Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe om ons vrese te oorkom deur na God te luister, weerbaar te wees en voorbereid op te tree.
Skrifgedeelte: Numeri 13:1-32 Teks wat tref: v 2,13
Ons het almal ‘n vrees vir iets in ons lewe soos klousterfobia (nou ruimtes), aragnafobia (spinnekoppe), hidrofobia (water) en sommer ‘n vrees vir die donker, ‘n plek of iemand. Die uitbreek van Covid 19 en die gepaardgaande sterftes, onsekerhede en die onbekende bring nog vrese.
Die volksleiers in Num 13 het weer ‘n vrees vir die grootte van hul vyande gehad. Daarom rapporteer die meerderheid dat die inwoners van die Beloofde Land te sterk is om te oorwin. Net twee van die verspieders sien kans om hulle te gaan aandurf. Hoe is dit moontlik dat dieselfde groep wat die land verken het, twee uiteenlopende weergawes na Moses terugbring?
Ons dink ook maar aan ons eie optrede. Mense beleef en ervaar gebeure verskillend. Daar is optimiste, pessimiste en realiste. Toe Moses opdrag gee dat die land verken moet word, was die volk heeltyd bewus van God se mag en teenwoordigheid. Hy het die Egiptenare laat verdring in die Rooisee en die volk veilig daardeur gelei. Hy het telkens aan hulle kos en water en redding gegee.
En ‘n oomblik later is die mense in Kanaän daarvoor verantwoordelik dat vrees hulle beetpak – v28: “Maar die mense wat in die land woon is sterk en die stede is versterk en baie groot ”. Skielik het die mense wat hulle sien “groter” as God geword. Vrees lei daartoe dat die volk nie meer God se beloftes sien nie. Hulle is bang vir hul vyand.
Hoe gebeur dit dan daar so ‘n groot meningsverskil tussen die verkenners ontstaan? Die een groep vertrou op die Here terwyl die ander op eie insigte staatmaak. Dit is die les wat Numeri 13 wil leer.
Leer om deur God se oë na alles te kyk. Gebruik God se beloftes om jou teen die vyand weerbaar te maak. Kaleb se woorde in vers 30 spreek hiervan.
“Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan dit doen.”
Sy optrede hierna bewys dat hy volkome vertrou het. Hy sien dieselfde situasie as die ander, maar vanuit God se perspektief.
Dink jy groot of klein van God? Die volk het gevrees dat hulle sou misluk in hul optrede en wou daarom nie teen die vyand optrek nie. Hulle het hulself as sprinkane beskou. Daarteenoor het Kaleb het die Here vir ‘n oorwinning vertrou. Hy het nie die vyand gevrees nie.
Bring alles voor die Here en Hy sal jou onderneminge laat geluk (Spreuke 3:6) Met Christus se kruisdood is elke vyand oorwin. Hoe groot is God in jou lewe?
Dors vir meer:
Jes 41:13-16
Gebed
Here, baie dankie dat U in hierdie tyd van beproewing ons versorg en bewaar. Neem die twyfel en vrees in ons harte weg. Leer my om seker en vasberade te leef. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply