Skriflesing: Hebreërs 11:1-22.
Vers wat Tref: 11:1 en 11:15-16.
“Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Waarvan kan jy vandag seker wees? Niemand kan met sekerheid sê hoe die toekoms gaan lyk nie, wat gaan volgende gebeur. Niemand weet hoe die Covid-19 gaan uitspeel nie, ook nie met die al die reëls van die inperking nie. Nie eens die regering is seker nie, weekliks word regulasies weer verander.

Met geloof het jy die sekerheid van die toekoms. J is seker van die dinge wat jy hoop. Geloof is vir jou die bewys van dit wat jy nog nie nou al kan sien nie.
Wat hoop jy, waarvan is jy seker? Die Here is in beheer en stap met jou ʼn pad. Maak nie saak die omstandighede nie, hoe deurmekaar en moeilik dit lyk nie. Die Here gebruik dit alles in Sy Raadsplan tot en met die wederkoms van Jesus Christus.

Die Hebreërs brief noem ʼn lys van geloofshelde- persone wat in hul geloof volhard het, sonder dat hulle die nabye toekoms kon gesien het, maar op die Here vertrou het.
Kyk na die voorbeeld van Abraham. Die Here roep hom en beloof aan hom en sy nageslag ʼn nuwe land- ʼn nageslag so groot soos die sterre aan die hemel. Abraham volg die Here in die geloof- hy weet nie hoe lyk die land nie, hy self het geen kind nie, maar in die geloof kan hy seker wees van God se beloftes. Nie omdat sy geloof so groot en sterk is nie, hy het baie maal ook getwyfel, maar omdat die Here so groot is.
Abraham se geloof was nie gefokus op die tydelike en die aardse nie- hy het maar in tente gewoon in die beloofde land. Maar hy het die toekoms gesien van ʼn stad wat die Here self bou en oprig. Hy het nie verlang na sy vaderland nie, maar na ʼn beter vaderland, die hemelse verlang.

Jy moenie net vaskyk teen die aardse om ons nie. Ja, in hierdie tyd en in Suid Afrika het die Here vir jou ʼn spesifieke opdrag en doel wat jy in geloof moet uitvoer. Jy verlang na nie ʼn lewe voor Covid-19 nie, maar verlang na die hemelse vaderland waarna jy met groot blydskap uitsien.
ʼn Vaderland waaraan jy deel het omdat jy deur Jesus Christus as kind van God gereken word. ʼn Verlange en sekerheid wat jy het omdat die Heilige Gees dit vir jou bevestig.

Daarom volhard in die geloof, gee nie jou geloofsvertroue prys nie. Hou by die riglyne wat die Here vir jou gee, maak nie saak hoe moeilik dit raak of al lyk dit of die wêreld op sy kop staan nie. Jy stem dalk nie saam met al die reëls en regulasies wat die regering instel nie, maar jy bly daarby (en skakel met die regering) omdat jy deur die ware geloof gehoorsaam is aan God

Mag jy opnuut deur die geloof die toekoms sien wat die Here vir vas en seker belowe. Jy het dit self makliker as die Abraham en die ander gelowiges in die Ou Testament, want aan jou is meer gegee oor die pad wat die Here beplan.
Volhard in die geloof!

Dors vir meer:
Heidelbergse Kategismus Sondag 7 en 2 Petrus 3.

Gebed
Ek loof en pry u Here! Lei my om te volhard in die geloof. Versterk my opnuut met U woord en met U Gees. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.