Skrifgedeelte: Gal 5:22 en 1 Sam 25:1-11 en 23-31 Teks wat tref: 1 Sam 25:31
1 Sam 25:31: “En wanneer die Here aan Meneer (Dawid) goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”
Nederigheid is nie om minder aan jouself te dink nie, maar om minder van jouself te dink. Dit wat ander mense nodig het, is vir jou belangriker as dit wat jy nodig het. Ware nederigheid kom van binne. Dit is ʼn gesindheid. Die gedeelte in 1 Sam 25 gee ʼn treffende verduideliking.
Terwyl Dawid vir Saul vlug ervaar hy hulp maar ook teenstand van mense. In Karmel ontmoet hy vir Nabal en Abigajil. Nabal is die onbeskofte korrelkop. Met minagting verjaag hy Dawid se soldate en verhef homself as ʼn belangrike mens wat nie na die woorde van ʼn slaaf wat van sy eienaar af weggeloop het, te luister nie. Dit ten spyte daarvan dat hy die guns en beskerming van Dawid geniet het. Nabal se woordeskat en denkpatroon word deur die woordjie “Ek” oorheers.
Die beeldskone en wyse Abigajil daarteenoor vertoon nederigheid in haar optrede teenoor Dawid. In haar ontmoeting met hom groet sy hom op ʼn eerbiedwaardige wyse. Sy voorsien in die manskappe se behoefte vir voedsel. Sy weerhou Dawid daarvan om wraak te neem deur Nabal dood te maak en so God se gebooie te oortree. Dawid se belange weeg vir haar baie swaarder as haar eie voordele. Sy onderwerp haar volkome aan God.
Nederigheid is een van die grootste karakter eienskappe van Jesus. In Jh 13:1-17 lees ons dat Hy sy dissipels se voete gewas het. Jesus gebruik elke oomblik en geleentheid om God te verheerlik. Deur liefde gedryf verrig hy die nederigste taak om die werk van ʼn slaaf op te neem en die dissipels se voete te was.
Nederigheid is om jou nie bo ander te stel nie. Dit is om minder as ander te wees. Dit onderwerp my onmiddellik aan die duiwel se dodelike aanvalle. Sedert die sondeval probeer hy om groter as God te wees. Ons word uitgedaag om teen God in opstand te kom deur aan ons selfgeldende en selfsugtige leefstyl aandag te gee waar ek die hoofrol vertolk.
Christus leer ons met sy hele lewe wat dit beteken om jou aan God te onderwerp en nederig te lewe.
Dors vir meer:
Kol 3:1-17
Gebed
Here, bevry my van selfsug en hoogmoed en leer my om nederig te lewe. Dankie dat Christus my van sonde skoon gewas het en dat ek aan U voete mag sit. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply