Skriflesing: Lukas 24:13-35.

Vers wat tref: Lukas 24:25-26 en 32

Gister het ons met Paasfees Christus se opstanding gevier!  Die graf is leeg!  Christus het opgestaan!  Wat ʼn wonderlike boodskap is dit!

Op pad na Emmaus kry ons twee volgelinge van Jesus wat die kruisgebeure gesien het en die opstanding van Christus gehoor het. Hulle is deel van die binnekring volgelinge van Christus.  Hulle het gesien en gehoor, maar verstaan nie.  Hulle praat onder mekaar om hierdie dinge te verstaan.  Hulle is nie net op pad na Emmaus nie, hulle is op die pad tussen nou en nog-nie.

Om op die pad tussen nou en nog-nie te wees, is nie maklik en lekker nie. Ons is in die middel van die Inperking, maar is nog nie daardeur nie.  Ons sien die markte tuimel en val, maar weet nog nie wat gaan volgende gebeur nie. Wat moet ons maak in hierdie tye?  Ons leef nou na Christus se opstanding maar ons het nog nie sy wederkoms beleef nie. Net soos Kleopas (en moontlik sy vrou Maria wat saam met hom was) kan ons met somber gesigte staan.

Dan kom Christus se oproep in vers 25 “Wat ʼn gebrek aan begrip en wat ʼn traagheid van gees! Glo julle nie al die dinge wat die profete gesê het nie?”  Waar is ons geloof?  Waar is ons begrip en kennis van wie God is?  Ken ons die Woord en is ons gees ingestel vir die werking van die Heilige Gees?

Op die pad tussen nou en nog-nie is baie keer moeg en kwesbaar en sit ons met somber gesigte. Die verandering het ingekom vir Emmausgangers toe Christus die Skrif vir hulle uitgelê het- hulle hart het warm geword, nog voor dat hul oë geopen is en hulle Christus herken het.  Waarmee hou jy jou besig in hierdie tyd? Gebruik dit om Skrif te leer ken, om God beter te leer ken. Gebruik hierdie tyd om met mekaar oor die Here te praat, al is ons besig met die alledaagse soos die Emmausgangers wat op pad huis toe met mekaar praat.

Ons voel dalk of ons nou in die wagkamer sit- maar dis hier waar ons besef dis goed om op die Here te wag. Hy leer ons opnuut weer geduld, vertroue en versterk ons geloof.  Ons besef dat God die hele tyd saam met ons is. Wanneer die tyd dan reg is ons voorbereid vir die dienswerk waarvoor die Here ons roep.

Dors vir meer:

Genesis 45 en Handelinge 1:1-11 en 2:1-4.

Gebed

Dankie Here dat ons kan deel deur die kruisiging en opstanding van U seun Jesus Christus.  Lei ons op ons lewenspad, maak ons oë en gees oop om U Woord te verstaan. Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.