Skriflesing: 2 Konings 2:19-22.
Vers wat tref: 21. “Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daar ingegooi, met die woorde: “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.””
‭‭
Elisa was by toe die Here vir Elia in die hemel opgeneem het. Hy is as opvolger van Elia aangewys en op dieselfde dag waarop Elia weggeneem is vra die inwoners van Jerigo sy hulp. Kyk, die stad is op ‘n goeie plek geleë, maar die water is onvrugbaar en sleg. Sonder vars water kan daar nie groei plaasvind nie.
Elia gee die opdrag dat ‘n nuwe skottel gebring moet word.( ‘n skottel wat nie vir ‘n ander doel gebruik was of enige iets anders voorheen ingehad het nie). Verder moet hul sout in die skottel gooi. Elia neem die skottel en stap na die oorsprong van die water en gooi die sout daarin. Wat kan ‘n skottelvol sout doen om water gesond te maak? Te veel sout in water maak dit brak en onvrugbaar. Indien die sout kon gehelp het, sou dit die fonteinbron ook kon verander het? Daar sou net weer slegte water uitgekom het. Daarom sê Elia dit is nie hy wat iets doen nie, dit is die Here wat die water bruikbaar maak sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.
Die Here gee nie net ‘n tydelike verandering nie, tot vandag nog is die water bruikbaar. Die Here verander nie net op die oppervlakte nie, Hy verander die hele fontein.
So verander die Here ook ons harte. Die simptome van die sonde word nie net minder gemaak of tydelik aangespreek nie. Die Here verander ons heeltemal, ons is wedergebore. Die kliphart is uitgeruk en gee ‘n hart van vlees.
Die Here gee voortdurende en algehele verlossing van al jou sondes deur Jesus Christus.
Daarom is jy nou ‘n fontein wat nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie, maar vandag bruikbaar is in God se diens.

Dors vir meer:
Esegiël 36:22-38

Gebed.
Here, dankie dat U dooie harte lewend maak! Dankie dat ek gereinig is, nie deur sout nie, maar deur die bloed van Jesus Christus. Amen.

Danie Potgieter
0722729631