Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe om ons vrese te oorkom  deur na God te luister, weerbaar te wees en voorbereid op te tree.

Skrifgedeelte:   Jeremia 2:1-13  Teks wat tref:  v 13

Wat is die grootste bekommernis wat u beleef?  Dit wat dalk al jou energie tap of jou totaal moedeloos maak?  Die volk Israel ervaar dit ook – Gebarste waterbakke wat nie water hou nie.

Vir ‘n tweede maal gaan Jeremia die volk aanspreek . Eers beklemtoon hy die besondere verhouding waarbinne hulle met God staan. Daarna  word die pragtige digterlike taal onderbreek met ’n klagskrif in vers 4. Die bruid word gekonfronteer met ‘n  harde uitspraak.  Daar is huweliksontrou en die bruid verloor haar waardigheid. Sy het van die Here af weggedraai.

God formuleer ‘n klagskrif om hulle tot besinning te roep (vl3):  “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie”.   Die gevolge is rampspoedig. Hul dors word nie geles nie. Hulle swoeg tevergeefs.   Dit is so ingrypend dat selfs by die heidense volke so iets nog nooit voorgekom het nie.  Hulle kies gebarste waterbakke wat niks kan hou nie ten gunste van die Beloofde Land met volop strome, fonteine en putte. 

Kort voor lank het die water verdamp, deur die skeure in die rotse weggesypel,  troebel en modderig geword.  Daarteenoor is God die lewende waterbron wat versorg, voorsien, laaf, verkwik en reinig: (Jh 4:14,Op 21:6 )

Maar, dit is nie net Israel wat sy God verlaat het nie!   Dit is byna onmoontlik dat iemand die bron van lewende water vir ‘n gebarste waterbak sou verruil.  En tog is die optrede oral sigbaar.  Ons verruil die Here ook dikwels en soek ons eie heil.  Gewoonlik tot groot frustrasie en spanning.   Ons moet na die Here terugkeer.  Dit vra ‘n belydenis dat Christus en net Hy alleen versoening bring. Dit vereis ‘n ware skuldbelydenis.

Met sy bloed het Christus verseker dat ons nie weer sal dors kry nie. Daar is geen ander manier – net God is die Bron van die lewende water.

Kom bely jou sonde en drink van die lewende water wat God gee!

Dors vir meer:

Ps 36:9, Op 22:1,17

Gebed

Baie dankie Here dat U in ons behoeftes voorsien. Leer ons om nie in ons sonde te volhard nie.  Voed ons met strome lewende water.  Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235