Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe om ons vrese te oorkom deur na God te luister, weerbaar te wees en voorbereid op te tree.
Skrifgedeelte: Matteus 16:13-23 Fokusgedeelte: Matteus 16:18
Jesus se bediening bring toenemende konfrontasie. Nie net van sy aanvallers nie maar ook van die dissipels. Hulle is in Sesarea-Filippi, waar baie afgode gedien is. Jesus se naderende dood en sy posisie bring talle vrae. Hy vra die dissipels wie Hy is en kry uiteenlopende antwoorde. Sy vraag is belangrik om hulle vir die toekoms voor te berei
Dit het nou tyd geword dat Jesus seker maak dat almal beleef hoe God in beheer van alles en ook van sy kerk se geskiedenis is. Hy is die Christus – die een wat verlossing bring. Teenoor Hom is die Satan wat ons Here se kerk wil vernietig. Te midde van hierdie stryd verseker Hy ons dat die magte van die hel die kerk nie sal oorweldig nie. Tog bly dit moeilik om hierdie trooswoorde te verstaan as ons daagliks aanslae beleef. Wat gaan die uiteinde van die Corona virus wees?
Dit is die eerste keer dat die woord “kerk” in die Nuwe Testament gebruik word vir gelowiges. Die beeld van ʼn rots is reeds uit Psalm 18:2 bekend en dui op die fondament Christus, waarop die kerk gebou word. ʼn Rots het die betekenis van skuilplek en veilige vesting. Hierby volg die verdere vertroosting dat die magte van die doderyk die kerk nie sal oorweldig nie.
Hierna beskryf Jesus hoe geweldig groot die stryd tussen lig en donker sal wees as Hy selfs vir Petrus vermaan. Die beeld van die sleutels, as simbool van gesag en om mee te beheer, maak dit duidelik dat ons eindbestemming ʼn saak van lewe en dood vir die Here is. Hy beheer alles.
Daagliks ervaar ons wat dit beteken dat die magte van die doderyk ons nie sal oorweldig nie. Ons word deur Christus, die Seun van die lewende God beskerm.
Dors vir meer:
Op 20:11-15
Gebed
Dankie Here dat ons in hierdie uitdagende tye kan weet dat U ons beskerm. Dankie dat U te midde van onsekerhede vir ons ʼn Rots is sodat ons stewig kan vastrap. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235