Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Lk 10:1-6     Teks wat tref: Lk 10:5

Lk 10:5: “As julle in ʼn huis kom, moet julle eerste woorde wees – Vrede vir hierdie huis”

Na elke nuusberig lyk dit onmoontlik dat daar ooit vrede sal wees.  Elke berig vertel van oorlog, vervolging en vernietiging.  Die mens se lewe is niks werd nie.  En wanneer daar pogings aangewend word om te verseker dat vrede wel moontlik is, word dit met terreuraanvalle  en geweldsmisdade verdring.  Sal ons in Suid-Afrika vrede kan hê as plaasmoorde en aanvalle op  weerlose mense voortduur? Hierdie omstandighede en die spanning wat in huise ontstaan, laat min vooruitsigte vir ʼn vredevolle bestaan.

Alvorens ons kan verstaan waarom ons lewe vrede moet vertoon, moet ons allereers weet wat met vrede bedoel word.  Is dit bloot net ʼn situasie sonder oorlog, konflik en spanning?  As die teenwoordigheid van vrede van die mens se optrede afhang sal ons dit nooit bereik nie. Dink maar net aan jou optrede tydens ʼn geskil. Niemand gee graag toe nie. 

Vrede word eers reg verstaan as ek besef dat my optrede my verhouding met die Here beskryf.  Daar is net harmonie as my optrede altyd God se eer soek.  Vrede kan ook vertaal word met die woord guns. My optrede moet in ooreenstemming met God se wil wees. Vrede is veel meer as die afwesigheid van oorlog. 

Eers wanneer die Heilige Gees in my woon sodat ek God se liefde en genade beleef en verstaan kan ek ʼn vredemaker wees.  Eers wanneer ek bely dat Jesus met sy kruisdood en opstanding my verhouding met God herstel het besef ek dat vrede beteken dat ek met God versoen is.  Die sonde bestaan nie meer nie.  Die vyand is platgeslaan. Die stryd is deur Jesus gewen. Ek is nou kind van God en nie meer vyand nie. 

Die hoë premie wat op vredemakers geplaas word, dui daarop dat God my kosbaar ag.  Christus het as Oorwinnaar uit die stryd getree sodat ek die volle troos en versorging van my Vader kan beleef. 

Op grond daarvan word ek nou geroep om die versoening verder uit te dra. Ons is nie geroep om net op aarde geskille by te lê nie, maar om te verseker dat God se liefde verkondig word.  Vrede beteken nie dat ek alles maar gelate sal aanvaar nie en maar net niks doen “ter wille van vrede nie”.

Om ʼn kind van God genoem te word, is troosvol en bring vrede.  Gebruik elke geleenthede om God se vrede oral te proklameer.  Soms sal dit nodig wees om in ʼn geveg betrokke te raak. Soms sal ek my lewe op die spel moet plaas.  Maak seker dat God se eer altyd beskerm word. 

Dors vir meer:

Mt 5

Gebed

Here, leer my om so op te tree dat ek U eer soek. Vader, skenk aan ons vrede om in hierdie bose wêreld staande te kan bly. Amen

Petrus van Blerk

0824560235