Category: Uncategorized (Page 9 of 33)

Dagstuk 31 Mei 2021- Toegerus deur die Gees – Gesalf met die Heilige Gees. – Skrifgedeelte: 1 Johannes 2:18-27

Skrifgedeelte: 1 Johannes 2:18-27
Vers wat tref, vers 20 “Maar julle is deur die Heilige Gees gesalf, en julle almal weet dit.”

Wat beteken dit as iemand gesalf is? In die Ou Testament sien ons dat profete (1 Kon. 19:16), priesters (Eks. 30:30) en konings (1 Sam. 10:1; 16:12,13) gesalf is met ‘n reukolie wat nie net op die kop geplaas is van ʼn persoon nie, maar afloop oor die persoon se hele lyf. Salwing het 3 betekenisse.

  1. Uitverkiesing en afsondering. In die eerste plek dui die salwing van ʼn persoon op uitverkiesing. Dit is die Here wat ʼn persoon kies en uitsonder vir ʼn bepaalde opdrag.
  2. Toerusting en bekwaamheid. Deur die salwing verseker die Here die betrokke persoon dat Hy aan hom die gawes en bekwaamheid sal gee om sy taak te kan uitvoer. Die Here roep en rus toe!
  3. Sending opdrag. ʼn Persoon wat gesalf is, word deur God gestuur vir ʼn bepaalde opdrag en taak wat die persoon moet vervul. Al hierdie opdragte het ten doel om aan ander persone God se wil bekend te maak sodat ander ook die Here reg kan dien en eer en verheerlik.

In 2 Johannes word ons herinner maar ons is gesalf. Nie met olie nie maar met die Heilige Gees. Daarom word ons herinner dat die Here ons uitverkies het om ʼn taak in die wêreld te vervul. Hy rus ons toe deur die Heilige Gees om hierdie taak te kan uitvoer. Ons word veral toegerus deur Woord van die Here met prediking, Bybelstudie en katkisasie. Ons word duidelik uitgestuur om daadwerklik profete, priesters en konings te wees wat die evangelie van Jesus Christus te verkondig.
Ons ken die waarheid van die evangelie. Daarom is dit belangrik dat elkeen hul lig laat skyn in ʼn wêreld vol antichriste. Ons moet in Christus bly en bly by alles wat Hy vir ons geleer het. Deur die salwing van die Heilige Gees is daar aan elke gelowige hierdie opdrag gegee en ons moet dit uitleef en God se waarheid getuig. Dit beteken dat ons self ook moet bekeer en leef soos persone wat van sonde verlos is en op te bou volgens God se woord en dit wat goed is.

Leef vandag as ʼn gesalfde deur die Heilige Gees.

Gebed.
Ons Vader wat in die hemel is. Dankie dat U my roep en salf met U Heilige Gees sodat ek tot U eer my roeping kan uitleef. Ek bid dit in die naam van Jesus Christus.
Amen.

Dors vir meer:
Heidelbergse Kategismus Sondag 12.
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 28 Mei 2021 – Ons lewe deur die Gees (9) Selfbeheersing – Skrifgedeelte: Gal 5:13-26

Skrifgedeelte: Gal 5:13-26   Teks wat tref: Gal 5:22

Gal 5:22 –  “Die vrug van die Gees daarteenoor is………. selfbeheersing.”

Selfbeheersing is nie iets wat natuurlik kom nie. Dit is die vermoeë om ons gedrag te beheer. Om egter van die “eie ek” te verwag om homself te beheer is een van die moeilikste take om te verrig. Dit kan alleen gebeur wanneer die Gees van God in ons regeer. Dit wys dat ek aan Jesus Christus behoort. God se volle genade word gesien in die optrede van die mens wat met selfbeheersing lewe.  

God weet dat die mens van nature sonde doen. Selfbeheersing as vrug van die Gees word nie met ʼn eienskap van God vergelyk nie.  God het geskape en is in Beheer van alles. God is in sy wese sonder sonde. Goedheid, getrouheid, liefde en vrede as vrug van die Gees beskryf God se karakter.  Ons lees in 1 Jh 1:5 –“God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

In Gal 5:19 word die praktyke van die sondige natuur genoem (onsedelikheid, losbandigheid, haat, uitspattigheid en al derglike dinge) sodat die mens duidelikheid sal hê dat selfbeheersing vir elke lewensterrein geld.

Selfbeheersing beteken in wese niks anders as dat ek aan God gehoorsaam is nie. Ek leef in die gebaande weë wat God in sy Wet beveel.  Ek onderwerp my aan God se gesag.  Ek maak doelbewuste keuses om sekere gedrag te verander. Selfbeheersing het ten doel om harmonie en vrede te bewerkstellig.  As Geesvervulde mens beteken selfbeheersing dat ek my gewoontes en gebruike diensbaar maak. Van my word verwag om sekere dinge prys te gee. Ons moet hier baie prakties dink en selfbeheersing toepas as dit gaan oor my lewenstyl, verhoudinge, eetgewoontes, humeur en naasteliefde.  Ek laat die Gees toe om my lewe te beheer.  Ek let op die manier hoe ek met  my geliefdes praat, ek kies my woorde sorgvuldig wanneer ek kwaad word en ek vergryp my nie aan kos, drank en ander dinge nie. 

Die Grieks vir selfbeheersing is: gematig, inskiklik, om jou nie deur jou woede en drifte te laat meesleur nie. In 2 Tim 1:7 lees ons – “God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing!”  Uit genade skenk God skenk aan ons ʼn nuwe lewe. Ek leer om my oog op Christus te hou en my hoop in Hom te vestig.  Dan verander my lewe en soek ek God se koninkryk en dien ek die belange van my naaste.

Dors vir meer:

1 Pt 3:8-12

Gebed

Here, ek raak so maklik buite beheer en kan soms nie keer.  Dankie dat U Woord my die regte pad leer en dat U Gees my bewaar.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 26 Mei 2021 – Ons lewe deur die Gees (8) Nederigheid – Skrifgedeelte: Gal 5:22 en 1 Sam 25:1-11 en 23-31

Skrifgedeelte: Gal 5:22 en 1 Sam 25:1-11 en 23-31   Teks wat tref:  1 Sam 25:31

1 Sam 25:31: “En wanneer die Here aan Meneer (Dawid) goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”

Nederigheid is nie om minder aan jouself te dink nie, maar om minder van jouself te dink. Dit wat ander mense nodig het, is vir jou belangriker as dit wat jy nodig het. Ware nederigheid kom van binne. Dit is ʼn gesindheid. Die gedeelte in 1 Sam 25 gee ʼn treffende verduideliking.

Terwyl Dawid vir Saul vlug ervaar hy hulp maar ook teenstand van mense.  In Karmel ontmoet hy vir Nabal en  Abigajil. Nabal is die onbeskofte korrelkop.  Met minagting  verjaag hy Dawid se soldate en verhef homself as ʼn belangrike mens wat nie na die woorde van ʼn slaaf wat van sy eienaar af weggeloop het, te luister nie.  Dit ten spyte daarvan dat hy die guns en beskerming van Dawid geniet het. Nabal se woordeskat en denkpatroon word deur die woordjie “Ek” oorheers.

Die beeldskone en wyse Abigajil daarteenoor vertoon nederigheid in haar optrede teenoor Dawid.  In haar ontmoeting met hom groet sy hom op ʼn eerbiedwaardige wyse.  Sy voorsien in die manskappe se behoefte vir voedsel. Sy weerhou Dawid daarvan om wraak te neem deur Nabal dood te maak en so God se gebooie te oortree. Dawid se belange  weeg vir haar baie swaarder as haar eie voordele. Sy onderwerp haar volkome aan God. 

Nederigheid is een van die grootste karakter eienskappe van Jesus. In Jh 13:1-17 lees ons dat Hy sy dissipels se voete gewas het. Jesus gebruik elke oomblik en geleentheid om God te verheerlik. Deur liefde gedryf verrig hy die nederigste taak om die werk van ʼn slaaf op te neem en die dissipels se voete te was. 

Nederigheid is om jou nie bo ander te stel nie.  Dit is om minder as ander te wees.  Dit onderwerp my onmiddellik aan die duiwel se dodelike aanvalle. Sedert die sondeval probeer hy om groter as God te wees. Ons word uitgedaag om teen God in opstand te kom deur aan ons selfgeldende en selfsugtige leefstyl aandag te gee waar ek die hoofrol vertolk. 

Christus leer ons met sy hele lewe wat dit beteken om jou aan God te onderwerp en nederig te lewe.

Dors vir meer:

Kol 3:1-17

Gebed

Here, bevry my van selfsug en hoogmoed en leer my om nederig te lewe.  Dankie dat Christus my van sonde skoon gewas het en dat ek aan U voete mag sit.   Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 24 Mei 2021 – Ons lewe deur die Gees (7) Getrouheid – Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Psalm 15

Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Psalm 15    Teks wat tref: Gal 5:22

Gal 5:22 –  “Die vrug van die Gees daarteenoor is………. getrouheid.”

In die hedendaagse samelewing kom daar min van getrouheid tereg. Beloftes word gemaak en nie nagekom nie.  Afsprake wat gemaak word en nie nagekom word nie. Getrouheid beteken dat jy  betroubaar is, lojaal is, dat mens op jou kan staat maak en dat jy jou woord hou. Alles eerbare eienskappe wat ons almal graag sal wil vertoon. Ideale omstandighede vir enige samelewing sonder enige korrupsie, wandade en vergrype. 

Om getrou te wees, is nie in die wese van die mens opgesluit nie. Om te verseker dat elkeen se ja, “ja” is en nee, “nee” is, moet ons by God begin. Die Naam waarmee God Homself aan Moses in Eks 3:14  en die Israeliete bekendgemaak het, bevestig dit: “Jahwe” –  Ek is wat Ek is. Ek is altyd dieselfde. Ek verander nie. Ek doen wat Ek belowe het. Getrouheid is in die Bybel verbind met die gedagte van onwankelbaarheid, vastigheid en sekerheid.  

In Psalm 89 stel Etan ons aan verskillende fasette van God se trou bekend. In vers 3 skryf hy dat God se trou in die hemel en op die aarde is en dat dit nooit wankel nie. God se trou verander nooit nie.   In vers 9 en 14 leer ons dat God in sy wese trou is en altyd trou bly. Hy is die getrouheid self. God se trou word in vers 29 met sy verbond verbind waarvolgens ek die sekerheid het dat God my nooit sal vergeet nie.  In Christus is hierdie verbond beseël sodat ek sekerheid en troos kan hê. God se trou kom tot volle uitdrukking in Jesus Christus.

Wanneer ek my optrede aan God se standaarde meet besef ek dat die mens ver te kort skiet. In Psalm 15 beskryf Dawid die leefwyse van iemand wat betroubaar is.  Aan die getroues word toegang tot die Here se woonplek gegee.  Leef daarom onberispelik, praat met jou hele hart die waarheid, moenie jou medemens kwaad aandoen nie, moenie iemand beledig nie en moenie jou naaste te kort doen nie.  Om getrou te wees beteken dat ek God se standaarde op elke lewensterrein sal toepas, en nie net wanneer iemand my raaksien nie. 

Dit is maklik om voor te gee en agteraf te konkel, maar God verwag van ons om om sy Wet en voorskrifte te gehoorsaam. Dan sal jy nooit wankel nie (Ps 15:5b)  Wie in die kleinste getrou is, sal met die grootste beloon word.  Ondersoek jou doen en late, bedink jou manier van besigheid doen en besin oor jou woorde,  sodat jou lewe deur die Gees beheers word en die vrug van getrouheid vertoon.

Dors vir meer:

Ps 89

Gebed

Here, vergeef my hoogmoed en ontrou. Versterk my hart, hande en verstand sodat my optrede u ewige trou sal bevestig. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 21 Mei 2021- Ons lewe deur die Gees (6) Goedhartigheid.-Skrifgedeelte: Psalm 37

Skrifgedeelte: Psalm 37
Vers wat tref:21 en 26.

Goedhartigheid!
Goedhartigheid het die betekenis van iemand wat ʼn goeie hart het. Hierdie Griekse woord het daarom ook die stam “goed” in die woord. Iemand wat die goeie uitleef. Dit het veral ook die betekenis van iemand wat goed doen aan ander deur vrygewig te wees. Om die goeie aan ander nie terug te hou nie.

Dankbaar het die Here ons hart vernuwe en verander sodat ons nie meer die slegte soek en najaag nie. Ons is nie meer in opstand teenoor die Here nie en soek nie net ons eie belang nie. Die Heilige Gees het ons verander sodat ons die goeie soek en dit najaag- dat ons omgee vir ander, ʼn goeie hart mag hê om die swaarkry van ander raak te sien en op te tree.

Goedhartigheid is net soos vriendelikheid ook ʼn doen gesindheid. Jesus Christus het ons geleer in die gelykenis van die huis op die rots dat ons moet luister en doen. So moet ons goedhartigheid ook uitleef deur vrygewig ander in hul nood by te staan. Hierdie beginsel kry ons baie in die Ou Testament. Die volk moes goedhartig wees teenoor mekaar en mekaar help as hul kon.

In Psalm 37 is dit dan ook een van die kenmerke van ʼn regverdige- hy is altyd goedhartig en mededeelsaam.
Laat ons wanneer ons die gevolge van die Covid-19 pandemie beleef, onthou om goedhartig teenoor mekaar te wees. Laat ons begin in ons wyke, in ons gemeente die diakonie help in hierdie dienswerk en ook ons medegelowiges rondom Pretoria en oor die wêreld heen.

Gebed.
Here, dankie dat U my seën sodat ek weer vir ander tot seëning kan wees. Help my om te hoor te doen.
Amen.

Dors vir meer:
Deuteronomium 15

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei.

Dagstuk 19 Mei 2021- Ons lewe deur die Gees (5) Vriendelikheid. – Skrifgedeelte: Lukas 10:25-37

Skrifgedeelte: Lukas 10:25-37
Vers wat tref:33-34.

Vriendelikheid!
Wat beteken vriendelikheid vir jou? Is dit ʼn glimlag as jy verby iemand stap? Gereeld hoor ek die uitdrukking vriendelikheid is verniet, kon die persoon dan nie meer vriendelik wees nie?

Dalk kan ons almal doen met meer vriendelikheid in ons lewens. Meer vriendelik wees teenoor ander en wanneer ander met ons vriendelik is dan voel ons dag sommer baie beter.

Maar die Griekse woord wat hier gebruik word vir vriendelikheid is soveel meer as om net ʼn glimlag vir iemand te gee. Meeste ander dele word hierdie woord vertaal met goedheid. (bv. Kol. 3:12). Hierdie woord word ook gebruik vir God se optrede teenoor ons deurdat God goedheid aan ons bewys het (Titus 3:4 en Romeine 2:4). Die vriendelikheid waarna hier verwys word in Galasiërs 5:22-23 het die betekenis dat jy iets goed vir iemand anders doen.

Hoe kan jy goed aan ander doen in jou lewe vandag? In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan sien ons veral die betekenis van vriendelikheid. Dit was meer as net om verby iemand te loop in nood en vriendelik met hom te wees. Nee, die Samaritaan het gestop en goed gedoen aan die man wat nood gehad het. Goedheid is daarom nie ʼn emosie wat ons beleef nie, maar ʼn optrede wat ons uitleef omdat dit gesetel is in die liefde wat God vir ons het. God het Sy goedheid aan ons bewys. God gee vir jou om en help vir jou. Daarom kan ons ander help en goed wees vir hulle. Vriendelikheid mag verniet wees, dit kos niks om ʼn glimlag vir iemand te gee nie. Maar om goed te doen aan ander is nie altyd verniet nie- dit vra van ons om raak te sien en nie net verby te stap nie. Dit vra van ons om ons tyd te gee en ons hande vuil te maak. Dit vra van ons om ons geld en middele met ander te deel.

Hoe gaan jy goedheid aan ander uitleef vandag?

Gebed.
Here, dankie dat U U goedheid aan ons bewys het, nie op grond van wat ons gedoen het nie, maar op grond van U ontferming- deurdat ons skoongewas is deur die bloed van Christus en vernuwe is deur U Heilige Gees. Help my om ook aan ander goedheid te bewys.
Amen.

Dors vir meer:
Titus 3:1-11.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei.

Dagstuk 17 Mei 2021- Ons lewe deur die Gees (4) Geduld. – Skrifgedeelte: Hebreërs 11:8-16.

Skrifgedeelte: Hebreërs 11:8-16.
Vers wat tref:11-12

Ons almal kan doen met meer geduld. Van nature is ons ongeduldig- ons leef in ʼn tyd waar alles nou moet plaasvind. Vanoggend met die beurtkrag wat weer ingestel is het ʼn maklike taak soos om werk of skool toe te ry, moeilik gemaak deur verkeersligte wat uit is. Persone wat voor jou indruk en nie by verkeersreëls bly nie, maak sake ook nie maklik nie.

Ons lewensmaat, ouers of kinders hanteer ons ook maklik sonder geduld- hoeveel sterker kan ons verhoudings nie wees as ons net bietjie meer geduld met mekaar het nie? Ongeduld maak ons angstig, woedend en selfs roekeloos.

Abraham, saam met Sara het nie altyd die geduld gehad om op die beloftes van die Here te wag nie. Verskeie kere het Abraham sy eie pad probeer loop, weg van die beloftes wat die Here aan hom gemaak het. Hoe het hierdie paadjies vir hom uitgedraai? Nie goed nie. Eers verlaat hy die beloofde land en vertrek na Egipte waar hy amper doodgemaak is deur die Faroa. Dan neem hy ʼn ander vrou om deur haar ʼn nageslag vir homself te verseker. Wanneer ons ongeduldig is, dan werk dit nie.

Maar so het die Gees ook in Abraham se lewe geduld gewek, later het hy die Here vertrou en het geduldig geglo dat die Here sy beloftes vervul. Geduld is kragtig. Geduld is die vermoë om dinge deur te sien en aan te hou en nie hoop te verloor nie.

Met geduld kan ons aanhou om die wil van die Here te doen, maak nie saak die omstandighede in die wêreld om ons nie. Bid dat die Here geduld in ons sal wek deur die Heilige Gees. Met geduld sal ons deur die pandemie kom en raaksien hoe die Here besig is om te werk!

Gebed.
Here, gee my die geduld om op U te wag, die wysheid om te luister na U wil. Mag ek meer en meer die vrug van U Gees dra.
Amen.

Dors vir meer:
1 Tessalonisense 5:12-28.

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 14 Mei 2021 – Ons lewe deur die Gees (3) Vrede – Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Lk 10:1-6

Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Lk 10:1-6     Teks wat tref: Lk 10:5

Lk 10:5: “As julle in ʼn huis kom, moet julle eerste woorde wees – Vrede vir hierdie huis”

Na elke nuusberig lyk dit onmoontlik dat daar ooit vrede sal wees.  Elke berig vertel van oorlog, vervolging en vernietiging.  Die mens se lewe is niks werd nie.  En wanneer daar pogings aangewend word om te verseker dat vrede wel moontlik is, word dit met terreuraanvalle  en geweldsmisdade verdring.  Sal ons in Suid-Afrika vrede kan hê as plaasmoorde en aanvalle op  weerlose mense voortduur? Hierdie omstandighede en die spanning wat in huise ontstaan, laat min vooruitsigte vir ʼn vredevolle bestaan.

Alvorens ons kan verstaan waarom ons lewe vrede moet vertoon, moet ons allereers weet wat met vrede bedoel word.  Is dit bloot net ʼn situasie sonder oorlog, konflik en spanning?  As die teenwoordigheid van vrede van die mens se optrede afhang sal ons dit nooit bereik nie. Dink maar net aan jou optrede tydens ʼn geskil. Niemand gee graag toe nie. 

Vrede word eers reg verstaan as ek besef dat my optrede my verhouding met die Here beskryf.  Daar is net harmonie as my optrede altyd God se eer soek.  Vrede kan ook vertaal word met die woord guns. My optrede moet in ooreenstemming met God se wil wees. Vrede is veel meer as die afwesigheid van oorlog. 

Eers wanneer die Heilige Gees in my woon sodat ek God se liefde en genade beleef en verstaan kan ek ʼn vredemaker wees.  Eers wanneer ek bely dat Jesus met sy kruisdood en opstanding my verhouding met God herstel het besef ek dat vrede beteken dat ek met God versoen is.  Die sonde bestaan nie meer nie.  Die vyand is platgeslaan. Die stryd is deur Jesus gewen. Ek is nou kind van God en nie meer vyand nie. 

Die hoë premie wat op vredemakers geplaas word, dui daarop dat God my kosbaar ag.  Christus het as Oorwinnaar uit die stryd getree sodat ek die volle troos en versorging van my Vader kan beleef. 

Op grond daarvan word ek nou geroep om die versoening verder uit te dra. Ons is nie geroep om net op aarde geskille by te lê nie, maar om te verseker dat God se liefde verkondig word.  Vrede beteken nie dat ek alles maar gelate sal aanvaar nie en maar net niks doen “ter wille van vrede nie”.

Om ʼn kind van God genoem te word, is troosvol en bring vrede.  Gebruik elke geleenthede om God se vrede oral te proklameer.  Soms sal dit nodig wees om in ʼn geveg betrokke te raak. Soms sal ek my lewe op die spel moet plaas.  Maak seker dat God se eer altyd beskerm word. 

Dors vir meer:

Mt 5

Gebed

Here, leer my om so op te tree dat ek U eer soek. Vader, skenk aan ons vrede om in hierdie bose wêreld staande te kan bly. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 12 Mei 2021 – Ons lewe deur die Gees (2) Vreugde – Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Sefanja 3:14-20

Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Sefanja 3:14-20   Teks wat tref: Sef 3:17

Sef 3:17: “Die Here jou God is by jou.  Hy is vol vreugde oor jou. Hy jubel en juig oor jou.”

God het ons geskep om Hom te verheerlik. Dit is ons as mens se belangrikste taak op aarde. Dit laat ons besef dat vreugde nie aan ‘n spesifieke gebeurtenis gekoppel is nie, maar van God kom. Deur God se genade behoort ons aan Jesus Christus. Daarom skryf Paulus dat ons deur die Gees lewe en dat ons optrede hierdie karaktertrek vertoon.  . Vreugde weerspieël die dinge wat in my hart leef. 

Ons het die verantwoordelikheid om met die vrug van die Gees ʼn verskil te maak in die wêreld waarin ons leef.  Vreugde stroop my van ʼn selfgesentreerde lewe na ʼn lewe waarin ek al Christus se eienskappe vertoon. Ek dra die geluk en die welstand van ander op die hart. ʼn Hart wat oorloop van vreugde laat al die donker wolke verdwyn. 

In Sefanja 3:14-17 word die volk opgeroep om te sing en te juig. Die Koning van Israel is vol vreugde oor die volk.  ʼn Vreugdevolle hart maak stil-tevrede. Vreugde laat die hande wat moedeloos hang verdwyn en vervang dit met ʼn belewenis dat die Here by jou is.  My vreugde word volkome as die Here die volk verseker dat Hy oor hulle jubel en juig. 

Vreugde bring ʼn verandering op alle terreine. Met alles wat ek is, moet ek vrolik en bly wees. In Christus gee God aan ons verlossing en redding.  Hy laat ons vyande padgee. Hy laat rampe verdwyn. Die diepste vreugde wat ek kan geniet is daardie wete dat die Here by my is. 

Hiermee is die wêreld nie tevrede nie. Oral is die duiwel besig om ons vreugde te steel deur leuens te verkondig. Die duiwel plant die saad van onsekerheid en twyfel sodat ons geen vreugde sal geniet nie. Daarom waak ek teen woede uitbarstings,  ʼn opvlieënde humeur en selfgerigtheid sodat ek nie deur my optrede ander se vreugde van hul ontneem nie. 

Wanneer die Heilige Gees my lewe beheers verseker Christus my van die ewige vreugde om met sy wederkoms die ewige lewe in te gaan. Werklike vreugde breek finaal aan wanneer die Here ons lot verander en ons dit met ons eie oë sien.  (Sef 3:20)

Dors vir meer:

Ps 16

Gebed

Here, baie dankie dat ek my in U kan verbly.  Dankie dat U my vyande verdryf en nie toelaat dat die duiwel my vreugde steel nie.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 10 Mei 2021 – Ons lewe deur die Gees (1) Liefde – Skrifgedeelte: Gal 5:22-25 en 1 Kor 13:4-7

Skrifgedeelte: Gal 5:22-25 en 1 Kor 13:4-7     Teks wat tref: Gal 5:22

Gal 5:22: “Die vrug van die Gees, daarteenoor is liefde………..”

Nadat Paulus in die eerste gedeelte van Galasiërs 5 teen ʼn “EK WIL” leefstyl gewaarsku het, behandel hy in die laaste gedeelte van hierdie hoofstuk die ander teenpool.  Ons lewe moet deur die Gees van God beheers word. Dan word die  eienskappe wat by hierdie leefwyse pas genoem. Die vrug – in enkelvoud – beklemtoon dat daar nie ʼn rangorde in terme van belangrikheid bestaan nie, maar dat die een eienskap tegelyk al die ander veronderstel en insluit.

In 1 Kor 13 verduidelik Paulus die werklike betekenis van liefde. Elke beskrywing bevat ʼn opdrag. Liefde is dade.  Liefde veronderstel verantwoordelikheid en lojaliteit. Wanneer ons so na God se opdragte luister, word God verheerlik en ons optrede teenoor ons naaste ʼn bewys van God se liefde in ons harte.  Deur geduldig en vriendelik te wees skep ek ʼn veilige hawe vir my naaste. Deur nie afgunstig, grootpraterig en verwaand te wees nie, stel ek die belange van my naaste voorop.

Deur nie onwelvoeglik te handel nie betoon ek respek teenoor my naaste. Liefde soek nooit sy eie belang nie en weerhou ons van hoogmoed en selfsug. Dit laat my gevoelig bly vir die nood van ander. Deur nie liggeraak te wees nie vertoon ek respek en agting vir ander. Ek leer om te vergewe wanneer ek nie boek hou van die kwaad nie en my in die leed van ander verlustig nie.

Deur die Gees leer ek om die waarheid te verkondig, ander nooit af te breek nie en die vertroue van my naaste in te boesem. Liefde gee hoop wanneer iemand seer gekry het en laastens ken liefde geen grense nie. 

Liefde is die reaksie op die behoefte van ander mense, en is daar om ander mense te help. Dit is ons gehoorsaamheid aan God se liefde wat Hy aan ons bewys het deur ons vry te maak.   

Waar gaan jy vandag hierdie liefde vertoon?

Dors vir meer:

1 Pt 4

Gebed

Here, baie dankie dat U my liefhet.  Help my om U liefde oral te vertoon. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »