Skrifgedeelte: Romeine 12:1-8.
Vers wat tref, vers 1. “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”
Priesters in die Ou Testament se taak was om te offer, te bid en om die volk te seën.
Dit alles was deel van die heenwysing na Jesus Christus wat Homself geoffer het, vir ons intree en ons laat deel in die seëninge van die Here.
Ons het nog steeds hierdie taak om ook as priesters te offer, te bid en die Here seën aan ander uit te leef.
Die oproep in Romeine 12 is in die agtergrond van alles wat die Here vir ons gedoen het deur Jesus Christus. Wat is ons reaksie hierop? Hoe leef ons nou ons godsdiens uit? Ons wy ons self as lewende dankoffers aan die Here toe. Ons bring nie iets anders na die Here toe, maar plaas ons self as dankoffer in die Here se diens. Ek stel myself en alles wat ek het (my gawes, talente, middele, tyd) in diens van die Here tot sy eer en tot uitbou van sy koninkryk. Daarom maak ek nie soos die wêreld om my nie, ek laat my gedagtes vernuwe, ek skuif my wil opsy en lewe volgens God se wil. Ek self is nou ʼn lewende, heilige offer aan God toegewy.
Daarom volg die ander twee elemente van priesterskap ook in hierdie gedeelte. Ons bou die liggaam van Christus deur voortdurend vir mekaar te bid. Mekaar te ondersteun in beproewings en te deel in mekaar se vreugde.
Laastens is ons as Christen-priesters vir mekaar ʼn seën. Ons is vir mekaar tot seën wanneer ons as lewende offers leef gehoorsaam aan God se Woord. Ons seën mekaar ook met ons gawes en talente en middele waarmee die Here ons geseën het.
Leef vandag daarom ook as ʼn Christen priester met Christus as ons enigste Hoëpriester.
Gebed.
Here God. Hoe kan ek U dank vir U groot liefde deur Jesus Christus? Lei om vandag ʼn lewende en heilige offer te wees wat vir U aanneemlik is. Amen.
Dors vir meer:
Eksodus 28-29
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply