Skrifgedeelte: 2 Kor 3:1-17 Teks wat tref: 2 Kor 3: 3
2 Kor 3:3 – “Dit is tog duidelik dat julle ʼn brief van Christus is……….”
Soms is dit moeilik om die verloop van die lewe te begryp. Gebeure en omstandighede laat dikwels baie vrae ontstaan. Al hierdie vrae word nie noodwendig altyd beantwoord nie. In die tweede Brief aan die Korintiërs beklemtoon Paulus Christus se verlossingswerk. Vervolgens kry ek ʼn ander perspektief op die lewe. In die eerste twee hoofstukke word ons aangespoor om aan te hou om moed te hou en wat die betekenis daarvan is dat ek saam in die Here se triomftog meegevoer word.
In 2 Kor 3 skryf Paulus oor die gevolge hiervan. Deur Christus se liefde en die werking van die Gees word Paulus gebruik as ʼn lewende getuigskrif. Soortgelyk weerspieël my lewe my verbondenheid aan Christus. Die Gees maak my bekwaam as bedienaar van ʼn nuwe verbond. Hiermee beklemtoon Paulus dat hy vanuit homself geen gesag het nie en dat die Gees lewend maak. Met die beeld van die letters wat op klip gegraveer is en doodmaak, beklemtoon Paulus dat ons die Gees ontvang het wat lewend maak.
Op grond hiervan is dit duidelik dat ons ʼn brief van Christus is! Die eerste lesers in Korinte was goed bekend met briewe waarin ʼn persoon se deugde en oortuigings beskryf is. In sekere gevalle het die destydse predikers self ook sogenaamde getuigskrifte opgestel om mense te beïndruk en onder valse voorwendsels te plaas. Wanneer die Gees lewend gemaak het, verdwyn alle valsheid en voorgee. Dit laat die gelowiges met groot vrymoedigheid optree (2 Kor 3: 12) Dit laat die heerlikheid van God van ons af uitstraal. Dit laat ons aan die beeld van Christus gelyk word. (2 Kor 3:18)
Sosiale media en moderne tegnologie het die skryf van briewe radikaal verander. Epos, Whatsapp, Instagram, Twitter en ander het ons kommunikasie netwerke radikaal verander. Binne ʼn oogwink word nuus tot aan die uiteindes van die aarde versprei. Dit bly ons taak en verantwoordelikheid om met ons optrede mense se siening te beïnvloed. My optrede kan die enigste brief wees wat iemand dalk mag lees. Christus het met sy dood en opstanding die sluier weggeneem sodat ons getuienis dien as ʼn brief. Dit is ons taak om te skitter van die heerlikheid wat van God afstraal.
Leef so dat jy wys dat jy ʼn brief van Christus is. Vertrou so dat jy met jou getuigskrif ander oortuig.
Dors vir meer:
1 Pt 2:1-10
Gebed
Here, baie dankie dat U my al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Dankie dat u die sluier van my oë wegneem. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply