Skrifgedeelte: Gal 5:13-26   Teks wat tref: Gal 5:22

Gal 5:22 –  “Die vrug van die Gees daarteenoor is………. selfbeheersing.”

Selfbeheersing is nie iets wat natuurlik kom nie. Dit is die vermoeë om ons gedrag te beheer. Om egter van die “eie ek” te verwag om homself te beheer is een van die moeilikste take om te verrig. Dit kan alleen gebeur wanneer die Gees van God in ons regeer. Dit wys dat ek aan Jesus Christus behoort. God se volle genade word gesien in die optrede van die mens wat met selfbeheersing lewe.  

God weet dat die mens van nature sonde doen. Selfbeheersing as vrug van die Gees word nie met ʼn eienskap van God vergelyk nie.  God het geskape en is in Beheer van alles. God is in sy wese sonder sonde. Goedheid, getrouheid, liefde en vrede as vrug van die Gees beskryf God se karakter.  Ons lees in 1 Jh 1:5 –“God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

In Gal 5:19 word die praktyke van die sondige natuur genoem (onsedelikheid, losbandigheid, haat, uitspattigheid en al derglike dinge) sodat die mens duidelikheid sal hê dat selfbeheersing vir elke lewensterrein geld.

Selfbeheersing beteken in wese niks anders as dat ek aan God gehoorsaam is nie. Ek leef in die gebaande weë wat God in sy Wet beveel.  Ek onderwerp my aan God se gesag.  Ek maak doelbewuste keuses om sekere gedrag te verander. Selfbeheersing het ten doel om harmonie en vrede te bewerkstellig.  As Geesvervulde mens beteken selfbeheersing dat ek my gewoontes en gebruike diensbaar maak. Van my word verwag om sekere dinge prys te gee. Ons moet hier baie prakties dink en selfbeheersing toepas as dit gaan oor my lewenstyl, verhoudinge, eetgewoontes, humeur en naasteliefde.  Ek laat die Gees toe om my lewe te beheer.  Ek let op die manier hoe ek met  my geliefdes praat, ek kies my woorde sorgvuldig wanneer ek kwaad word en ek vergryp my nie aan kos, drank en ander dinge nie. 

Die Grieks vir selfbeheersing is: gematig, inskiklik, om jou nie deur jou woede en drifte te laat meesleur nie. In 2 Tim 1:7 lees ons – “God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing!”  Uit genade skenk God skenk aan ons ʼn nuwe lewe. Ek leer om my oog op Christus te hou en my hoop in Hom te vestig.  Dan verander my lewe en soek ek God se koninkryk en dien ek die belange van my naaste.

Dors vir meer:

1 Pt 3:8-12

Gebed

Here, ek raak so maklik buite beheer en kan soms nie keer.  Dankie dat U Woord my die regte pad leer en dat U Gees my bewaar.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235