Skrifgedeelte: 2 Kor 2:12-17                          Teks wat tref: 2 Kor 2:12,14

2 Kor 2:14 – “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.”

Paulus en sy reisgenote bereik Troas om die evangelie van Christus daar te verkondig.  Hulle beleef steeds baie spanning en hartseer. Hy het nie gemoedsrus gehad nie omdat hy sy broer Titus nie daar gekry het nie.   Die swaarkry en beproewinge waarvan hy in 2 Kor 1 melding gemaak het, veroorsaak groot bekommernis en beklemming van hart. Onder baie trane skrywe hy aan die gemeente. (2 Kor 2:4)  Dit is omstandighede waarmee ons onsself kan vereenselwig. Gebroke harte en oë vol trane laat my uitsien na deure wat vir my oopgemaak word sodat ek uit die ellende en seer van my situasie kan ontsnap. 

Die beeld van die geopende deure wys dat die Here voorsien. Deure wat wyd oop is beklemtoon nuwe moontlikhede, ander geleenthede en dat die Here besig is om sy Plan uit te voer.  Waar Covid en die belewenis daarvan letterlik deure in ons gesig toegeklap het, kom verander God alles. Hy neem sy kinders saam op ‘n triomftog!

Destyds het die koning na ʼn oorwinning deur die stad gegaan om die eer te kry. Elke oorwinning het radikale gevolge gehad. Die vyande is doodgemaak om die stad te beveilig. Daar is wierook gebrand sodat almal kon ruik.  Die oorwinning is gesien, gehoor en geruik!  Vir diegene wat aan Christus verbonde is, was dit ʼn aangename geur. Vir die wat gered word, is dit ʼn lewensgeur wat lewe wek. Dit simboliseer lewe vir elkeen wat die kennis van Christus ontvang het.  Maar vir die wat verlore gaan is dit ʼn doodsreuk wat dood bring. 

Op vele plekke in ons lewe hang daar dikwels ‘n swaar, somber doodsreuk as gevolg van omstandighede en gebeure. Dit laat ons sonder uitsig en insig.  Inderdaad wil ons iets hieraan doen.  Ons wil vernuwe, verander en opnuut bestaan om met ʼn lewensgeur lewe te wek. Hoe begin ek daarmee?  Deur eers my eie gebreke en tekortkominge te besef.

Deur God se boodskap van verlossing in opregtheid te glo en te verkondig. Deur in verbondenheid met Christus te lewe en met verantwoordelikheid aan God gehoorsaam te wees.  Om saam in die Here se triomftog te wees verander my gesindheid. In God se teenwoordigheid ontvang ek inspirasie deur die Heilige Gees om ʼn aangename geur te wees. Hierdie optrede begin in die kleinste kring waar ek my mag bevind en versprei soos die geur van die wierook al verder.

Ons is een met Christus!  Die geleenthede is daar (oop deure). Die wierook is aan die brand gesteek.

Leef as meegevoerde in die Here se triomftog!

Dors vir meer:

Psalm 141

Gebed

Here, baie dankie dat U my saam voer in U triomftog.  Dankie dat U gemoedsrus skenk. Dankie dat U vir my die deure wyd oopmaak. Leer my om dankbaar ʼn lewensgeur te versprei. Amen

Petrus van Blerk

0824560235