Skrifgedeelte: 2 Kor 6:14 – 2 Kor 7:1      Teks wat tref: 2 Kor 6:16b

2 Kor 6:16  – “Dit is soos God gesê het:  – Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

In 2 Korintiërs 6:1-13 het dit duidelik geword dat gelowiges dit soms moeilik vind om kop bo water te hou. Paulus word oneervol behandel, beledig en is bedroef en sterwend.  Baie mense  skep ‘n donker prentjie vir ons land en omgewing. Daar is die realiteite van werkloosheid, vrees, onvervulde verwagtinge en finansiële en ander nood. Daarom eindig vers 13 met die oproep dat ons ons harte vir mekaar moet oopmaak.

Vanaf vers 14 word nog ‘n realiteit van ons aardse bestaan uitgelig. In die warboel van omstandighede waarin ons daagliks voor keuses gestel word, is dit nodig om kop te hou. Paulus verwys na talle keuses waarmee ons daagliks gekonfronteer word.  Dit omsluit my hele lewe. Watter grense geld vir die verhouding tussen gelowiges en ongelowiges?  Bestaan daar grys areas tussen lig en donker as ek ʼn vennootskap aangaan? Is daar ʼn kompromie moontlik tussen Christus en die Satan (Belial)? Kan ons die christelike geloof met diens aan afgode gelykstel? (2 Kor 6:14-16) 

Die gevolge van die huidige omstandighede waarin ons vasgevang is, veroorsaak dat ons soms mag oordeel dat daar ʼn goue middeweg gevolg moet word. Die druk van alle kante en die toenemende eise van werkgewers en die lang ure van skoolwerk saam met die kinders doen, laat die vraag ontstaan of ons nie iewers kompromieë moet aangaan nie. Ons gedagtes is deur inperking en beperking so in ʼn doodloopstraat vasgevang, dat ons nou oop kop moet dink!

Paulus gee nie ʼn lys van watter optrede toelaatbaar sou wees nie.  Ons kry in v16 die beginsel waarvolgens ons alles moet beoordeel.-  “Ons is immers die tempel van die lewende God.” In die uitoefening van keuses moet ek daarmee rekening hou dat God deur sy Gees onder ons woon en wandel. Hierdie pragtige beeld beskryf die diepte van God se liefde vir sy kinders.  Hy woon by ons sodat ons veilig kan wees. Hy wandel (loop) saam met my sodat geen onheil my sal tref nie.  Met sy verbond het God ons aan Hom verbind om ons God te wees.  God se “ooreenkoms” met ons is so anders as dit wat die wêreld, satan, ongelowiges en afgode kan bied.  Daarom mag ons in geeneen van die wêreldse praktyke deel hê nie. 

Met die opdrag in vers 17 word dit duidelik hoe ernstig God hiermee is. Vlug daarvan weg en moet aan niks onrein raak nie!  Dit beteken nie dat ons ons nou in kloosters van die wêreld moet onttrek nie.  God verbied wel dat ons daaraan deelneem  en ons daarmee vereenselwig maar gebied wel dat ons die werke van die Bose moet ontbloot en aan die kaak stel sodat reg en geregtigheid sal geskied. 

Hiervoor moet ons ʼn oop kop hê. God noem ons sy kinders en woon en wandel onder ons.  Daarom sal Hy ons bewaar. Daarvoor leef ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toegewy.

Dors vir meer:

Psalm 40

Gebed

Here, baie dankie dat U onder ons woon en wandel.  Help my om kop bo water te hou as die duisternis en onheil my wil toevou.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235