Skriflesing: Jesaja 6
Vers wat Tref: 6:9
Jesaja 6 begin met hierdie bekende visioen waar hy die heerlikheid van die Here wat op sy troon sit aanskou, met die serafs wat die Here se heiligheid uitroep en dat Sy heerlikheid oor die hele aarde is. (Kyk weer na Dagstuk 31 Maart).
Vandag kyk ons na die mindere bekende deel van hierdie hoofstuk. Jesaja besef sy onreinheid voor die Here en dat hy woon onder ʼn volk wat onrein is. Een van die serafs neem ʼn gloeiende kool en raak sy lippe aan en bevestig dat Jesaja se oortredings vergewe is, sy sonde versoen is (vers 7). Wat is Jesaja se reaksie hierop? “Hier is ek, stuur my Here.”
Sonder om een oomblik te huiwer, is Jesaja gereed om in dankbaarheid ʼn dienskneg te wees om die boodskap van die Here te verkondig.
Hierdie boodskap is glad nie wat Jesaja verwag het nie, daarom vra hy dan ook: “Tot wanneer Here?”
Moontlik het Jesaja verwag dat die Here gaan sê duisende gaan na die boodskap luister, die hele land gaan op eenslag tot bekering kom (soos Jona vir Nineve die boodskap gebring het).
Jesaja word gestuur om vir die volk te sê dat hulle hoor en niks verstaan nie, kyk en niks sien nie. Nog meer, hy moet hulle traag van begrip maak, doof en blind, sodat hulle nie bekeer en genees word nie. Hoor ons hier reg? Die volk moenie tot bekering kom nie? Hulle en die land moet eers verwoes word en die land in ʼn puinhoop omskep word.
Jesaja se prediking sal bevestig dat hulle nie wil bekeer nie (vgl. Mt. 13:11-15). Hulle sal reageer soos hulle deurgaans was: mense sonder begrip of verstand, mense wat nie wil hoor of sien nie. Dit leer ons ook in die Nuwe Testament. Die oordeel en toorn van die Here is daar waar die Here die mense oorgee aan hulle begeertes en dwaashede om te wat hulle wil doen (Romeine 1:23-24).
Alles gaan tot niet gaan. God gaan vernietig, God wil vernietig.
Maar nogtans is alles nie duisternis nie. Jesaja moet bly optree en die verwoesting gaan kom, dit gaan nie gekeer word nie. Maar die Here laat ʼn stomp oorbly. In Hoofstuk 11 voorspel die Here ʼn wonderwerk wat vanuit hierdie stomp na vore gaan kom. Sy verbond en raadsplan is nie verby nie.
God voer sy plan uit te midde van ʼn koppige volk (Lees gerus hoofstuk 5 oor die beeld van die wingerd). Daar is nie ‘n maklike evangelie of goedkoop genade nie. Almal gaan nie gehoor gee aan die boodskap van die Here nie. Vir party is dit ʼn doodsreuk (2 Korintiers 2:14-16). Maar die Here het nog steeds ʼn plan en die tyd wat Hy vasgestel het moet eers verloop.
Uit die stomp kom daar ʼn nuwe begin, nuwe lewe. Uit die stomp stuur Hy vir Jesus Christus, sy Seun.
Met Christus se koms was daar ook nie kortpaaie nie. Die evangelie laat ons nie by Goeie Vrydag verby jaag na die oorwinning van die opstandings nie en die hemelvaart nie.
Nou moet ons ook eers die beproewings van die hede beleef voor die heerlikheid van die ewigheid.
Daarom moenie ons Covid-19 net verby wens nie. Die Here stuur dit ook binne sy raadsplan, ons moet eers deur die beproewing van die hede leef, voor ons die ewige heerlikheid gaan beleef!
Maar laat ons opnuut bewus wees wie is die Here wat ons roep en stuur- al is die hele wêreld se ore en oë toe. Dank die Here dat Hy ons oë, ore en verstand oopmaak vir sy Woord!
Dors vir meer:
2 Korintiërs 3 en Handelinge 28:16-31.
Gebed
Here die Almagtige. Drie maal heilig is U Naam. Dankie dat ons u heerlikheid mag aanskou en beleef oor elke deel van ons lewens. Dankie dat u ons kragtig in ons werk deur U Heilige Gees. Dankie dat ons U kan ken en ons harte en verstand geopen is. Lei ons vandag deur U genade. Amen
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply