Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Sefanja 3:14-20 Teks wat tref: Sef 3:17
Sef 3:17: “Die Here jou God is by jou. Hy is vol vreugde oor jou. Hy jubel en juig oor jou.”
God het ons geskep om Hom te verheerlik. Dit is ons as mens se belangrikste taak op aarde. Dit laat ons besef dat vreugde nie aan ‘n spesifieke gebeurtenis gekoppel is nie, maar van God kom. Deur God se genade behoort ons aan Jesus Christus. Daarom skryf Paulus dat ons deur die Gees lewe en dat ons optrede hierdie karaktertrek vertoon. . Vreugde weerspieël die dinge wat in my hart leef.
Ons het die verantwoordelikheid om met die vrug van die Gees ʼn verskil te maak in die wêreld waarin ons leef. Vreugde stroop my van ʼn selfgesentreerde lewe na ʼn lewe waarin ek al Christus se eienskappe vertoon. Ek dra die geluk en die welstand van ander op die hart. ʼn Hart wat oorloop van vreugde laat al die donker wolke verdwyn.
In Sefanja 3:14-17 word die volk opgeroep om te sing en te juig. Die Koning van Israel is vol vreugde oor die volk. ʼn Vreugdevolle hart maak stil-tevrede. Vreugde laat die hande wat moedeloos hang verdwyn en vervang dit met ʼn belewenis dat die Here by jou is. My vreugde word volkome as die Here die volk verseker dat Hy oor hulle jubel en juig.
Vreugde bring ʼn verandering op alle terreine. Met alles wat ek is, moet ek vrolik en bly wees. In Christus gee God aan ons verlossing en redding. Hy laat ons vyande padgee. Hy laat rampe verdwyn. Die diepste vreugde wat ek kan geniet is daardie wete dat die Here by my is.
Hiermee is die wêreld nie tevrede nie. Oral is die duiwel besig om ons vreugde te steel deur leuens te verkondig. Die duiwel plant die saad van onsekerheid en twyfel sodat ons geen vreugde sal geniet nie. Daarom waak ek teen woede uitbarstings, ʼn opvlieënde humeur en selfgerigtheid sodat ek nie deur my optrede ander se vreugde van hul ontneem nie.
Wanneer die Heilige Gees my lewe beheers verseker Christus my van die ewige vreugde om met sy wederkoms die ewige lewe in te gaan. Werklike vreugde breek finaal aan wanneer die Here ons lot verander en ons dit met ons eie oë sien. (Sef 3:20)
Dors vir meer:
Ps 16
Gebed
Here, baie dankie dat ek my in U kan verbly. Dankie dat U my vyande verdryf en nie toelaat dat die duiwel my vreugde steel nie. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply