Skrifgedeelte: Dan 1:1-21 Teks wat tref: v 15,17
Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel
Skrifgedeelte: Dan 1:1-21 Teks wat tref: v 15,17
Daniël en sy vriende word as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer. Hulle word aan die vreemde praktyke en gewoontes van ’n koning wat God nie erken, onderwerp. Hulle word van hul identiteit gestroop wanneer hulle ander name kry. Alle bande met hul verlede word verbreek. Selfs hulle eetgewoontes moes verander. Met Covid 19 is meeste mense tuis en het etenstye en eetgewoontes sekerlik verander.
Die proefneming met die kossoorte wat Daniël en sy vriende moet eet, lei daartoe dat hulle ver bo die ander gevangenes uitstyg. Hulle ontvang verstand, insig en wysheid in so ’n mate dat die vreemde koning hulle onverwyld in top poste aanstel.
Tog was dit nie hulle dieet wat hiervoor gesorg het nie. Alhoewel die regte en gesonde voedsel belangrik is, was dit eerder hulle vertroue op die Here wat hulle onderskei het. Hul toewyding aan God was so belangrik dat hulle bereid was om hul eetgewoontes aan te pas om te wys dat die Here in alles voorsien. Die huidige tydgreep waarin ons lewe vra ook verandering van gewoontes en gebruike waaraan ons gewoond was.
Om in ’n lewende verhouding met die Here te staan, is veel belangriker as dit wat ek eet en drink. Daniël en sy vriende se gehoorsaamheid aan God lei daartoe dat hulle tien maal beter as al die ander towenaars en voorspellers is.
Vandag berei die Here ons ook voor om op ’n bepaalde plek in sy diens te gebruik. Benewens dit wat ek in sy Woord leer, sorg Hy ook vir die regte dieet, sodat ek met onderskeiding kan optree.
Dors vir meer:
Mt 6:25-34
Gebed
Onse Vader, gee aan my my daaglikse brood en leer my bereid om voluit op U te vertrou. Amen
NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding.
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply