Skriflesing: Jesaja 8:5-22
Vers wat Tref: 8:13.
Koning Agas en die volk het nie na die Here gesoek nie. Hulle stel hulle vertroue op ander volke en raadpleeg mediums, probeer die dooies oproep. Hulle vrees nie die Here nie en raadpleeg nie die wet en getuienis van die Here nie. Dit wat duidelik gegee is, bly hulle weg van en vertrou op die onsekere.
Omdat die volk die kalm water van Siloag (die fontein wat water aan Jerusalem verskaf het) verwerp het, gaan hulle die vloedwater van die Here se oordeel beleef. Die oordeel wat die Here stuur eindig dan in vers 10 met die getuienis “Immanuel-God is by ons”. God is by die volk ook in sy oordeel.
Jesaja bring nog ʼn boodskap, hierdie keer aan die wat wel op die Here vertrou. Hulle hoef nie in paniek te lewe nie- hulle moet wag en hoop op die Here. In Jesaja se omstandighede bly hierdie ʼn moeilike pad om te stap – die res van die volk vrees nie die Here nie- die vernietiging gaan kom.
In die krisissituasie is die Here die lewensdraad waaraan jy moet vashou. Jesaja en sy volgelinge kan nog steeds leef in die verwagting dat die Here ‘n uitweg, ‘n nuwe en ander deur sal voorsien. Te midde van die rokende stomp van die buurlande se vuur, en die vloedwaters wat tot aan die nek raak, van die Assiriese leërmag, van elke eeu, die gejaag na besittings, en die verwarring oor wie god is, is die draadjie van hoop in wie God is.
Hoe moet hulle die Here aanroep? Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hom moet julle bang wees. Vir die wat op die Here vertrou is Hy die veilige beskutting, maar vir die ander is Hy ʼn klip waarteen jy stamp, ʼn rots waaroor jy struikel, verpletter word.
Die Here verberg Hom vir die nageslag van Jakob (vers 17), maar nogtans kan Jesaja op die Here bly hoop en vertrou. Die Here gebruik hom en sy gesin as lewende getuies van die Here die Almagtige! Hy bly by die wet en die getuienis van die Here, daarom het hy ʼn toekoms.
Het jy nog ʼn toekoms? Wie se voorbeeld volg jy na? Roep die Here aan as die Almagtige, die Heilige! Soek sy wet en getuienis wat ons kry in die Woord. Maak nie saak hoe groot die donkerte om ons is nie, vandag stap ons die pad van geloof, ons eer die Here. Wees ʼn lewende getuie van die Here die Almagtige!
Dors vir meer:
Psalm 46 en Handelinge 10:34-48.
Gebed
Here my Here. Ek eer U as die Heilige, die Allerhoogste! Dankie dat ek in die geloof wat U gee, in alle omstandighede op U kan vertrou. Lei my om ʼn getuie en ligdraer te wees in hierdie besonderse tyd in ons land. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply