Skrifgedeelte: Hd 23:12-22     Teks wat tref: v 16

Hd 23:16  – “Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel.”

By verskeie geleenthede gebruik God kinders om sy plan uit te voer. In 2 Kon 5 beweeg die getuienis van ʼn jong ontvoerde dogtertjie vir Naäman tot ʼn belydenis dat daar net een God is nadat die Here hom van melaatsheid genees.  In Daniël 1 kies die jong manne gesonde kos en slaag hulle die toets om te wys dat die Here voorsien wanneer op Hom vertrou word.

In Handelinge 23 ontmoet ons vir die apostel Paulus nadat hy voor die Joodse Raad verskyn het. Nadat hy getuig het dat hy met ʼn skoon gewete sy lewe in diens van God gelei het, breek daar ʼn hewige stryd uit.  Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarna word ʼn komplot gesmee om Paulus dood te maak. Vir sy eie veiligheid word hy in die kaserne opgesluit en kom staan die Here in die nag by hom en beveel hom om moed te hou. (Hd 23:11)

Hierdie gebeure veroorsaak groot spanning en te midde van die dreigende en groeiende gevaar en intensie van die mense om Paulus dood te maak, word die situasie ontlont as die seun van Paulus se suster op die toneel verskyn.  Hy is heel moontlik nog uit die pad gestamp deur die briesende Jode wat Paulus wou doodmaak.  Niemand het enigsins van hom notisie geneem nie.  Hy was maar net nog ʼn kind wat daar teenwoordig was. 

Nadat die seun van die komplot verneem het, tree hy vinnig en doelgerig op. Hy gaan dadelik vir Paulus daarvan vertel.  Die rol van die seun is tweeledig. Eerstens laat sy woorde Paulus terug dink aan God se opdrag en bemoediging in Hd 23:11 as die Here vir hom sê: “Hou moed!”  Tweedens gebruik God se Gees hom as instrument om Paulus se veiligheid te verseker. 

Dit was destyds ongewoon dat ʼn jong kind by die kaserne toegelaat is.  Wat nog daarvan dat ʼn seun voor die kommandant sou verskyn? Hy beskik oor geen militêre opleiding en het geen rang nie.  En tog beskik die Here dit so dat die offisier hom aanhoor en boonop  verdere opdragte gee  dat Paulus se veiligheid die hoogste prioriteit is. 

Die Here gebruik ʼn jong kind om ʼn gesoute kommandant tot drastiese optrede te beweeg.  Nadat hy die seun aangehoor het laat hy hom gaan.  Daarna tref die kommandant uiterste maatreëls wanneer Paulus na Sesarea vertrek vir die voortsetting van sy verhoor.  God gebruik ʼn jong seun om te verseker dat Paulus veilig in Rome sal aankom vir sy verhoor. 

Toe God die mens wou verdelg laat Hy Christus in die pad kom staan om ons veiligheid te verseker en die ewige lewe te verwerf.  

Dors vir meer:

2 Kon 5

Gebed

Here, dankie dat U kinders gebruik om U diensknegte se veiligheid te verseker.  Dankie dat U my elke oomblik veilig hou.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235