Skrifgedeelte: Psalm 37
Vers wat tref:21 en 26.

Goedhartigheid!
Goedhartigheid het die betekenis van iemand wat ʼn goeie hart het. Hierdie Griekse woord het daarom ook die stam “goed” in die woord. Iemand wat die goeie uitleef. Dit het veral ook die betekenis van iemand wat goed doen aan ander deur vrygewig te wees. Om die goeie aan ander nie terug te hou nie.

Dankbaar het die Here ons hart vernuwe en verander sodat ons nie meer die slegte soek en najaag nie. Ons is nie meer in opstand teenoor die Here nie en soek nie net ons eie belang nie. Die Heilige Gees het ons verander sodat ons die goeie soek en dit najaag- dat ons omgee vir ander, ʼn goeie hart mag hê om die swaarkry van ander raak te sien en op te tree.

Goedhartigheid is net soos vriendelikheid ook ʼn doen gesindheid. Jesus Christus het ons geleer in die gelykenis van die huis op die rots dat ons moet luister en doen. So moet ons goedhartigheid ook uitleef deur vrygewig ander in hul nood by te staan. Hierdie beginsel kry ons baie in die Ou Testament. Die volk moes goedhartig wees teenoor mekaar en mekaar help as hul kon.

In Psalm 37 is dit dan ook een van die kenmerke van ʼn regverdige- hy is altyd goedhartig en mededeelsaam.
Laat ons wanneer ons die gevolge van die Covid-19 pandemie beleef, onthou om goedhartig teenoor mekaar te wees. Laat ons begin in ons wyke, in ons gemeente die diakonie help in hierdie dienswerk en ook ons medegelowiges rondom Pretoria en oor die wêreld heen.

Gebed.
Here, dankie dat U my seën sodat ek weer vir ander tot seëning kan wees. Help my om te hoor te doen.
Amen.

Dors vir meer:
Deuteronomium 15

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei.