Skriflesing: Jesaja 2:1-5.
Vers wat Tref: Jesaja 2:5.
Jesaja gaan in hoofstuk 2 en 3 voort om met die oordeelsaankondiging. Hoekom moet Juda en Jerusalem hierdie boodskap hoor? Is die ander volke nie soveel meer in verval nie? Want God gaan Juda en Jerusalem gebruik sodat God se heil aan almal verkondig word!
Die grootste gedeelte van die Ou Testament fokus op God en sy verhouding met die bondsvolk Israel. Dit gebeur min dat ander volke besondere aandag kry wanneer die verlossing wat God bring, aan die orde kom.
Tog kom die ander volke meermale aan die orde wanneer oor die eindtyd gepraat word, soos in ons fokusgedeelte.
Jesaja kyk egter ook na die einde van die tyd en verkondig die heil van God wat dan sal aanbreek. In daardie heil is daar ook ’n plek vir ander volke. Die eindtyd sal ’n tyd van vrede wees, wanneer oorlogswapens omvorm sal word tot landbou-implemente. In daardie tyd sal die ander volke ook na Jerusalem kom om die Woord van die Here te hoor!
Met Pinkster het die tydperk aangebreek dat die ander volke ook die evangelie moet hoor. Dit is die vernaamste taak van die kerk in die tyd tussen die koms en wederkoms van Jesus Christus (Mark. 13:10).
Die ander volke, waarvan ons ook deel is, kan alleen deur die Evangelie, deur Christus, aan die heil van God deel kry.
Dis ons taak om steeds die evangelie te verkondig aan almal wat dit nog nie gehoor het nie.
Dit kan ons alleen doen as ons werklik self in die lig van God se Woord lewe. Daarom begin die bekering oproep by ons, sodat ons self die lig van God uitsraal!
Die Inperking voel dalk al baie lank, die onsekerhede ry ons, wanneer gaan dinge weer kan terugkeer na vore? Gaan ek nog ʼn werk hê? Gaan die skole binnekort weer open? Hierdie is maar ʼn kort, kort tydjie voor Jesus Christus weer kom. Met Christus se koms gaan alles vir altyd tot stilstand kom. Gebruik dan vandag as ʼn genade tyd om te volhard in jou geloof, maar ook vir ander om die Lig van God te sien.
Dors vir meer:
Miga 4:1-7 en Hebreërs 10:32-39.
Gebed
Here God, Vader Seun en Heilige Gees. Aan U bring ek weer opnuut die dank en die eer! Dankie dat ek na U toe kan kom met vertroue en vrymoedigheid. Dankie dat ek vorentoe kan kyk en U Seun se koms spoedig kan verwag. Lei my om te lewe in die lig van U woord. Amen.
Ds Danie 072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply