Skrifgedeelte: Jh 13:1-17 Teks wat tref: v 4
Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel
Sal ek bereid wees om die werk van ’n slaaf te doen? Die meeste mense sê dat hulle hiertoe bereid is. Maar wanneer die taak uitgevoer moet word, is daar baie verskonings en deins ons vinnig terug.
Jesus se woorde was veel meer as lippetaal. In vers 1 beklemtoon die Here sy liefde vir sy mense en in vers 4 bevestig Hy dit met konkrete dade. Dit is ironies dat die Koning van die wêreld, nie terugsit en ’n maaltyd geniet nie, maar met ’n konkrete daad sy onvoorwaardelike liefde bewys. ’n Koning doen die werk van ’n slaaf.
Om die gaste se voete te was, is een van die take wat gewoonlik aan die geringste slaaf opgedra was. Weens die stowwerige paaie, moes die gaste eers hul voete was voordat hulle aan die etenstafel kon aanlê. Sonder die ritueel kon die ete as’t ware nie begin nie.
Jesus neem inisiatief en begin om sy dissipels se voete te was. Dit was ook simbolies daarvan dat Hy met sy bloed hulle hele liggaam gewas het. Hy het ter wille van ons alles verduur en is selfs verneder sodat ons aan die maaltyd van die Here in die hiernamaals kan aansit.
Christus se nederige optrede verseker aan my ’n ereplek. Maak jouself gereed om ook jou naaste se voete te was. In die nadraai van Covid 19 sal daar vele geleenthede kom waar ek diensbaar kan wees. Maar vandag kan ek ook my hande in gebed saamvou en aan soveel mense dink wat beïnvloed word deur die virus.
Nederige hande beteken eintlik ’n verhoogde plek saam met Christus.
Dors vir meer:
Mt 14:13-21
Gebed
Maak my in hierdie wêreld diensbaar en bereid om U met my hele lewe te verheerlik. Amen
NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding. Ons neem beurte met die dagstukkies. Besoek ook Gereformeerde Kerk Rietvallei se Facebook- of webblad vir meer inligting.
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply