Dit is vandag Goeie Vrydag. Ons vier Paasfees. Ons dink aan die dood van ons Here Jesus Christus. Dit laat ons besef dat daar net by God krag en hoop is. Christus se dood bring my by God. Niks kan my ooit van God vervreem nie. Mag dit alles my lei om aan ons Here se voete te sit.
Skrifgedeelte: Lk 10:38-42 Teks wat tref: v 39
Die laaste paar weke met die grendelstaat en gepaardgaande inperking kan ons maklik oorweldig. Het jy ook die gevoel en belewenis dat die uitdagings en onsekerheid net te veel word. Veral met die aankondiging gisteraand dat die inperking verder verleng word. Ons het vrae oor ekonomiese oorlewing, vrees vir siekte en gespanne situasies as gevolg van die inperking. Lukas vertel vir ons van ’n huisgesin wat ook worstel.
Jesus se besoek aan die twee susters, het hulle hele huishouding in rep en roer gebring. Dit is beslis ’n groot voorreg wat hulle te beurt val. Gevolglik spring die gasvrou Marta dadelik aan die werk om alles gereed te kry. Sy wou net die beste voorsit en Jesus dalk ook nog beïndruk.
Aan die ander kant gaan sit haar suster Maria aan die voete van Jesus. Miskien redeneer ons dat sy haar suster moes help. Hieroor ontstaan daar by Marta ’n frustrasie sodat sy teenoor die Here uitroep dat Maria tog moet kom help.
In sy antwoord noem Jesus haar naam twee maal om te kenne te gee dat hy intens na haar versoek geluister het. Dit is goed om met voorbereidings vir die Here besig te wees. Maar daar is iets van groter belang.
Hy wil hê dat ons aan sy voete moet gaan sit.
· Daar kan ons gehoorsaam na Hom luister.
· Aan sy voete word ons afhanklikheid aan Hom beklemtoon.
· Aan sy voete is ons naby wanner Hy ons vir dienswerk oproep.
· Aan sy voete is ons verseker dat Hy ons in alle gevare sal beskerm en in elke situasie sal dra.
Dit is juis die Kruisgebeure wat dit weer beklemtoon waarom ek aan die voete van ons Here moet sit. Maak nou tyd om aan die Here se voete te gaan sit.
Dors vir meer:
Lk 11:1-13
Gebed
Here, ek begeer om aan u voete te sit en na U woorde te luister. Help my om te vertrou en naby U te leef. Amen.
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply