Skrifgedeelte: 2 Kor 8:1-15 Teks wat tref: 2 Kor 8:5,15
Korinte was destyds ʼn baie florerende handelstad en die inwoners het gereeld met mekaar meegeding om die hoogste prys vir hul produkte te kry. Ons vergelyk dikwels ons omstandigede met die van ander en gebruik dit as maatstaf vir ons gedrag en optrede teenoor God en ons naaste. Dit blyk of Paulus dieselfde in 2 Kor 8:1 doen. Hy hou die gemeentes in Masedonië as voorbeeld aan die Korintiërs voor. Maar dit is nie hulle gedrag wat hy as voorbeeld gebruik nie. Hy fokus op die genade wat hul van God ontvang het.
Waar Paulus reeds in 2 Kor 6 die beginsel neergelê het dat gelowiges hulle harte vir mekaar wyd moet oopmaak, vestig 2 Kor 8 ons aandag op die praktiese uitvoering hiervan. Ons noem dit die Christelike vrygewigheid. Desnieteenstaande druk, vervolging, beproewing, armoede en swaarkry, was die gemeentes in Masedonië ryk in hulle vrygewigheid en oorvloedig in hul blydskap. Hulle geniet God se guns in elke opsig.
Ons meet rykdom en voorspoed dikwels in terme van aardse besittings en genietinge. Ons vergeet hoeveel vreugde God skenk sodat ons blydskap kan hê. Lees weer vers 7 om te begryp hoeveel ons in oorvloed ontvang: “geloof, die gawe om ons woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer vir mekaar en liefde.”
Daarom is die hoeveelheid en mate van dit wat ek aan ander gee, ondergeskik aan die verhouding waarbinne ek met God lewe. Nou gebruik Paulus Christus se optrede as voorbeeld wanneer ons vergelykings wil tref. Christus het ter wille van ons arm geword sodat ons deur sy armoede ryk kan word. Sonder Christus is ons die armsaligste mense denkbaar. Dit wat God wil moet ons maatstaf word. Die voorbeeld van die Masedoniërs is hoogstens prysenswaardig en dien as aansporing vir ons elkeen. Ons moet met dieselfde ywer en entoesiasme as Christus liefdeswerk verrig.
Hierdie liefdeswerk sluit alles in. Daarom spoor Paulus die gemeente in 2 Kor 8:12 aan dat die goeie wil daar moet wees. Dit is juis hierdie gawes wat God aanneem. In stede daarvan om berekeninge te maak oor hoeveel ek moet gee, moet ons na God se maatstaf luister. Hy verwag nie van my wat ek nie het nie. God is regverdig en sy opdrag beteken nie dat ek ʼn wêreldse model moet navolg nie. Die Christelike vrygewigheid moet niemand bevoordeel nog benadeel nie. Om my hart oop te maak beteken dat my hulpverlening en offervaardigheid almal gelykmatig sal bevoordeel. “So het die met baie nie te veel en die met net ʼn bietjie, nie te min gehad nie. (2 Kor 8:15)”
In Christus is ons almal oorvloedig ryk. Leef gewillig en ywerig om God se liefdeswerk te doen.
Dors vir meer:
Ps 84
Gebed
Here, baie dankie dat ek soveel genade en liefde ontvang. Lei my deur U Heilige Gees om my hart wyd oop te maak en U liefde te verkondig. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply