Skrifgedeelte: Jh 6: 1-15 Teks wat tref: Jh 6:9
Jh 6:9 – “Hier is ʼn seuntjie met vyf gars brode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”
Ons leer God dikwels eers ken as daar ‘n krisis ontstaan. Omring deur ʼn groot skare mense en terwyl Jesus uitgeput is na al die wondertekens en die skares wat net nog meer wil hê, is dit juis Hy wat besef dat iemand hulle van ‘n maaltyd moes voorsien. Hy stuur ʼn seuntjie met vyf brode en twee vissies om in die nood te voorsien en wonders te laat plaasvind.
Ons is so gewoond om te fokus op die dinge wat ons nie het nie, dat ons gou vergeet van die baie wat ons wel uit die hand van die Here ontvang het. Filippus is dadelik gereed met verskonings en menslike berekeninge. Volgens hom is dit nie moontlik om soveel kos te koop nie. Twee honderd mense se dagloon sou nie eens genoeg wees nie. Andreas maak boonop ook nog die opmerking dat dit ʼn hopelose situasie. Al het Jesus soveel wonders in hulle teenwoordigheid gedoen, het hul steeds nie in Hom geglo en op Hom vertrou nie. Tussen die groot skare mense wat agter Jesus aanloop is daar ook ʼn klein seuntjie op pad huis toe. Hy word nie eens raakgesien nie. En tog bring hy hoop in die wanhoop!
Hierna leer Jesus die dissipels om te gebruik wat jy het. Met dit wat die seuntjie beskikbaar gehad het, sal Jesus nou voorsien. Jesus neem beheer oor. Hy gee opdrag dat die mense moet gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Met die vyf brode en die twee visse van die seuntjie word almal gevoed. Volgens Joodse gebruik word die kos wat oor is bymekaar gemaak. Daar is meer oor as waarmee aanvanklik begin is.
Jesus wil die dissipels nog meer leer. Voordat die wonder plaasvind, het Hy God daarvoor gedank – God is die Gewer van alles wat ek het. Die kostelike beeld van ʼn kind wat saam aan tafel sit en hande vou om te bid is seker een van die kosbaarste oomblikke waar ons leer wat dit beteken om ʼn verhouding met die Here te hê. In alle opregtheid en in volle vertroue is dit die toonbeeld van wat dit wat dit beteken om naby die Here te leef. Dit is nog ʼn les wat ons by kinders leer. Hulle vertrou net. Hulle vra nie vrae nie. Dit bring hoop in wanhoop!
Moenie kyk na dit wat jy nie het nie. Fokus op dit wat jy het. Die seun bring vyf brode en twee visse. Gebruik die dinge wat jy reeds tot jou beskikking het.
Aan die kruis het Jesus jou lewe ook verander. Ons kry baie meer as brood – ons kry lewe.
Dors vir meer:
Mt 6:25-34
Gebed
Here, baie dankie dat U in my daaglikse behoeftes voorsien. Dankie vir elke gawe wat ek uit U hand ontvang. Leer my om raak te sien dat alles vir U moontlik is en dat ek volkome op U kan vertrou. Maak my diensbaar in U Koninkryk. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply