Skrifgedeelte: Jos 18                                  Teks wat tref: v3

Tema vir die week: Geloofslesse vir liggaam en siel

Na 29 dae van die Inperking as gevolg van die Covid 19 pandemie is daar verwagtinge dat die situasie moet verander.  Benewens die impak van die siekte word die ekonomie en sosiale welstand van baie beïnvloed. 

In die laaste  dagstuk van hierdie reeks ontmoet ons die volk by  ’n groot volksvergadering in Silo waar Josua by die volk wou weet waarom hulle so lank talm om die verowerde gebiede te beset.  Die volk het nou reeds vir veertig jaar deur die woestyn gereis en eindelik die land wat die Here aan hulle beloof het binnegegaan.

Tog is daar ’n sekere deel van die volk wat hierdie hoogtepunt nie ewe entoesiasties beleef nie.  Hulle talm om dit wat die Here gegee het in ontvangs te neem.  Daar is ’n gebrek aan gebrek aan ywer en entoesiasme.  ‘n Trae onsekerheid in hul optrede is sigbaar. 

In vele opsigte ervaar ons vandag ook hierdie tendens. Juis nou met die Covid 19 pandemie is dit belangrik om te bly fokus en deeglik perspektief te hou.  Ons mag redeneer dat hulle teen hierdie tyd darem al moeg kon gewees het van die lang reis deur die woestyn. 

Maar die Here gee ’n pragtige oplossing.  Josua stel onmiddelik ’n aksieplan op.  Drie man uit elke stam kry ‘n duidelike opdrag om die land te verken.  Die werk word  in kleiner dele opgedeel  as dit te groot is.

Laat alles wat gedoen moet word in die teenwoordigheid van die Here geskied. 

Die Here verlang die volgende:

  • Tree doelgerig op.
  • Stel aksieplanne op.
  • Gee tydsafbakening en sperdatums waarbinne elke huishouding hul aktiwiteite en dae beplan. 

Al weet ons nie hoe die toekoms verloop nie, bly die opstanding van Christus ons hoop gee.

Ons beplan en dagboek alles – Waarom dan nie juis nou nog meer ook ons geloofslewe nie?

Dors vir meer:

2 Kor 6:1-13

Gebed

Gee aan my die moed om doelgerig te lewe en elke oomblik voluit te gebruik. Amen

NS – Neem asseblief vrymoedigheid om ons predikante te skakel vir verdere gesprek en pastorale begeleiding. Ons neem beurte met die dagstukkies. Besoek ook Gereformeerde Kerk Rietvallei se Facebook- of webblad vir meer inligting.

Petrus van Blerk

0824560235