Author: Karen de Lange (Page 12 of 33)

Dagstuk 19 Maart 2021 ʼn Oop gemoed

Skrifgedeelte: 2 Kor 7:1-16    Teks wat tref: 2 Kor 7:13

2 Kor 7:13  – “Juis daarom is ons nou so bly.  Ons is nie net bemoedig nie, maar ook besonder bly dat Titus so gelukkig is: julle almal het hom gemoedsrus gegee.”

Na die worsteling van Paulus in 2 Kor 6 waarin hy die lesers opgeroep het om hul harte oop te maak en om ʼn oop kop te hê, is dit gepas dat hul nou blydskap ervaar. Ons kan ons maklik met die versoek in vers 2 vereenselwig. As iemand vir jou plek in hul harte maak bring dit gemoedsrus en vreugde.  Ten spyte van al die ontberinge wat hul moes beleef is daar blydskap en vreugde.  Paulus  is trots, vol moed en oorstelp van blydskap.

Alhoewel ons soms deur allerlei gebeure en omstandighede pyn en seer beleef en van alle kante druk ervaar, verander ons omstandighede ingrypend wanneer God ons opbeur.  Noudat alle druk verdwyn het, verander Paulus se hart en denke.  Wanneer God die swaar las van die aanvalle van buite en sorge van binne (2 Kor 7:5) vir ons wegneem, verander alles meteens.  

Alles wat gebeur maak Paulus blyer. Daar is ʼn openhartigheid en vergewingsgesindheid waarbinne hul mekaar met ʼn oop gemoed vind.  Die onderlinge verhouding is herstel deurdat God redding en bekering gebring het.  Die troebel water waarin hul moes leef verdwyn en met die oop en rustige gemoedere is daar nou erns, verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. 

Die gemoedere is herstel en binne hierdie verhouding gee elkeen vir mekaar om. (2 Kor 7:12) Hulle is bemoedig en beleef geluk. Hulle gee aan Titus gemoedsrus.  Hierdie verhouding kring verder en verder uit. Paulus spog met Titus, hulle praat onder mekaar die waarheid en ontvang mekaar met eerbied en ontsag. 

Net ʼn oop hart, oop kop en oop gemoed kan ons van vrede en vreugde verseker as ons die druk van alle kante ervaar. 

Die gemoedsrus van een persoon (Titus) het die omstandighede van Paulus en sy reisgenote verander.  Met die sterwe en opstanding van een mens, Jesus Christus, het my omstandighede verander sodat ek in alle druk seker kan wees van gemoedsrus.  Christus het die dood oorwin en verdryf die onheil op my pad.  Deur God se Gees het ek nou ʼn oop gemoed en ewige rustigheid.

Leef so dat jy met jou optrede aan ander hierdie ewige gemoedsrus vertoon.

Dors vir meer:

Psalm 121

Gebed

Here, baie dankie dat U my opbeur as daar druk van alle kante kom.  Help my om my hart oop te maak en om met my optrede aan ander gemoedsrus te gee.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 17 Maart 2021 ʼn Oop kop

Skrifgedeelte: 2 Kor 6:14 – 2 Kor 7:1      Teks wat tref: 2 Kor 6:16b

2 Kor 6:16  – “Dit is soos God gesê het:  – Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

In 2 Korintiërs 6:1-13 het dit duidelik geword dat gelowiges dit soms moeilik vind om kop bo water te hou. Paulus word oneervol behandel, beledig en is bedroef en sterwend.  Baie mense  skep ‘n donker prentjie vir ons land en omgewing. Daar is die realiteite van werkloosheid, vrees, onvervulde verwagtinge en finansiële en ander nood. Daarom eindig vers 13 met die oproep dat ons ons harte vir mekaar moet oopmaak.

Vanaf vers 14 word nog ‘n realiteit van ons aardse bestaan uitgelig. In die warboel van omstandighede waarin ons daagliks voor keuses gestel word, is dit nodig om kop te hou. Paulus verwys na talle keuses waarmee ons daagliks gekonfronteer word.  Dit omsluit my hele lewe. Watter grense geld vir die verhouding tussen gelowiges en ongelowiges?  Bestaan daar grys areas tussen lig en donker as ek ʼn vennootskap aangaan? Is daar ʼn kompromie moontlik tussen Christus en die Satan (Belial)? Kan ons die christelike geloof met diens aan afgode gelykstel? (2 Kor 6:14-16) 

Die gevolge van die huidige omstandighede waarin ons vasgevang is, veroorsaak dat ons soms mag oordeel dat daar ʼn goue middeweg gevolg moet word. Die druk van alle kante en die toenemende eise van werkgewers en die lang ure van skoolwerk saam met die kinders doen, laat die vraag ontstaan of ons nie iewers kompromieë moet aangaan nie. Ons gedagtes is deur inperking en beperking so in ʼn doodloopstraat vasgevang, dat ons nou oop kop moet dink!

Paulus gee nie ʼn lys van watter optrede toelaatbaar sou wees nie.  Ons kry in v16 die beginsel waarvolgens ons alles moet beoordeel.-  “Ons is immers die tempel van die lewende God.” In die uitoefening van keuses moet ek daarmee rekening hou dat God deur sy Gees onder ons woon en wandel. Hierdie pragtige beeld beskryf die diepte van God se liefde vir sy kinders.  Hy woon by ons sodat ons veilig kan wees. Hy wandel (loop) saam met my sodat geen onheil my sal tref nie.  Met sy verbond het God ons aan Hom verbind om ons God te wees.  God se “ooreenkoms” met ons is so anders as dit wat die wêreld, satan, ongelowiges en afgode kan bied.  Daarom mag ons in geeneen van die wêreldse praktyke deel hê nie. 

Met die opdrag in vers 17 word dit duidelik hoe ernstig God hiermee is. Vlug daarvan weg en moet aan niks onrein raak nie!  Dit beteken nie dat ons ons nou in kloosters van die wêreld moet onttrek nie.  God verbied wel dat ons daaraan deelneem  en ons daarmee vereenselwig maar gebied wel dat ons die werke van die Bose moet ontbloot en aan die kaak stel sodat reg en geregtigheid sal geskied. 

Hiervoor moet ons ʼn oop kop hê. God noem ons sy kinders en woon en wandel onder ons.  Daarom sal Hy ons bewaar. Daarvoor leef ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toegewy.

Dors vir meer:

Psalm 40

Gebed

Here, baie dankie dat U onder ons woon en wandel.  Help my om kop bo water te hou as die duisternis en onheil my wil toevou.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 15 Maart 2021 – Maak julle harte wyd oop

Skrifgedeelte: 2 Kor 6:1-13     Teks wat tref: 2 Kor 6:13

2 Kor 6:13   – “……… maak julle harte ook wyd oop. ”

Die gebeure waarmee ons daagliks gekonfronteer word, bring soms verwarring, vrees en bekommernis. Groot onsekerheid bestaan oor die uitkoms van al die gebeure.  Onwillekeurig ontstaan die vraag of daar iets is wat ek in hierdie omstandighede kan doen. Aan  die einde van  2 Kor 5 gee Paulus ʼn besliste antwoord:…. jy is gesant van Christus en God gee aan jou kragtige wapens!

Hierin is die oplossing vir elke situasie. In stede daarvan om ‘n lang lys maak van sake wat aandag moet geniet, vra die Here net ons harte.  Nie beter tydsbeplanning nie. Nie ‘n ander fokus nie. Nie meer toewyding nie.  Jou hart bepaal jou lewe. Jou hart vorm jou gesindheid.  Jou hart weerspieël die inhoud van jou binnekamer. Paulus beleef aanvanklik dat die gemeente in Korinte se hart vir hom toe is. Hiervoor kan hy verskeie redes aanvoer. Leef jou vir ‘n oomblik in hulle situasie in: – Hulle word oneervol behandel, beledig en is bedroef en sterwend.  Baie mense  skep ‘n donker prentjie vir ons land en omgewing. Daar is die realiteite van werkloosheid, vrees, onvervulde verwagtinge en finansiële en ander nood.

Tog sien Paulus iets anders raak.  Hy begin nie te skryf oor die omstandighede nie. Ons moet leer om God se oplossing raak te sien – Wees geduldig.  Dit is nie ‘n maklike opdrag of ‘n kitsoplossing nie. Ons moet leer om op dit wat ons wel het, te fokus.  En die wonderlike is dat ons dit het. Ons is die gesante van God in die bepaalde situasie of plek waar God my gebruik. Luister weer as Paulus  verwys na dit wat ons alles het. Die  Heilige Gees skenk opregte liefde, die Woord van die waarheid en die krag van God. Dit is nie meer “ek” nie,  maar GOD wat my lewe beheers.  Soos Paulus dit in vers 7 beskryf: – “Ons wapen vir aanval en verdediging  is om die wil van God te doen.

Met my optrede leef ek onberispelik, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Paulus se gevolgtrekking is dat hulle alles besit en dat God ons deur alles dra. Maar dit lei noodwendig tot iets meer. Ons moet ons harte vir mekaar oopmaak. God skenk aan Salomo ʼn oop hart sodat hy met wysheid kan optree (1 Kon 4:29). Met die regte hartsingesteldheid motiveer ek ander om met entoesiasme te leef.  Met ‘n oop hart is ek blootgestel – ek steek niks weg nie. En as ek my hart op iets sit is daar resultate.  Ek gaan my tyd en aandag daaraan bestee. Dit word dan ‘n leefwyse.

Waarvan die hart vol is loop die mond van oor.  Vir wie gaan jy nou jou hart oopmaak?

Dors vir meer:

Ps 25 

Gebed

Here, baie dankie dat U ons harte van klip verwyder en vir ons in Christus nuwe lewe gee. Leer my om elke dag U wil te doen en om in alle omstandighede net op U te vertrou.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 12 Maart 2021- Water word deur sout gesond gemaak?

Skriflesing: 2 Konings 2:19-22.
Vers wat tref: 21. “Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daar ingegooi, met die woorde: “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.””
‭‭
Elisa was by toe die Here vir Elia in die hemel opgeneem het. Hy is as opvolger van Elia aangewys en op dieselfde dag waarop Elia weggeneem is vra die inwoners van Jerigo sy hulp. Kyk, die stad is op ‘n goeie plek geleë, maar die water is onvrugbaar en sleg. Sonder vars water kan daar nie groei plaasvind nie.
Elia gee die opdrag dat ‘n nuwe skottel gebring moet word.( ‘n skottel wat nie vir ‘n ander doel gebruik was of enige iets anders voorheen ingehad het nie). Verder moet hul sout in die skottel gooi. Elia neem die skottel en stap na die oorsprong van die water en gooi die sout daarin. Wat kan ‘n skottelvol sout doen om water gesond te maak? Te veel sout in water maak dit brak en onvrugbaar. Indien die sout kon gehelp het, sou dit die fonteinbron ook kon verander het? Daar sou net weer slegte water uitgekom het. Daarom sê Elia dit is nie hy wat iets doen nie, dit is die Here wat die water bruikbaar maak sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.
Die Here gee nie net ‘n tydelike verandering nie, tot vandag nog is die water bruikbaar. Die Here verander nie net op die oppervlakte nie, Hy verander die hele fontein.
So verander die Here ook ons harte. Die simptome van die sonde word nie net minder gemaak of tydelik aangespreek nie. Die Here verander ons heeltemal, ons is wedergebore. Die kliphart is uitgeruk en gee ‘n hart van vlees.
Die Here gee voortdurende en algehele verlossing van al jou sondes deur Jesus Christus.
Daarom is jy nou ‘n fontein wat nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie, maar vandag bruikbaar is in God se diens.

Dors vir meer:
Esegiël 36:22-38

Gebed.
Here, dankie dat U dooie harte lewend maak! Dankie dat ek gereinig is, nie deur sout nie, maar deur die bloed van Jesus Christus. Amen.

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 10 Maart 2021- Die sout en Dooie See word vars en lewend!

Skriflesing: Esegiël 47:1-12
Vers wat tref: Esegiël 47: 8b “Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word.”
‭‭
Een van Esegiël se laaste beelde wat hy ontvang is die beeld van lewende water wat vanuit die tempel vloei. In die dor woestyngebied verwag jy dat ‘n klein stroompie water deur die woestyn ingesluk moet word en spoedig ophou vloei. Hierdie fontein werk egter anders- vier keer word daar gemeet, en elke keer is die water dieper. Later is dit so diep dat Esegiël moet swem in die water. Orals waar hierdie water kom, kom daar groei en lewe. Selfs die dooie sout water van die Dooie See verander in vars water sodat daar lewe in oorvloed is. Jesus Christus is die stroom van lewende water(Johannes 7) Deur die Heilige Gees word dooie, stilstaande water verander na lewende water wat groei bring orals waar dit vloei. So gebruik die Here die kerk om die rivier en kanale te wees waardeur die lewende water vloei. Ons self skep nie die water nie, die Here gee dit. Elkeen probeer nie op sy eie te vloei nie, maar vanuit die Bron van die Lewe. Mag ons vanoggend opnuut die genade beleef van die Here waar sy woord lewe bring – dooie huwelike groei weer en bring vrugte, dooie verhoudings word lewend gemaak en bring vreugde, dooie doodsreuk verander in geure van lewe. Lewe op nuut vanuit die Bron van Lewe en bring lewende water in die woestyn wêreld.

Dors vir meer:
Openbaring 22:1-5.

Gebed.
Here, dankie dat U dooie harte lewend maak! Dankie dat U my gebruik om U woord aan ander uit te dra. Amen.

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 8 Maart 2021- Moenie omkyk nie.

Skriflesing: Genesis 19:15-29
Vers wat tref:
Genesis 19:26 “Sy vrou het egter omgekyk en sy het ‘n soutpilaar geword. “

Hierdie week kyk ons na 3 verwysings van Sout in die Ou Testament.

Vanoggend staan ons stil by die vernietiging van Sodom en Gomorra. In hoofstuk 19 lees ons maar net van ‘n paar van die sondige praktyke van Sodom en Gomorra. Hulle sonde het hard teenoor die Here uitgeroep, sodat die Here besluit het om die stede te verdelg. Daar kon nie eers 10 regverdiges in die stad gevind word nie. Die sonde van die stad was nie net sodomie nie, Jesaja 1:10-17 verwys na die sosiale onreg wat daar in die stad was. Esegiël 16:49-50 verwys na die materialistiese vergrype en uitbuiting van die armes. Lukas 10:10-13 verwys na ongasvryheid.

Lot en sy gesin het hul so in hierdie stad gevestig dat hulle deel geword het van hierdie gemeenskap. Lot kon vrylik in die stadspoort sit, noem die mense sy vriende/broers, sy dogters is verloof aan mans in die stad. Dit is nie vir hul maklik om weg te vlug van die stad (en die sonde nie). Nadat hul veilig in Soar gekom het, kyk Lot se vrou om en verander in ‘n soutpilaar. Hier word vir ons min beskryf oor hoekom sy omgekyk het, maar dit was sekerlik nie net uit nuuskierigheid nie. Heel moontlik is dit omdat sy terug verlang het na Sodom.
Maak ons nie ook so met die sonde waaraan ons verslaaf is nie? Ons weet in Christus is ons van die vernietiging verlos- die ewige dood en helse vuur. Maar hoekom wil ons soos ‘n vark weer in die modder gaan rol? Besef ons dan werklik hoe erg was die sonde is waarmee jy besig was? Besef jy dan werlik hoe groot die verlossing is waarmee jy vrygekoop is? Moenie omkyk en terug verlang na die sonde nie, maar bekeer ten volle en rig jou oë net op die Here.

