
Hierdie kwartaal fokus ons op die boek Jesaja. Jesaja 1 begin met ʼn oordeelsaankondiging oor die ongehoorsame Juda en Jerusalem.
Uiterlike godsdienstige optrede is nie altyd gekoppel aan diens vir God nie. Uiterlik lyk dit of die volk al die voorskrifte nakom. Hulle hou die feesdae en bring die offers soos voorgeskryf. Hoe lyk dit verder in die samelewing, daar waar godsdiens uitgeleef word? Hulle moet nie net alleen goed doen aan ander nie, maar kyk dat die reg geskied aan ander wat hulleself nie kan verdedig nie- die weeskinders en die weduwees. Dit gebeur egter nie. Hulle word as Sodomsleiers en as ʼn Gomorrasvolk aangespreek (Sodom en Gomorra se vernietiging is gekoppel aan die sosiale verval en onderdrukking van ander).
Dan volg die harde woorde van die Here: “Ek is moeg vir julle. Jullle is vir My ʼn las. Selfs al bid jul hoe baie, Ek sal nie luister nie.” Die Here maak nie net sy afkeer aan die volk bekend nie, maar volg dit altyd op met die oproep van bekering. “Hou op met kwaad doen. Was julle, reinig julle. Leer om weer goed te doen. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.” Die Here vra van die volk totale vernuwing- breek met die ou sondige en doen die nuwe wat goed en reg is. Maak nie saak hoe groot die sondeskuld is nie, die Here kan hulle skoonwas. Indien hulle volhard in die sonde, volg totale vernietiging.
Hierdie gedeelte vra aan jou vandag opnuut die vraag: Hoe lyk jou uitlewing van jou geloof? Is dit net op die oppervlak, of is dit in die al die vlakke van ons lewe? Hoe word die weeskinders en weduwees in jou omgewing versorg of word daar geen reg geskied nie? Reik ons uit na ander buite die gemeente, die wat nie vir hulleself kan sorg nie, in hierdie tyd van Inperking?
In Christus is jou skarlakenrooi sondes met Sy bloed wit gewas soos sneeu. Jou purperrooi oortredings skoon gewas so wit soos wol. Openbaring 7:14 “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.”
Hoe wonderlik weet ons dat die Here nie net ons sonde vergewe nie, Hy het self daarvoor betaal met Sy bloed aan die kruis. Eenmaal het Christus dit vir ons volbring.
Hoe gaan jy dan nou lewe? Kom bely jou sondeskuld voor die Here. Lê die vuil kleed van die ou mens af en trek die wit kleed van die nuwe mens aan. Reeds nou is ons sonde vergewe en is ons skoongewas deur die bloed van die Lam. Deur Christus se dood is die sonde betaal. Daar is geen offer meer nodig nie. Daarom het Jesus aan die kruis uitgeroep: “Dit is volbring.”
Leef dan vandag hierdie dankbaarheidslewe, waar ons saam met gelowiges die Here aanroep en in al die ander aspekte van ons lewe.
Dors vir meer:
Openbaring 7:9-17 en Hebreërs 10:19-31.
Gebed
Hemelse Vader, ek bely my groot sondeskuld voor U. Dankie dat my sondes heeltemal skoongewas is deur die bloed van Jesus Christus. Daarom wil ek U loof en prys met my hele lewe. Amen.
Ds Danie 072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply