Skriflesing: Jesaja 3:13-4:6. Vers wat Tref: Jesaja 3:13 en 4:4.
Jesaja 3 gaan voort met die louteringsoordeel oor die volk. Lees jy meestal net verby hierdie gedeeltes? Die Here het ʼn plan met hierdie oproepe en oordeel. Weereens kry ons die beeld van ʼn regsaak waar die volk skuldig staan en die Here oordeel. Die volk se sondes word vir hulle openlik genoem en uitgewys.
Nie net die leiers se verdrukking en vertrapping word beskryf nie, maar ook die vroue wat deel in hierdie korrupsie. Hulle vertrou en maak staat op die uiterlike dinge wat vir hul “skoonheid” gee en dit maak hulle hoogmoedig. Hierdie status gaan drasties en vinnig verander. Hulle gaan geweldige verlies, ontbering en vernedering beleef.
Die modeskou verander drasties, die spoggerige vrou is ‘n stinkende gebrandmerkte geboeide slaaf in sak geklee (treurende) en kaalkop geskeer (teken van rou en skande). Dit dui op die uiterste armoede, gebrek en skande van die krygsgevangenes wat weggevoer gaan word in ballingskap.
Die Here se raadsplan is groot! Hy wys nie net die oordeel nie, maar maak ook Sy verbondstrou vir die toekoms, na die ballingskap. Daar gaan wonderbaarlike herstel wees, vrugbaar en vol vreugde! ʼn Takkie wat uitspruit sal majesteit en heerlikheid wees vir die oorblyfsel van Israel. Elkeen wat vir die lewe opgeskryf is, sal heilig genoem word. Die Here sal hulle onreinheid afwas. Die Here se teenwoordigheid gaan in Jerusalem sigbaar wees soos destyds met die uittog uit Egipte. Hy sal vir hulle die beskerming en beskutting wees (soos wat ons sing in Psalm 91 en 121).
In hierdie twee hoofstukke vind ons weer die teenstelling van lewe en dood. Die goddeloses kry oordeel en dood, maar die wat die Here uitverkies, lewe en vryspraak. Hierdie profesie dui in die eerste plek op die ballingskap wat sou kom en die herstel wat die Here sal bring, maar ook na die verlossing wat Jesus Christus bring. So het daar uit Jerusalem hierdie “Takkie” uitgespruit na die hele wêreld. Hy gebruik sy Gees wat oor almal is wie se naam in die boek van die lewe staan. Elkeen wat gereinig is deur die bloed van die Lam (Openbaring 7:14).
Wat leer jy uit hierdie gedeelte vir vandag? Die bekering en oordeel oproep is ook vir jou vandag. Voortdurend moet jy jouself ondersoek en afvra: Is my lewe nie dalk ook soos een van hierdie vroue van Jerusalem of soos die leiers nie? Waarin is jou vreugde en wat jaag jy na?
Wonderlik hoor ons nie net die beloftes in Jesaja 4 nie, maar beleef hoe die Here dit in Jesus Christus vervul het! Ek is reingewas deur die bloed van Christus, lewe in die teenwoordigheid van die Here en sy Gees is saam met my! Ek kan uitsien na die ewige nuwe Jerusalem waar ek altyd saam met die Here gaan bly!
Dors vir meer:
Jeremia 23:1-8 en Psalm 91.
Gebed
Enigste Here. Dankie dat U ons geheilig het en afsonder vir U. Dankie vir U teenwoordigheid oor ons deur U Heilige Gees. Lei ons om ons te bekeeer van enige sondes wat ons nog probeer wegsteek. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply