Skriflesing: Jesaja 1:21-31.

Vers wat Tref: Jesaja 1:27-28

Jesaja se tweede oordeelsaankondiging is teen Jerusalem.  Teen die stad en sy leiers en almal wat daarin is.  Is ons daarby ongesluit?  Sou hierdie ook van Pretoria en ons land gesê kan word?  Waar is die reg, hier is dan net korrupsie.

Ek kla graag oor my land. Wie sal ek blameer? Die staat? Ja. Die munisipaliteit? Beslis. Die ander in my buurt? Definitief. Myself? Nooit!

Ja, ek het nie beheer oor alles nie. Kan ek die hele land bekeer? Maar wat kan ek doen?  Ek kan begin by my daaglikse werk, by my gesin, by my gemeenskap en die klippie al wyer laat uitkring.

Vanoggend, elke dag word ek opgeroep om my te bekeer.  Jesaja preek nie hier vir ander nie, maar vir my. 

Die Here roep my as Sy kind om elke keer weer terug te draai!  Want waar is my vertroue?  Waar is my vreugde?  Binne ʼn maand het die Here alles waarin die wêreld hulle vertroue en vreugde stel weggevat.  Sport en sangsterre oorheers nie die aandag nie.  Dobbelhuise en kroeë is toegemaak.  Geldmarkte het in duie gestort. Besighede wat op korrupsie gebou is gaan inmekaar tuimel. As dit jou hoop was, dan is jy nou verpletter.

Herstel kom eers as daar afgebreek is.  So stuur die Here die oordeel op Jerusalem om te verpletter, maar ook om vry te maak.  Om te bekeer vra van my om alles af te breek.

Afsterf is opstaan! Hartlike berou word dan hartlike vreugde.

Haat vir die sonde is liefde vir God. Wegvlug van die sonde is ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Hoe begin ek vandag met my daaglikse bekering? In my binnekamer. By my huwelik.  By my gesin.  By my werk. By my klasse. Met my studies. Hier dien ek Hom van harte!

Met hierdie gedeelte vanuit Jesaja herinner die Heilige Gees my: “Jy is myne,

Ek het jou gekoop met die bloed van Christus!” Dit werk in my ‘n liefde

vir my God. Liefde vir God en liefde vir my naaste. Ek wil my Eienaar ken deur Sy

Woord te bestudeer. Meer nog, ek wil Hom dien, ook in my bediening van ander!  Die Here het my hier geplaas in hierdie buurt, in hierdie stad, in hierdie land en in hierdie tyd van vandag.

Ek sal my bekeer!  Ek sal ander oproep tot bekering!  Ek sal die reg en geregtigheid van die Here uitleef in my omgewing en Sy liefde verkondig en uitleef!

My vertroue is in die Here wat my gemaak het en duur gekoop het!

Dors vir meer:

Markus 8:34-38 en 1 Johannes 1.

Gebed

Hemelse Vader, dankie vir u liefde en versorging.  Mag ek altyd U woord hoor en luister! Dankie dat U in beheer is en ek altyd op U kan vertrou.  Laat U wil geskied! Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.