Dors vir meer:
2 Petrus 2.

Gebed.
Here, dankie dat U my verlos het van U toorn en oordeel wat my toegekom het a.g.v. my sonde. Lei my dat ek nie omkyk nie, maar bly opkyk. Amen.

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 05 Maart 2021 – Maak oop die brief!

Skrifgedeelte: 2 Kor 3:1-17     Teks wat tref: 2 Kor 3: 3

2 Kor 3:3   – “Dit is tog duidelik dat julle ʼn brief van Christus is……….”

Soms is dit moeilik om die verloop van die lewe te begryp. Gebeure en omstandighede laat dikwels baie vrae ontstaan. Al hierdie vrae word nie noodwendig altyd beantwoord nie.  In die tweede Brief aan die Korintiërs beklemtoon Paulus Christus se verlossingswerk. Vervolgens kry ek ʼn ander  perspektief op die lewe. In die eerste twee hoofstukke word ons aangespoor om aan te hou om moed  te hou en wat die betekenis daarvan is dat ek saam in die Here se triomftog meegevoer word. 

In 2 Kor 3 skryf Paulus oor die gevolge hiervan. Deur Christus se liefde en die werking van die Gees word Paulus gebruik as ʼn lewende getuigskrif. Soortgelyk weerspieël my lewe my verbondenheid aan Christus.  Die Gees maak my bekwaam as bedienaar van ʼn nuwe verbond.  Hiermee beklemtoon Paulus dat hy vanuit homself geen gesag het nie en dat die Gees lewend maak.  Met die beeld van die letters wat op klip gegraveer is en doodmaak, beklemtoon  Paulus dat ons die Gees ontvang het wat lewend maak. 

Op grond hiervan is dit duidelik dat ons ʼn brief van Christus is!  Die eerste lesers in Korinte was goed bekend met briewe waarin ʼn persoon se deugde en oortuigings beskryf is.  In sekere gevalle het die destydse predikers self ook sogenaamde getuigskrifte opgestel om  mense te beïndruk en onder valse voorwendsels te plaas.  Wanneer die Gees lewend gemaak het, verdwyn alle valsheid en voorgee. Dit laat die gelowiges met groot vrymoedigheid optree (2 Kor 3: 12) Dit laat die heerlikheid van God  van ons af uitstraal.  Dit laat ons aan die beeld van Christus gelyk word.  (2 Kor 3:18)

Sosiale media en moderne tegnologie het die skryf van briewe radikaal verander.  Epos, Whatsapp, Instagram, Twitter en ander het ons kommunikasie netwerke radikaal verander. Binne ʼn oogwink word nuus tot aan die uiteindes van die aarde versprei.  Dit bly ons taak en verantwoordelikheid om met ons optrede mense se siening te beïnvloed.  My optrede kan die enigste brief wees wat iemand dalk mag lees.  Christus het met sy dood en opstanding die sluier weggeneem sodat ons getuienis dien as ʼn brief.  Dit is ons taak om te skitter van die heerlikheid wat van God afstraal. 

Leef so dat jy wys dat jy ʼn brief van Christus is. Vertrou so dat jy met jou getuigskrif ander oortuig.

Dors vir meer:

1 Pt 2:1-10

Gebed

Here, baie dankie dat U my al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  Dankie dat u die sluier van my oë wegneem.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 03 Maart 2021 – Saam in die Here se triomftog

Skrifgedeelte: 2 Kor 2:12-17                          Teks wat tref: 2 Kor 2:12,14

2 Kor 2:14 – “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.”

Paulus en sy reisgenote bereik Troas om die evangelie van Christus daar te verkondig.  Hulle beleef steeds baie spanning en hartseer. Hy het nie gemoedsrus gehad nie omdat hy sy broer Titus nie daar gekry het nie.   Die swaarkry en beproewinge waarvan hy in 2 Kor 1 melding gemaak het, veroorsaak groot bekommernis en beklemming van hart. Onder baie trane skrywe hy aan die gemeente. (2 Kor 2:4)  Dit is omstandighede waarmee ons onsself kan vereenselwig. Gebroke harte en oë vol trane laat my uitsien na deure wat vir my oopgemaak word sodat ek uit die ellende en seer van my situasie kan ontsnap. 

