Skrifgedeelte: Dan 1:1-21      Teks wat tref: Dan 1:17

Dan 1:17 – “God het aan hierdie vier jongmanne (seuns) verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid.”

Daniël en sy vriende word as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer op die jeugdige ouderdom van omtrent 13 jaar oud. Koning Nebukadneser dring by Aspenas daarop aan dat die seuns uit die koninklike geslag en huise van die vername mense geneem word.  Daarby moes hulle sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig en bekwaam om in die paleis diens te doen.   Hulle word aan die vreemde praktyke en gewoontes van ’n koning wat God nie erken nie, onderwerp. Hulle word van hul identiteit gestroop wanneer hulle ander name kry.  Alle bande met hul verlede word verbreek.  Selfs hulle eetgewoontes moes verander. 

Die proefneming met die kossoorte wat Daniël en sy vriende moet eet, lei daartoe dat hulle ver bo die ander gevangenes uitstyg.  Hulle ontvang verstand, insig en wysheid in so ’n mate dat die vreemde koning hulle onverwyld in top poste aanstel. Hiervoor het God reeds voorsiening gemaak deurdat hulle die nodige opleiding in hul ouerhuise ontvang het.  Dit is ook duidelik dat hulle reeds van kindsbeen af van God geleer het.  Daarom weier hulle om van die koning se kos te eet en aan die heidense praktyke deel te neem.  ʼn Prysenswaardige voorbeeld deur hierdie kinders gestel!

Tog was dit nie hulle dieet wat hiervoor gesorg het nie.  Alhoewel die regte en gesonde voedsel belangrik is, was dit eerder hulle vertroue op die Here wat hulle onderskei het.  Hul toewyding aan God was so belangrik dat hulle bereid was om hul eetgewoontes aan te pas om te wys dat die Here in alles voorsien.  Die huidige tydgreep waarin ons lewe vra ook verandering van gewoontes en gebruike waaraan ons gewoond was.

Om in ’n lewende verhouding met die Here te staan, is veel belangriker as dit wat ek eet en drink. Daniël en sy vriende se gehoorsaamheid aan God lei daartoe dat hulle tien maal beter as al die ander towenaars en voorspellers is. 

In God se koninkryk is ouderdom nie belangrik nie.  Die Here leer ons om gehoorsaam te wees en om te vertrou. Die optrede van hierdie jong seuns motiveer ons om ook nes kinders blindelings te vertrou en te weet dat God sal voorsien.  Benewens dit wat ek in sy Woord leer, sorg Hy ook vir die regte dieet, sodat ek met onderskeiding kan optree. 

So het God vir Christus gestuur en Hom laat oorwin sodat ek elke dag met vertroue kan begin. 

Dors vir meer:
Lk 4:1-13

Gebed
Here, baie dankie vir die voedsel en versorging wat ek onverdiend ontvang. Skenk aan my die insig en wysheid om reg te kan onderskei. Leer my om soos ʼn kind op U te vertrou.  Amen

Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235