Skrifgedeelte: Gal 5:22 en Psalm 15    Teks wat tref: Gal 5:22

Gal 5:22 –  “Die vrug van die Gees daarteenoor is………. getrouheid.”

In die hedendaagse samelewing kom daar min van getrouheid tereg. Beloftes word gemaak en nie nagekom nie.  Afsprake wat gemaak word en nie nagekom word nie. Getrouheid beteken dat jy  betroubaar is, lojaal is, dat mens op jou kan staat maak en dat jy jou woord hou. Alles eerbare eienskappe wat ons almal graag sal wil vertoon. Ideale omstandighede vir enige samelewing sonder enige korrupsie, wandade en vergrype. 

Om getrou te wees, is nie in die wese van die mens opgesluit nie. Om te verseker dat elkeen se ja, “ja” is en nee, “nee” is, moet ons by God begin. Die Naam waarmee God Homself aan Moses in Eks 3:14  en die Israeliete bekendgemaak het, bevestig dit: “Jahwe” –  Ek is wat Ek is. Ek is altyd dieselfde. Ek verander nie. Ek doen wat Ek belowe het. Getrouheid is in die Bybel verbind met die gedagte van onwankelbaarheid, vastigheid en sekerheid.  

In Psalm 89 stel Etan ons aan verskillende fasette van God se trou bekend. In vers 3 skryf hy dat God se trou in die hemel en op die aarde is en dat dit nooit wankel nie. God se trou verander nooit nie.   In vers 9 en 14 leer ons dat God in sy wese trou is en altyd trou bly. Hy is die getrouheid self. God se trou word in vers 29 met sy verbond verbind waarvolgens ek die sekerheid het dat God my nooit sal vergeet nie.  In Christus is hierdie verbond beseël sodat ek sekerheid en troos kan hê. God se trou kom tot volle uitdrukking in Jesus Christus.

Wanneer ek my optrede aan God se standaarde meet besef ek dat die mens ver te kort skiet. In Psalm 15 beskryf Dawid die leefwyse van iemand wat betroubaar is.  Aan die getroues word toegang tot die Here se woonplek gegee.  Leef daarom onberispelik, praat met jou hele hart die waarheid, moenie jou medemens kwaad aandoen nie, moenie iemand beledig nie en moenie jou naaste te kort doen nie.  Om getrou te wees beteken dat ek God se standaarde op elke lewensterrein sal toepas, en nie net wanneer iemand my raaksien nie. 

Dit is maklik om voor te gee en agteraf te konkel, maar God verwag van ons om om sy Wet en voorskrifte te gehoorsaam. Dan sal jy nooit wankel nie (Ps 15:5b)  Wie in die kleinste getrou is, sal met die grootste beloon word.  Ondersoek jou doen en late, bedink jou manier van besigheid doen en besin oor jou woorde,  sodat jou lewe deur die Gees beheers word en die vrug van getrouheid vertoon.

Dors vir meer:

Ps 89

Gebed

Here, vergeef my hoogmoed en ontrou. Versterk my hart, hande en verstand sodat my optrede u ewige trou sal bevestig. Amen

Petrus van Blerk

0824560235