Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe om ons vrese te oorkom deur na God te luister, weerbaar te wees en voorbereid op te tree.
Skrifgedeelte: Levitikus 6:8-13 Teks wat tref: v 15
Die talle offers in die Ou Testament word alleen reg verstaan as ons God se bedoeling daarmee raaksien. Elke offer was ‘n gawe aan God uit dank vir alles wat van Hom ontvang is. Verder dien dit ook as uitdrukking van lof, ootmoed en berou. In Levitikus 6 word die betekenis van die brandoffer duidelik as dit die volk moes herinner dat:
- Hulle voortdurend en aanhoudend tot God moet bid
- Die vuur simbolies van God se teenwoordigheid, beskerming en bewaking is.
- Dit ‘n teken van absolute toewyding aan God was (die hele dier is verbrand in teenstelling met ander soorte offers waar net seker dele op die altaar gebring is)
- Hulle gesindheid teenoor die Here reg moet wees (uiterlik word dit bevestig deur die verskillende klere wat die priester moes aantrek)
Verder beveel die Here dat die vuur op die altaar nooit mag doodgaan nie. Daarvoor moes die priester twee maal per dag nuwe hout opsit en die as verwyder en op ‘n rein plek buite die kamp bring. Baie klem word op die vuur geplaas. Selfs as die priester buite die kamp was, moes hy verseker dat die vuur aanhou brand. Solank as die brandoffer in stand gehou was, het dit die volk aan God se teenwoordigheid herinner.
In my daaglikse geloofsbelewenis moet ek so optree dat die ywer vir God in my hart ‘n brandende vuur is. Op sigbare wyse moet ek my dienswerk aan die Here opdra en my offers betaal. Nooit mag ek verslap nie, maar met verantwoordelikheid moet die vuur aan die brand gehou word deur offervaardigheid. My geloofsbelewenis moet sigbaar wees!
Met Christus se opstanding het Hy verseker dat ons altyd in God se teenwoordigheid is.
Dors vir meer:
1 Tes 5:16-22 (OAV)
Gebed
Baie dankie Here dat U Heilige Gees kragtig in ons werk. Leer ons om nooit met ons optrede die Gees uit te blus nie. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply