Skrifgedeelte: 2 Kor 6:1-13 Teks wat tref: 2 Kor 6:13
2 Kor 6:13 – “……… maak julle harte ook wyd oop. ”
Die gebeure waarmee ons daagliks gekonfronteer word, bring soms verwarring, vrees en bekommernis. Groot onsekerheid bestaan oor die uitkoms van al die gebeure. Onwillekeurig ontstaan die vraag of daar iets is wat ek in hierdie omstandighede kan doen. Aan die einde van 2 Kor 5 gee Paulus ʼn besliste antwoord:…. jy is gesant van Christus en God gee aan jou kragtige wapens!
Hierin is die oplossing vir elke situasie. In stede daarvan om ‘n lang lys maak van sake wat aandag moet geniet, vra die Here net ons harte. Nie beter tydsbeplanning nie. Nie ‘n ander fokus nie. Nie meer toewyding nie. Jou hart bepaal jou lewe. Jou hart vorm jou gesindheid. Jou hart weerspieël die inhoud van jou binnekamer. Paulus beleef aanvanklik dat die gemeente in Korinte se hart vir hom toe is. Hiervoor kan hy verskeie redes aanvoer. Leef jou vir ‘n oomblik in hulle situasie in: – Hulle word oneervol behandel, beledig en is bedroef en sterwend. Baie mense skep ‘n donker prentjie vir ons land en omgewing. Daar is die realiteite van werkloosheid, vrees, onvervulde verwagtinge en finansiële en ander nood.
Tog sien Paulus iets anders raak. Hy begin nie te skryf oor die omstandighede nie. Ons moet leer om God se oplossing raak te sien – Wees geduldig. Dit is nie ‘n maklike opdrag of ‘n kitsoplossing nie. Ons moet leer om op dit wat ons wel het, te fokus. En die wonderlike is dat ons dit het. Ons is die gesante van God in die bepaalde situasie of plek waar God my gebruik. Luister weer as Paulus verwys na dit wat ons alles het. Die Heilige Gees skenk opregte liefde, die Woord van die waarheid en die krag van God. Dit is nie meer “ek” nie, maar GOD wat my lewe beheers. Soos Paulus dit in vers 7 beskryf: – “Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.
Met my optrede leef ek onberispelik, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Paulus se gevolgtrekking is dat hulle alles besit en dat God ons deur alles dra. Maar dit lei noodwendig tot iets meer. Ons moet ons harte vir mekaar oopmaak. God skenk aan Salomo ʼn oop hart sodat hy met wysheid kan optree (1 Kon 4:29). Met die regte hartsingesteldheid motiveer ek ander om met entoesiasme te leef. Met ‘n oop hart is ek blootgestel – ek steek niks weg nie. En as ek my hart op iets sit is daar resultate. Ek gaan my tyd en aandag daaraan bestee. Dit word dan ‘n leefwyse.
Waarvan die hart vol is loop die mond van oor. Vir wie gaan jy nou jou hart oopmaak?
Dors vir meer:
Ps 25
Gebed
Here, baie dankie dat U ons harte van klip verwyder en vir ons in Christus nuwe lewe gee. Leer my om elke dag U wil te doen en om in alle omstandighede net op U te vertrou. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply