Skrifgedeelte: Hebreërs 11:8-16.
Vers wat tref:11-12
Ons almal kan doen met meer geduld. Van nature is ons ongeduldig- ons leef in ʼn tyd waar alles nou moet plaasvind. Vanoggend met die beurtkrag wat weer ingestel is het ʼn maklike taak soos om werk of skool toe te ry, moeilik gemaak deur verkeersligte wat uit is. Persone wat voor jou indruk en nie by verkeersreëls bly nie, maak sake ook nie maklik nie.
Ons lewensmaat, ouers of kinders hanteer ons ook maklik sonder geduld- hoeveel sterker kan ons verhoudings nie wees as ons net bietjie meer geduld met mekaar het nie? Ongeduld maak ons angstig, woedend en selfs roekeloos.
Abraham, saam met Sara het nie altyd die geduld gehad om op die beloftes van die Here te wag nie. Verskeie kere het Abraham sy eie pad probeer loop, weg van die beloftes wat die Here aan hom gemaak het. Hoe het hierdie paadjies vir hom uitgedraai? Nie goed nie. Eers verlaat hy die beloofde land en vertrek na Egipte waar hy amper doodgemaak is deur die Faroa. Dan neem hy ʼn ander vrou om deur haar ʼn nageslag vir homself te verseker. Wanneer ons ongeduldig is, dan werk dit nie.
Maar so het die Gees ook in Abraham se lewe geduld gewek, later het hy die Here vertrou en het geduldig geglo dat die Here sy beloftes vervul. Geduld is kragtig. Geduld is die vermoë om dinge deur te sien en aan te hou en nie hoop te verloor nie.
Met geduld kan ons aanhou om die wil van die Here te doen, maak nie saak die omstandighede in die wêreld om ons nie. Bid dat die Here geduld in ons sal wek deur die Heilige Gees. Met geduld sal ons deur die pandemie kom en raaksien hoe die Here besig is om te werk!
Gebed.
Here, gee my die geduld om op U te wag, die wysheid om te luister na U wil. Mag ek meer en meer die vrug van U Gees dra.
Amen.
Dors vir meer:
1 Tessalonisense 5:12-28.
Danie Potgieter
0722729631
Leave a Reply