Skriflesing: Genesis 19:15-29
Vers wat tref:
Genesis 19:26 “Sy vrou het egter omgekyk en sy het ‘n soutpilaar geword. “

Hierdie week kyk ons na 3 verwysings van Sout in die Ou Testament.

Vanoggend staan ons stil by die vernietiging van Sodom en Gomorra. In hoofstuk 19 lees ons maar net van ‘n paar van die sondige praktyke van Sodom en Gomorra. Hulle sonde het hard teenoor die Here uitgeroep, sodat die Here besluit het om die stede te verdelg. Daar kon nie eers 10 regverdiges in die stad gevind word nie. Die sonde van die stad was nie net sodomie nie, Jesaja 1:10-17 verwys na die sosiale onreg wat daar in die stad was. Esegiël 16:49-50 verwys na die materialistiese vergrype en uitbuiting van die armes. Lukas 10:10-13 verwys na ongasvryheid.

Lot en sy gesin het hul so in hierdie stad gevestig dat hulle deel geword het van hierdie gemeenskap. Lot kon vrylik in die stadspoort sit, noem die mense sy vriende/broers, sy dogters is verloof aan mans in die stad. Dit is nie vir hul maklik om weg te vlug van die stad (en die sonde nie). Nadat hul veilig in Soar gekom het, kyk Lot se vrou om en verander in ‘n soutpilaar. Hier word vir ons min beskryf oor hoekom sy omgekyk het, maar dit was sekerlik nie net uit nuuskierigheid nie. Heel moontlik is dit omdat sy terug verlang het na Sodom.
Maak ons nie ook so met die sonde waaraan ons verslaaf is nie? Ons weet in Christus is ons van die vernietiging verlos- die ewige dood en helse vuur. Maar hoekom wil ons soos ‘n vark weer in die modder gaan rol? Besef ons dan werklik hoe erg was die sonde is waarmee jy besig was? Besef jy dan werlik hoe groot die verlossing is waarmee jy vrygekoop is? Moenie omkyk en terug verlang na die sonde nie, maar bekeer ten volle en rig jou oë net op die Here.

Dors vir meer:
2 Petrus 2.

Gebed.
Here, dankie dat U my verlos het van U toorn en oordeel wat my toegekom het a.g.v. my sonde. Lei my dat ek nie omkyk nie, maar bly opkyk. Amen.

Danie Potgieter
0722729631