Skrifgedeelte: Eks 28:1-29                                  Teks wat tref: v 12

Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel

Vandag is dit die 25 ste dag dat die grootste gedeelte van Suid-Afrika se bevolking as gevolg van die Covid 19 epidemie tuis bly en werk. Ons skoolkinders en studente gebruik saam met ouers die nuutste tegnologie en maniere om vanaf hul huise steeds te leer en te werk. Talle ander verrig noodsaaklike dienste en ons bly hulle en die pasiente wat versorg word in ons gebede aan die Here se sorg opdra.

Na die soveelste dag moontlik tuis,  of op pad werk toe,  word kleredrag dalk iets waaraan ons nie so gereeld gedink het nie.  Tog vertel die klere wat ek elke dag aantrek soms hoe ek voel. 

Daar moes vir Aäron en die priesters gewyde klere gemaak word wat mooi en waardig was.  So is verseker dat die priesters in die Here se diens met hulle klere ook ’n boodskap sou uitstuur.

Maar hulle klere het nie iets van hulleself vertel nie.  Hulle klere het God se liefde vir sy kinders beklemtoon.  Hulle klere was daar om God aan hulle te herinner.  God se volk was vir Hom so belangrik dat Hy die hele tyd aan hulle dink.

Hiervoor moes die priesters se klere met groot sorg en noukeurigheid gemaak word.  Net die beste materiaal en bykomstighede en die kundigtse vakmanne is ingespan.  Hulle moes ook edelstene op die klere monteer met die name van elke stam daarop.  

Met hierdie klere aan het die priester in die heiligdom diens gaan verrig en die Here daarmee altyd aan sy volk herinner.  Die feit dat elke stam se naam op die edelstene monteer is, wys daarop dat die Here ook by elkeen persoonlik betrokke is wanneer Hy sy liefde betoon. 

In Openbaringe gee die Here ook aan sy kerk wit klere waarmee hulle sy koninkryk ewig binnegaan. As klere belangrik is, hoeveel te meer sal die Here nie aan my alles skenk wat vir liggaam en siel nodig is.

Dors vir meer:

Num 10:1-10, Op 21:9-27

Gebed

Vader, dankie dat U my elke oomblik bewaar en beskerm.  Dankie dat ek vir U so kosbaar is. Amen

NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding.

Petrus van Blerk

0824560235