Die beeld van die geopende deure wys dat die Here voorsien. Deure wat wyd oop is beklemtoon nuwe moontlikhede, ander geleenthede en dat die Here besig is om sy Plan uit te voer.  Waar Covid en die belewenis daarvan letterlik deure in ons gesig toegeklap het, kom verander God alles. Hy neem sy kinders saam op ‘n triomftog!

Destyds het die koning na ʼn oorwinning deur die stad gegaan om die eer te kry. Elke oorwinning het radikale gevolge gehad. Die vyande is doodgemaak om die stad te beveilig. Daar is wierook gebrand sodat almal kon ruik.  Die oorwinning is gesien, gehoor en geruik!  Vir diegene wat aan Christus verbonde is, was dit ʼn aangename geur. Vir die wat gered word, is dit ʼn lewensgeur wat lewe wek. Dit simboliseer lewe vir elkeen wat die kennis van Christus ontvang het.  Maar vir die wat verlore gaan is dit ʼn doodsreuk wat dood bring. 

Op vele plekke in ons lewe hang daar dikwels ‘n swaar, somber doodsreuk as gevolg van omstandighede en gebeure. Dit laat ons sonder uitsig en insig.  Inderdaad wil ons iets hieraan doen.  Ons wil vernuwe, verander en opnuut bestaan om met ʼn lewensgeur lewe te wek. Hoe begin ek daarmee?  Deur eers my eie gebreke en tekortkominge te besef.

Deur God se boodskap van verlossing in opregtheid te glo en te verkondig. Deur in verbondenheid met Christus te lewe en met verantwoordelikheid aan God gehoorsaam te wees.  Om saam in die Here se triomftog te wees verander my gesindheid. In God se teenwoordigheid ontvang ek inspirasie deur die Heilige Gees om ʼn aangename geur te wees. Hierdie optrede begin in die kleinste kring waar ek my mag bevind en versprei soos die geur van die wierook al verder.

Ons is een met Christus!  Die geleenthede is daar (oop deure). Die wierook is aan die brand gesteek.

Leef as meegevoerde in die Here se triomftog!

Dors vir meer:

Psalm 141

Gebed

Here, baie dankie dat U my saam voer in U triomftog.  Dankie dat U gemoedsrus skenk. Dankie dat U vir my die deure wyd oopmaak. Leer my om dankbaar ʼn lewensgeur te versprei. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 01 Maart 2021 – Aanhou moed hou

Skrifgedeelte: 2 Kor 1:3-10      Teks wat tref: 2 Kor 1:3

2 Kor 1:3  – “Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.”

Saam met sy reisgenote beleef Paulus baie spanning en konflik in Korinte. Omstandighede vra bemoediging. Talle verkeer in allerlei moeilikhede. (v4) Daar is ʼn oorvloed van lyding. (v5) Hulle kom in beproewing. (v6) Die swaar wat hulle moes verduur het ver bo hulle kragte uitgegaan. (v8) Dit voel of die doodsvonnis klaar oor hul uitgespreek is. (v9)

Te midde van al hierdie ontberinge roep Paulus in vers 3 uit: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!” 

Gebeure van die afgelope jaar kan ons ook laat voel dat die swaar wat ek moet verduur ver bo my kragte uitgaan. Net God ken my worsteling oor die spanning in my lewe en die onvervulde hunkering na bevryding van my omstandighede waarin ek vasgevang is.  Juis te midde van ʼn geestelike laagtepunt in my lewe kom daar weer hoop.  As daar maar net iemand is wat kan luister en verstaan!

Daar is. Niemand anders as God, die Vader van ons Here Jesus Christus! Daar is geen beter troos as ʼn Vader wat hom oor ʼn kind ontferm nie. Onmiddellik is Paulus in God se teenwoordigheid en beleef hy die Here se nabyheid.  Daar is geen nouer band as die tussen ‘n Vader en sy kind nie.  Op grond hiervan ontvang Paulus nog meer troos deurdat die verlossingswerk van Jesus Christus ons verseker dat God die dooies opwek tot die lewe. 

Eers nadat  Paulus besef dat hy aan God verbonde is, ontvang hy ʼn nuwe perspektief.  Ons kan vandag aanpak deur te begin met ons lyding, tekorte en ontberinge.  Of ons kan vir ʼn oomblik stilstaan en begin om aan God die lof te bring. Hy is my Vader. Hy het my van die dood gered. Hy het Paulus van so ʼn groot doodsgevaar gered. (v10) Paulus skep soveel moed dat hy seker is dat die Here hul weer sal red. 

My omstandighede mag dalk nie dadelik verander nie.  Inteendeel mag dit soms nog moeiliker raak.  Dan is dit juis nodig om te besef dat ek ʼn Vader het wat Hom oor my ontferm.  Ek moet leer om deur God se oë na my situasie te kyk.  Ek moet God vertrou. Ons moet ons hoop op hom vestig. Hy sal ons ook verder red. Dit sal moeilik wees.  Daarom spoor Paulus ons aan om vir mekaar te bid.  So sal die gebede van baie ʼn seën van God vir ons bring. 

Dan kring dit nog verder uit.  Baie sal die Here vir ons dank.  Maak ʼn verskil waar jy vandag leef deur aan te hou om op God te vertrou.

Dors vir meer:

Psalm 37

Gebed

Here, baie dankie dat U my nooit alleen laat nie.  Help my om te vertrou wanneer ek die hoop om te bly lewe laat vaar het. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 26 Februarie 2021- Van vuil klere tot feesklere!

Skriflesing: Sagaria 3
Vers wat tref:
Sagaria 3:4 “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.”
Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.”

Die hoëpriester Jesua staan voor die engel van die Here terwyl die satan Jesua aankla. Hoekom kla die satan vir Jesua aan? Jesua se klere is liederlik bevuil. Hierdie vuil klere dui op Jesua en die volk se sondes. So kan die satan ons ook voor die Here aankla op grond van ons sondes. Maar die Here laat dit nie daar nie. Die Here self trek die vuil klere uit, dis nie Jesua wat enigiets bydra nie. Verder word satan aangekla en bestraf vir sy oortredings.
Vir Jesua word daar skoon klere aangetrek- feesklere. Om dit verder te bekroon, ontvang hy ook ʼn skoon tulband om sy kop saam met die engel van die Here wat om hom bly staan.

Hierdie beeld is net ʼn afbeelding van dit wat sou kom, dit wat Jesus Christus vir ons kom doen het. Hy is die ware hoëpriester wat op een enkele dag die sondes op Hom geneem het. Met Nagmaal word ons hieraan herinner: Ons kleed was liederlik bevuil met die sondes, maar die Here self het vir ons ʼn nuwe kleed aangetrek. Ons het nou vrye toegang tot die Here, asof ons net soos die engele in die teenwoordigheid van die Here kan kom.

Sondag word ons weer hieraan herinner dat ons vuil klere in feesklere verander is, dat ons nou vol dankbaarheid ons kleed dra en vir die wêreld ons dankbaarheidslewe wys.

Dors vir meer:
Romeine 8:31-39

Gebed.
Here ons Vader. Dankie dat U ons vuil klere uitgetrek het en ons skoongewas het met die bloed van Jesus Christus. Lei ons om getrou in U diens te staan. Amen.

Danie Potgieter
0722729631

« Older posts Newer posts »