Skrifgedeelte: 2 Kor 9:1-15 Teks wat tref: 2 Kor 9:6-8
2 Kor 9:6 – “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.”
In 2 Kor 9 sluit Paulus die gedeelte oor ʼn oop hart, ʼn oop kop en ʼn oop gemoed af. Hy sê dat dit oorbodig is om aan die gemeente oor hulpverlening te skryf. Hy vermeld hulle ywer en bereidwilligheid en prys God vir hul dankbare gesindheid.
Dan volg daar in 2 Kor 9:6 wyse raad. Met ʼn voorbeeld uit die boerderybedryf gee Paulus raad vir ʼn goeie belegging. Die hedendaagse lewensversekerings maatskappye sou hierdie raad as ʼn belegging met ʼn goeie en selfs gewaarborgde opbrengs beskryf. “ ….. wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.”
‘n Boer wat sy land voorberei het, wil saai. En as hy die saad gesaai het, glo hy dat daar uiteindelik ‘n oes sal wees. Watter boer sal saad koop en dit in die grond saai as hy nie gló dat daar ‘n oes kan wees nie? Anders sal hy nie eers die moeite doen om te saai nie. Ons geloof in God en hoe ons die Here se betrokkenheid in ons lewens ervaar, werk op soortgelyke wyse. Enige iemand kan tog verstaan dat dit onmoontlik is om ‘n groot oes te verwag as jy te min saad gesaai het. Die teenoorgestelde is natuurlik ook net so waar.
Hierna word hierdie beeld op ons geloofslewe toegepas. Die proses begin in ons hart. “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het” (2 Kor 9:7) Die hart is die setel van my lewe. Dit is my innerlike menswees en stel my diepste wese ten toon. Dit het te doen met wie ek is en hoe ek optree. Dit gaan oor hoe ek dink en wat ek voel. My hart kan nie op twee plekke gelyktydig wees nie. Waar my skat is ….. daar is my hart …… As iets vir my waardevol is, beskerm ek dit.
Alvorens ek ʼn belegging kan maak, moet ek die nodige middele tot my beskikking hê: En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor 9:8) Uit eie krag kan ons nie ‘n ware offer van dankbaarheid aan die Here bring nie. God gee vir my alles wat nodig is.
As ek onder leiding van die Heilige Gees myself aan die Here gee, saai ek volop. Dan doen ek alles met volle oorgawe, want ek weet alles behoort aan die Here. Aan elkeen wat met blymoedigheid en uit dankbaarheid volop saai, gee die Here alles in oorvloed. Net hulle wat op God vertrou kan volop saai. Die boer saai in geloof en vertrou dat die oes sal volg. Hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek uit God se hand.
As Christus in my hart is, loop my hart oor van dankbaarheid en ontvang ek die grootste belegging ooit.
Dors vir meer:
Heb 11:1-10
Gebed
Here, baie dankie dat U soveel genade in oorvloed aan my skenk. Help my om met vertroue volop te saai. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply