Skrifgedeelte: Hebreërs 12:1-12 .
Vers wat tref, Hebreërs 12:4: “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie.”
Wat is die take van ʼn koning? ʼn Koning moet met wysheid sy gebied en onderdane bestuur en beskerm. Jesus Christus beskerm en lei ons deur die Woord en Gees. Hy beskerm en bewaar die Kerk en laat ons deel in die oorwinning.
As Christene het ons ook die taak om beskerm en te bewaar. Ons het die waarheid van die evangelie ontvang, daarom moet ons die dwaalleraars en Antichriste teenstaan. Ons roeping as Christene sluit dan in dat ons moet stry teen ons sondige natuur, die wêreld en die Satan.
Stry jy nog teen die sonde? Of raak ons gemaklik met die sonde in die wêreld en in ons eie lewens?
Christus het met sy lewe betaal sodat ons kan lewe- daarom kan ons nie ligtelik staan teenoor sondes nie.
In Hebreërs 12:4 kry ons dan hierdie oproep: Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ʼn stryd om lewe of dood geword het nie. Ons moet enduit volhou om te stry teen die sonde. In alle aspekte van ons lewe en waar ons ook lewe. Ons moet voortdurend weer ons lewens terugdraai na God toe- vra na ons Koning se wil en bestudeer sy Woord.
Uit eie krag kan ons die stryd nie volhou nie, en die oorwinning nie behaal nie, maar deur die krag van die Here kan ons wel. Deur Christus is ons meer as oorwinnaars. Daarom moet ons Hom voortdurend biddend smeek om sy hulp in hierdie stryd. Ons het die vaste geloofsvertroue dat die Here ons bewaar, daarom kan ons alles in die stryd werp om te stry teen die sonde.
Hou Jesus Christus voor oë, dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Gebed.
Ons hemelse Vader. Dankie dat ons meer as oorwinnaars is deur Jesus Christus. Lei my om alles in die stryd te werp om teen die sonde en U vyande te stry. Dankie dat ek dit nie uit eie krag moet doen nie, maar dat U my versterk deur U Heilige Gees. Amen.
Dors vir meer:
2 Timoteus 4:1-8.
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply