Category: Uncategorized (Page 8 of 33)

Dagstuk 23 Junie 2021 – Koninkryk kinders leer ons wat dit beteken om te vertrou (4) – Skrifgedeelte: Dan 1:1-21

Skrifgedeelte: Dan 1:1-21      Teks wat tref: Dan 1:17

Dan 1:17 – “God het aan hierdie vier jongmanne (seuns) verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid.”

Daniël en sy vriende word as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer op die jeugdige ouderdom van omtrent 13 jaar oud. Koning Nebukadneser dring by Aspenas daarop aan dat die seuns uit die koninklike geslag en huise van die vername mense geneem word.  Daarby moes hulle sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig en bekwaam om in die paleis diens te doen.   Hulle word aan die vreemde praktyke en gewoontes van ’n koning wat God nie erken nie, onderwerp. Hulle word van hul identiteit gestroop wanneer hulle ander name kry.  Alle bande met hul verlede word verbreek.  Selfs hulle eetgewoontes moes verander. 

Die proefneming met die kossoorte wat Daniël en sy vriende moet eet, lei daartoe dat hulle ver bo die ander gevangenes uitstyg.  Hulle ontvang verstand, insig en wysheid in so ’n mate dat die vreemde koning hulle onverwyld in top poste aanstel. Hiervoor het God reeds voorsiening gemaak deurdat hulle die nodige opleiding in hul ouerhuise ontvang het.  Dit is ook duidelik dat hulle reeds van kindsbeen af van God geleer het.  Daarom weier hulle om van die koning se kos te eet en aan die heidense praktyke deel te neem.  ʼn Prysenswaardige voorbeeld deur hierdie kinders gestel!

Tog was dit nie hulle dieet wat hiervoor gesorg het nie.  Alhoewel die regte en gesonde voedsel belangrik is, was dit eerder hulle vertroue op die Here wat hulle onderskei het.  Hul toewyding aan God was so belangrik dat hulle bereid was om hul eetgewoontes aan te pas om te wys dat die Here in alles voorsien.  Die huidige tydgreep waarin ons lewe vra ook verandering van gewoontes en gebruike waaraan ons gewoond was.

Om in ’n lewende verhouding met die Here te staan, is veel belangriker as dit wat ek eet en drink. Daniël en sy vriende se gehoorsaamheid aan God lei daartoe dat hulle tien maal beter as al die ander towenaars en voorspellers is. 

In God se koninkryk is ouderdom nie belangrik nie.  Die Here leer ons om gehoorsaam te wees en om te vertrou. Die optrede van hierdie jong seuns motiveer ons om ook nes kinders blindelings te vertrou en te weet dat God sal voorsien.  Benewens dit wat ek in sy Woord leer, sorg Hy ook vir die regte dieet, sodat ek met onderskeiding kan optree. 

So het God vir Christus gestuur en Hom laat oorwin sodat ek elke dag met vertroue kan begin. 

Dors vir meer:
Lk 4:1-13

Gebed
Here, baie dankie vir die voedsel en versorging wat ek onverdiend ontvang. Skenk aan my die insig en wysheid om reg te kan onderskei. Leer my om soos ʼn kind op U te vertrou.  Amen

Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235

Dagstuk 21 Junie 2021 – Koninkryk kind bewerk veiligheid (3) – Skrifgedeelte: Hd 23:12-22

Skrifgedeelte: Hd 23:12-22     Teks wat tref: v 16

Hd 23:16  – “Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel.”

By verskeie geleenthede gebruik God kinders om sy plan uit te voer. In 2 Kon 5 beweeg die getuienis van ʼn jong ontvoerde dogtertjie vir Naäman tot ʼn belydenis dat daar net een God is nadat die Here hom van melaatsheid genees.  In Daniël 1 kies die jong manne gesonde kos en slaag hulle die toets om te wys dat die Here voorsien wanneer op Hom vertrou word.

In Handelinge 23 ontmoet ons vir die apostel Paulus nadat hy voor die Joodse Raad verskyn het. Nadat hy getuig het dat hy met ʼn skoon gewete sy lewe in diens van God gelei het, breek daar ʼn hewige stryd uit.  Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarna word ʼn komplot gesmee om Paulus dood te maak. Vir sy eie veiligheid word hy in die kaserne opgesluit en kom staan die Here in die nag by hom en beveel hom om moed te hou. (Hd 23:11)

Hierdie gebeure veroorsaak groot spanning en te midde van die dreigende en groeiende gevaar en intensie van die mense om Paulus dood te maak, word die situasie ontlont as die seun van Paulus se suster op die toneel verskyn.  Hy is heel moontlik nog uit die pad gestamp deur die briesende Jode wat Paulus wou doodmaak.  Niemand het enigsins van hom notisie geneem nie.  Hy was maar net nog ʼn kind wat daar teenwoordig was. 

Nadat die seun van die komplot verneem het, tree hy vinnig en doelgerig op. Hy gaan dadelik vir Paulus daarvan vertel.  Die rol van die seun is tweeledig. Eerstens laat sy woorde Paulus terug dink aan God se opdrag en bemoediging in Hd 23:11 as die Here vir hom sê: “Hou moed!”  Tweedens gebruik God se Gees hom as instrument om Paulus se veiligheid te verseker. 

Dit was destyds ongewoon dat ʼn jong kind by die kaserne toegelaat is.  Wat nog daarvan dat ʼn seun voor die kommandant sou verskyn? Hy beskik oor geen militêre opleiding en het geen rang nie.  En tog beskik die Here dit so dat die offisier hom aanhoor en boonop  verdere opdragte gee  dat Paulus se veiligheid die hoogste prioriteit is. 

Die Here gebruik ʼn jong kind om ʼn gesoute kommandant tot drastiese optrede te beweeg.  Nadat hy die seun aangehoor het laat hy hom gaan.  Daarna tref die kommandant uiterste maatreëls wanneer Paulus na Sesarea vertrek vir die voortsetting van sy verhoor.  God gebruik ʼn jong seun om te verseker dat Paulus veilig in Rome sal aankom vir sy verhoor. 

Toe God die mens wou verdelg laat Hy Christus in die pad kom staan om ons veiligheid te verseker en die ewige lewe te verwerf.  

Dors vir meer:

2 Kon 5

Gebed

Here, dankie dat U kinders gebruik om U diensknegte se veiligheid te verseker.  Dankie dat U my elke oomblik veilig hou.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 18 Junie 2021 – Koninkryk kinders besing die Here se magtige werk (2) – Skrifgedeelte: Ps 8:1-10

Skrifgedeelte: Ps 8:1-10 Teks wat tref: v3

Ps 8:3 – “Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het.”

Die Here se wonderbare Naam wat oor die hele aarde is, kan nooit deur die mens se verstand begryp of vasgevang word nie. God se Naam is daarvoor gans te groot en te heerlik. Alles wat Hy in die hemelruim geplaas het, is glansryk. So helder dat geen woorde dit kan beskryf nie. Tog meld Dawid dat kinders en suigelinge die Here se magtige werk besing.

Deur gebruik te maak van teenoorgestelde uiterstes leer ons met hierdie Psalm van Dawid iets van die Here se grootheid verstaan. In vers 2 gebruik hy God se Naam waarmee Hy Hom (Jahwe) aan ons bekend gestel het en tegelykertyd bely hy ook dat ons die Here se eiendom is. Die ander uiterste is die absolute nietigheid van die mens. Dawid is in verwondering dat daar in die Here se skepping plek is vir die mens.

Met nog ʼn uiterste stel Dawid kinders en suigelinge teenoor vyande en wraakgieriges. Brose babas teenoor gierige geweldenaars. Jong kinders onder die ouderdom van drie jaar bring wraakgieriges tot swye. Dit is wat kinders in God se skepping vermag. Daarom leer Jesus ons in Mt 18:14 dat die koninkryk juis vir die kindertjies is.

Wanneer kinders en suigeling die Here se majesteit in Ps 8 besing, gebruik Hy hulle om van sy majesteit te getuig. Die geboorte van ʼn baba laat ons verwonderd staan oor die unieke en kosbare manier waar God lewe gee. Hy vorm die baba in die moederskoot (Ps 139) en graveer my naam op sy handpalm (Jes 49:16) sodat Hy my nooit sal vergeet nie.

Kinders is ʼn geskenk van die Here en hoe wonderlik is dit dan nie dat hulle juis die mag het om God se teenstanders tot swye te bring as hulle sy magtige werk besing. Dit is hoe belangrik kinders vir die Here is. Die Here laat die grootheid van sy Naam weerklink uit die bestaan van ʼn klein babatjie en uit die mond van klein kindertjies sodat sy vyande en teëstanders verstom staan.

Met Jesus se geboorte as baba het Hy net soveel verwondering gebring. Wyse manne en engele het sy lof besing. Deur hierdie baba het daar vir ons verlossing gekom en is ons van alle teenstanders bevry toe Jesus vir ons gekruisig is en ook opgestaan het. Daardeur het ons kinders van sy koninkryk geword om die groot werke van sy hande te besing!

Dors vir meer:
Ps 139

Gebed
Here, baie dankie dat U my deel van U skepping gemaak het. Lei ons deur U Gees om die stemme van elkeen van U kinders te laat hoor om saam U lof te besing. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 16 Junie 2021 – Koninkryk kinders (1) – Skrifgedeelte: Mt 18:1-9 en 13-15

Skrifgedeelte: Mt 18:1-9 en 13-15 Teks wat tref: Mt 18:3

Mt 18:3 – “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. ”

In die warboel van gebeure pas nadat Jesus vir ʼn tweede keer sy dood en opstanding in Matteus 17 aangekondig het, kom sy dissipels na Hom met ʼn vreemde vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Nie een bekommer hul oor hul Here se naderende dood nie. Hulle selfsug en eie belang weeg swaarder.

Jesus gebruik hierdie geleentheid om ʼn kosbare les te leer. Toe Hy ʼn kindjie nader roep was hulle beslis verbaas en verontwaardig. Het Jesus dan nie begrip vir hul stryd en kwelvraag nie? Sy antwoord is op die man af en vol gesag. “Dit verseker Ek julle.” Hulle het hierdie einste woorde al meer male gehoor wanneer Jesus iets aangekondig het waarvan die uitkoms nie verander kan word nie. Hulle hoor dat hulle glad nie belangrik genoeg vir die koninkryk van die hemel is nie. Met rooi gesigte dink hulle aan hul vraag oor wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is.

Hulle moet verander en soos kindertjies word. Die spreekwoord dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie was destyds nog meer van toepassing. Die woordjie wat vir “kindertjies” gebruik is, het kinders onder die ouderdom van twaalf aangedui. “Laerskool kinders.” Kinders wat nog soveel moet leer. Kinders wat nog soveel ervaring kortkom. Kinders wat destyds nog nie eens by die tempel toegelaat is nie. Ja, hulle is die belangrikste. So belangrik dat Jesus hulle op dieselfde vlak en posisie met Homself stel. “En wie so ʼn kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.” Jesus leer ons dat kinders gesien en gehoor moet word.

Hiermee dui Jesus aan dat ons die gesindheid van kindertjies sal openbaar. Jong kinders vertrou elke woord van hul ouers. Jong kinders se oë is op ouers gerig vir leiding en ʼn veilige bestaan. Vir voedsel, klere, hoop en sekerheid. Vir al hierdie dinge is ons oë op Jesus gerig.

Daarna gaan Jesus voort om die dissipels verder te leer wie werklik belangrik is. Hy gebruik in vers 6 die woord “kleintjies” teenoor die woord “kindertjies” in vers 3 om daarmee almal aan te dui wat deur die God se genade uitverkies is en deur God wedergebore gemaak is. As Christus met sy bloed vir jou betaal het, is jy belangrik en niemand sal dit ooit kan verander nie. Inteendeel kan hul die ergste verwag. Dit is beter dat hulle in die diep see verdrink. Hulle word aan God se volle oordeel onderwerp.

Aan die einde van Matteus 18 kry ons die pragtige beeld waar Jesus wys dat kindertjies vir Hom belangrik is wanneer Hy sy hande op hul lê. Hiermee betoon Hy sy absolute en onvoorwaardelike liefde.

In die volgende aantal dagstukkies wil ons DV gedeeltes bepeins waar God juis kindertjies gebruik het om ons meer van sy koninkryk te leer.

Dors vir meer:
Ps 131

Gebed
Here, stroop my van my eie hoogheidswaan en selfsug. Stuur U Gees om my die gesindheid en geloof van ʼn kind te leer en om volkome op U te vertrou. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 14 Junie 2021- Toegerus deur die Gees (7) Die amp van Predikant. – Skrifgedeelte: 2 Timoteus 4:1-9

Skrifgedeelte: 2 Timoteus 4:1-9
Vers wat tref, vers 1 en 2. “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,”

Vanoggend maak ons klaar met ons reeks oor die toerusting deur die Heilige Gees. Wat is ʼn predikant/dominee? Iemand wat net op ʼn Sondag werk soos die bekende grappie?
Heel eerste moet ons verstaan dat die amp van predikant ʼn voortsetting is van die amp van ouderling en daarom word ʼn predikant ʼn lerende ouderling genoem. Ons moet nooit ʼn dominee kerk wees nie – ʼn gemeente waar die diens van predikant alle ander aktiwiteite oordring of oorheers. By so ʼn gemeente, gaan die liggaam van Christus gebrek lei, deurdat al die lidmate nie saam hulle gawes uitleef nie.

Wat is die taak van die predikant dan? In die Woord van die Here word vir ons die beginsels van die dienswerk gegee, alhoewel ons nie baie praktiese riglyne kry oor hoe dit gedoen moet word nie. Die fokus is meer op wat gedoen moet word, as hoe dit gedoen moet word. Die dagboek en taak van ʼn predikant kan daarom baie verskil van gemeente tot gemeente, maar die beginsels bly dieselfde.
In die Kerkorde word die amp van bedienaars van die Woord as volg omskryf:
Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente, en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

In 2 Timoteus word die dringendheid waarmee hierdie opdrag uitgevoer moet word beklemtoon. Christus is Koning en Regter en Hy kom weer om te oordeel. Die tyd is min, die werk is baie en daar is baie aanvalle en teenstand teen die verkondiging van die Woord.

Bid ook onophoudelik vir ons predikante wat die Woord en gesag van Christus moet bedien. Bid dat hulle altyd die nabyheid van die Heilige Gees sal beleef en met vrymoedigheid die Woord kan verkondig en bly by die waarheid van die evangelie.

Gebed.
Dankie Here dat u predikante skenk vir ons gemeente om te kan volhard in die bediening van die U Woord. Skenk aan hulle die wysheid en die krag om U gemeente toe te rus, sodat u gemeente kan groei in die geloof en goeie werke. Mag ons saam U in alles loof en eer. Amen.

Dors vir meer:
NGB Artikel 30 en 31.
Titus 1.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 11 Junie 2021- Toegerus deur die Gees (6) Die amp van Ouderling. – Skrifgedeelte: Handelinge 20: 17-38.

Skrifgedeelte: Handelinge 20: 17-38.
Vers wat tref, Handelinge 20:28 “Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.”

Wat is ʼn ouderling? Iemand wat gou voor Nagmaal kom kuier en praat oor die weer en politiek, ʼn stukkie lees en oor drie maande weer kom?

Christus het ons losgekoop deur Sy bloed en beskerm en regeer Sy kerk. Christus gee om vir Sy bruid en pas die bruid baie mooi op. Daarom gee die Here ouderlinge om die hele kudde op te pas.
In besonder word die ouderlinge van Efese hieraan herinner deur Paulus se besoek in Handelinge 20.
Die ouderlinge moet die kudde oppas wat die Heilige Gees onder hulle sorg gestel het.
Ampsdraers word deur die Here self gegee vir sy gemeente. Elke ouderling moet besef hoe groot verantwoordelikheid is hierdie roeping en taak wat vanaf die Here kom.

Veral moet ouderlinge waaksaam wees teenoor die wrede wolwe wat onder ons wil indring en leuens vertel. Ouderlinge moet toesig hou dat die evangelie suiwer verkondig word in die gemeente en self ook die evangelie verkondig saam met die predikante. In die bevestigingsformulier word dit uitgelig dat ouderlinge geroep word om die gemeente te regeer en te versorg deur die Woord van God.

ʼn Besonderse belangrike, maar ook moeilike taak. Daarom herinner Paulus die ampsdraers van Efese dat hulle nie self in staat is om die gemeente op te bou nie. Slegs die Here kan dit doen. Ampsdraers het ‘n belangrike en verantwoordelike taak, maar die gemeente bly die Here se eiendom. Die Here gebruik mense. Maar dit bly Sy saak. Die Here sorg vir sy gemeente.

Bid vir die ouderlinge van ons gemeente en dat die Here ampsdraers sal voorsien om Sy gemeente op te bou en te regeer.

Gebed.
Dankie Here dat U persone toerus met U Heilige Gees om in besonder as ouderlinge te dien. Skenk aan ons ouderlinge die wysheid en die krag om U gemeente te versorg en te regeer. Mag ons saam U in alles loof en eer. Amen.

Dors vir meer:
NGB Artikel 31.
1 Petrus 5:1-4.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 9 Junie 2021- Toegerus deur die Gees (5) Die amp van Diaken.- Skrifgedeelte: Handelinge 6:1-8.

Skrifgedeelte: Handelinge 6:1-8.
Vers wat tref, Handelinge 6:5 “Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, ‘n man met ‘n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het.”

Ons staan bietjie stil by die besonderse ampte wat die Here vir sy kerk gee, naamlik diaken, ouderling en predikant.
Partykeer bestaan daar ʼn persepsie dat die diaken amp nie so belangrik is nie, dat dit die persone is wat die kollekte sakkie omstuur. As ons kyk na die diaken amp dan kan dit nie verder van die waarheid af wees nie en moet ons nooit die een amp belangriker of bo ʼn ander plaas nie.

In Handelinge 6 kry ons die verkiesing van die eerste diakens. Die onderlinge liefdesdiens het skade gelei en die apostels kon nie die verkondiging van die woord verwaarloos om aan die versorging aandag te gee nie. Persone is gekies om te help met die onderlinge versorging en liefdesdiens in die gemeente. ʼn Gemeente moenie net die waarheid van die evangelie verkondig nie, maar moet by die waarheid in liefde bly. Onderling met die liefde van Christus sigbaar uitgeleef word.
Hiervoor was persone nodig wat vol van die Heilige Gees is en wysheid het om hierdie taak te kon doen. Net so moet ons vandag persone as diakens beroep wat vol van die Heilige Gees is en ʼn vaste geloof het.
Dan sal hulle werklik kan dien (diaken beteken dienaar) en veral die fokus van priesterskap in die gemeente uitleef. Diakens help dan ook om ander in die gemeente toe te rus.
Daarom is ons nie ʼn gemeente waar lidmate net ʼn nommer is nie. Ons is ʼn gemeente waar ons mekaar ken en mekaar se laste dra, want hoe kan jy iemand liefhê as jy hulle nie ken nie? Hoe kan jy iemand help as jy nie hulle nood ken nie?

Laat ons met vrymoedigheid mekaar liefhê en ons diakens se hande sterk maak. Mag ons groei in ons liefde vir die Here ons God!

Gebed.
Dankie Here dat u persone toerus met U Heilige Gees om in besonder as diakens te dien. Skenk aan ons diakens die krag om met wysheid ander toe te rus om te groei in ons liefde vir U en mekaar. Amen.

Dors vir meer:
1 Timoteus 3:8-13

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 7 Junie 2021- Toegerus deur die Gees (4) Koning.- Skrifgedeelte: Hebreërs 12:1-12 .

Skrifgedeelte: Hebreërs 12:1-12 .
Vers wat tref, Hebreërs 12:4: “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie.”

Wat is die take van ʼn koning? ʼn Koning moet met wysheid sy gebied en onderdane bestuur en beskerm. Jesus Christus beskerm en lei ons deur die Woord en Gees. Hy beskerm en bewaar die Kerk en laat ons deel in die oorwinning.

As Christene het ons ook die taak om beskerm en te bewaar. Ons het die waarheid van die evangelie ontvang, daarom moet ons die dwaalleraars en Antichriste teenstaan. Ons roeping as Christene sluit dan in dat ons moet stry teen ons sondige natuur, die wêreld en die Satan.
Stry jy nog teen die sonde? Of raak ons gemaklik met die sonde in die wêreld en in ons eie lewens?
Christus het met sy lewe betaal sodat ons kan lewe- daarom kan ons nie ligtelik staan teenoor sondes nie.
In Hebreërs 12:4 kry ons dan hierdie oproep: Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ʼn stryd om lewe of dood geword het nie. Ons moet enduit volhou om te stry teen die sonde. In alle aspekte van ons lewe en waar ons ook lewe. Ons moet voortdurend weer ons lewens terugdraai na God toe- vra na ons Koning se wil en bestudeer sy Woord.
Uit eie krag kan ons die stryd nie volhou nie, en die oorwinning nie behaal nie, maar deur die krag van die Here kan ons wel. Deur Christus is ons meer as oorwinnaars. Daarom moet ons Hom voortdurend biddend smeek om sy hulp in hierdie stryd. Ons het die vaste geloofsvertroue dat die Here ons bewaar, daarom kan ons alles in die stryd werp om te stry teen die sonde.

Hou Jesus Christus voor oë, dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Gebed.
Ons hemelse Vader. Dankie dat ons meer as oorwinnaars is deur Jesus Christus. Lei my om alles in die stryd te werp om teen die sonde en U vyande te stry. Dankie dat ek dit nie uit eie krag moet doen nie, maar dat U my versterk deur U Heilige Gees. Amen.

Dors vir meer:
2 Timoteus 4:1-8.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 4 Junie 2021- Toegerus deur die Gees (3) Priester. – Skrifgedeelte: Romeine 12:1-8.

Skrifgedeelte: Romeine 12:1-8.
Vers wat tref, vers 1. “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”

Priesters in die Ou Testament se taak was om te offer, te bid en om die volk te seën.
Dit alles was deel van die heenwysing na Jesus Christus wat Homself geoffer het, vir ons intree en ons laat deel in die seëninge van die Here.

Ons het nog steeds hierdie taak om ook as priesters te offer, te bid en die Here seën aan ander uit te leef.

Die oproep in Romeine 12 is in die agtergrond van alles wat die Here vir ons gedoen het deur Jesus Christus. Wat is ons reaksie hierop? Hoe leef ons nou ons godsdiens uit? Ons wy ons self as lewende dankoffers aan die Here toe. Ons bring nie iets anders na die Here toe, maar plaas ons self as dankoffer in die Here se diens. Ek stel myself en alles wat ek het (my gawes, talente, middele, tyd) in diens van die Here tot sy eer en tot uitbou van sy koninkryk. Daarom maak ek nie soos die wêreld om my nie, ek laat my gedagtes vernuwe, ek skuif my wil opsy en lewe volgens God se wil. Ek self is nou ʼn lewende, heilige offer aan God toegewy.

Daarom volg die ander twee elemente van priesterskap ook in hierdie gedeelte. Ons bou die liggaam van Christus deur voortdurend vir mekaar te bid. Mekaar te ondersteun in beproewings en te deel in mekaar se vreugde.
Laastens is ons as Christen-priesters vir mekaar ʼn seën. Ons is vir mekaar tot seën wanneer ons as lewende offers leef gehoorsaam aan God se Woord. Ons seën mekaar ook met ons gawes en talente en middele waarmee die Here ons geseën het.

Leef vandag daarom ook as ʼn Christen priester met Christus as ons enigste Hoëpriester.

Gebed.
Here God. Hoe kan ek U dank vir U groot liefde deur Jesus Christus? Lei om vandag ʼn lewende en heilige offer te wees wat vir U aanneemlik is. Amen.

Dors vir meer:
Eksodus 28-29

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 2 Junie 2021- Toegerus deur die Gees (2) Ek is ‘n profeet. – Skrifgedeelte: Jeremia 1:4-8.

Skrifgedeelte: Jeremia 1:4-8.
Vers wat tref, vers 7 “Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.”

Wat is ʼn profeet? ʼn Profeet is iemand wat deur God geroep is om sy wil en woord aan ander persone bekend te maak.
In Jeremia 1word vir ons bekend gemaak die spesifieke roeping van een persoon, maar in Matteus 28:19-20 en Handelinge 1:8 word die opdrag aan alle volgelinge van die Here gegee om te getuig en dissipels te maak.
As profete moet ons skaamteloos die enigste redding wat daar is deur die evangelie van verlossing in Jesus Christus, aan alle mense verkondig. Ons moenie skaam wees of huiwer om dit te doen nie- nie bang te wees vir die wêreld nie.

Elkeen van ons is geroep om God se wil en sy karakter bekend te maak aan ander. Die Heilige Gees rus ons toe om oral te getuig- by ons werk, by ons vriende, by ons familie, by die sportveld, orals waar ons gaan. Altyd en orals!
Is hierdie opdrag dan net vir kerke en predikante moet uitgaan om dit te doen? Evangelisasie kan deur die kerk op ʼn georganiseerder wyse plaasvind met sendelinge wat vir hierdie taak uitgestuur word soos Di. Johannes, Rajesh en Eric.
Ons moet dit egter ook op ʼn daaglikse wyse deelmaak van my lewe. Daarom is dit belangrik dat ons God alleen openbaar soos wat Hy homself in sy woord aan ons bekend maak. Dit is noodsaaklik dat die Woord van God moet lees en bestudeer.

Moenie skaam wees nie, moenie sê ek is nog te jonk of te oud of ek kan nie goed praat nie. Die Here stuur ons, Hy rus ons toe deur die Heilige Gees en gee aan ons die woorde wat ons aan ander moet vertel.

Wees ʼn profeet van die Here vandag!

Gebed.
Here God. Dankie dat ons U mag ken. Lei ons ook om met gewillige voete die wonderlike evangelie van Jesus Christus te verkondig. Amen.

Dors vir meer:
Matteus 28:16-20.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

« Older posts Newer posts »