Skrifgedeelte: 2 Kor 7:1-16    Teks wat tref: 2 Kor 7:13

2 Kor 7:13  – “Juis daarom is ons nou so bly.  Ons is nie net bemoedig nie, maar ook besonder bly dat Titus so gelukkig is: julle almal het hom gemoedsrus gegee.”

Na die worsteling van Paulus in 2 Kor 6 waarin hy die lesers opgeroep het om hul harte oop te maak en om ʼn oop kop te hê, is dit gepas dat hul nou blydskap ervaar. Ons kan ons maklik met die versoek in vers 2 vereenselwig. As iemand vir jou plek in hul harte maak bring dit gemoedsrus en vreugde.  Ten spyte van al die ontberinge wat hul moes beleef is daar blydskap en vreugde.  Paulus  is trots, vol moed en oorstelp van blydskap.

Alhoewel ons soms deur allerlei gebeure en omstandighede pyn en seer beleef en van alle kante druk ervaar, verander ons omstandighede ingrypend wanneer God ons opbeur.  Noudat alle druk verdwyn het, verander Paulus se hart en denke.  Wanneer God die swaar las van die aanvalle van buite en sorge van binne (2 Kor 7:5) vir ons wegneem, verander alles meteens.  

Alles wat gebeur maak Paulus blyer. Daar is ʼn openhartigheid en vergewingsgesindheid waarbinne hul mekaar met ʼn oop gemoed vind.  Die onderlinge verhouding is herstel deurdat God redding en bekering gebring het.  Die troebel water waarin hul moes leef verdwyn en met die oop en rustige gemoedere is daar nou erns, verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. 

Die gemoedere is herstel en binne hierdie verhouding gee elkeen vir mekaar om. (2 Kor 7:12) Hulle is bemoedig en beleef geluk. Hulle gee aan Titus gemoedsrus.  Hierdie verhouding kring verder en verder uit. Paulus spog met Titus, hulle praat onder mekaar die waarheid en ontvang mekaar met eerbied en ontsag. 

Net ʼn oop hart, oop kop en oop gemoed kan ons van vrede en vreugde verseker as ons die druk van alle kante ervaar. 

Die gemoedsrus van een persoon (Titus) het die omstandighede van Paulus en sy reisgenote verander.  Met die sterwe en opstanding van een mens, Jesus Christus, het my omstandighede verander sodat ek in alle druk seker kan wees van gemoedsrus.  Christus het die dood oorwin en verdryf die onheil op my pad.  Deur God se Gees het ek nou ʼn oop gemoed en ewige rustigheid.

Leef so dat jy met jou optrede aan ander hierdie ewige gemoedsrus vertoon.

Dors vir meer:

Psalm 121

Gebed

Here, baie dankie dat U my opbeur as daar druk van alle kante kom.  Help my om my hart oop te maak en om met my optrede aan ander gemoedsrus te gee.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235