Skrifgedeelte: 2 Kor 1:3-10 Teks wat tref: 2 Kor 1:3
2 Kor 1:3 – “Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.”
Saam met sy reisgenote beleef Paulus baie spanning en konflik in Korinte. Omstandighede vra bemoediging. Talle verkeer in allerlei moeilikhede. (v4) Daar is ʼn oorvloed van lyding. (v5) Hulle kom in beproewing. (v6) Die swaar wat hulle moes verduur het ver bo hulle kragte uitgegaan. (v8) Dit voel of die doodsvonnis klaar oor hul uitgespreek is. (v9)
Te midde van al hierdie ontberinge roep Paulus in vers 3 uit: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!”
Gebeure van die afgelope jaar kan ons ook laat voel dat die swaar wat ek moet verduur ver bo my kragte uitgaan. Net God ken my worsteling oor die spanning in my lewe en die onvervulde hunkering na bevryding van my omstandighede waarin ek vasgevang is. Juis te midde van ʼn geestelike laagtepunt in my lewe kom daar weer hoop. As daar maar net iemand is wat kan luister en verstaan!
Daar is. Niemand anders as God, die Vader van ons Here Jesus Christus! Daar is geen beter troos as ʼn Vader wat hom oor ʼn kind ontferm nie. Onmiddellik is Paulus in God se teenwoordigheid en beleef hy die Here se nabyheid. Daar is geen nouer band as die tussen ‘n Vader en sy kind nie. Op grond hiervan ontvang Paulus nog meer troos deurdat die verlossingswerk van Jesus Christus ons verseker dat God die dooies opwek tot die lewe.
Eers nadat Paulus besef dat hy aan God verbonde is, ontvang hy ʼn nuwe perspektief. Ons kan vandag aanpak deur te begin met ons lyding, tekorte en ontberinge. Of ons kan vir ʼn oomblik stilstaan en begin om aan God die lof te bring. Hy is my Vader. Hy het my van die dood gered. Hy het Paulus van so ʼn groot doodsgevaar gered. (v10) Paulus skep soveel moed dat hy seker is dat die Here hul weer sal red.
My omstandighede mag dalk nie dadelik verander nie. Inteendeel mag dit soms nog moeiliker raak. Dan is dit juis nodig om te besef dat ek ʼn Vader het wat Hom oor my ontferm. Ek moet leer om deur God se oë na my situasie te kyk. Ek moet God vertrou. Ons moet ons hoop op hom vestig. Hy sal ons ook verder red. Dit sal moeilik wees. Daarom spoor Paulus ons aan om vir mekaar te bid. So sal die gebede van baie ʼn seën van God vir ons bring.
Dan kring dit nog verder uit. Baie sal die Here vir ons dank. Maak ʼn verskil waar jy vandag leef deur aan te hou om op God te vertrou.
Dors vir meer:
Psalm 37
Gebed
Here, baie dankie dat U my nooit alleen laat nie. Help my om te vertrou wanneer ek die hoop om te bly lewe laat vaar het. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply