Skrifgedeelte: 2 Timoteus 4:1-9
Vers wat tref, vers 1 en 2. “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,”
Vanoggend maak ons klaar met ons reeks oor die toerusting deur die Heilige Gees. Wat is ʼn predikant/dominee? Iemand wat net op ʼn Sondag werk soos die bekende grappie?
Heel eerste moet ons verstaan dat die amp van predikant ʼn voortsetting is van die amp van ouderling en daarom word ʼn predikant ʼn lerende ouderling genoem. Ons moet nooit ʼn dominee kerk wees nie – ʼn gemeente waar die diens van predikant alle ander aktiwiteite oordring of oorheers. By so ʼn gemeente, gaan die liggaam van Christus gebrek lei, deurdat al die lidmate nie saam hulle gawes uitleef nie.
Wat is die taak van die predikant dan? In die Woord van die Here word vir ons die beginsels van die dienswerk gegee, alhoewel ons nie baie praktiese riglyne kry oor hoe dit gedoen moet word nie. Die fokus is meer op wat gedoen moet word, as hoe dit gedoen moet word. Die dagboek en taak van ʼn predikant kan daarom baie verskil van gemeente tot gemeente, maar die beginsels bly dieselfde.
In die Kerkorde word die amp van bedienaars van die Woord as volg omskryf:
Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente, en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.
In 2 Timoteus word die dringendheid waarmee hierdie opdrag uitgevoer moet word beklemtoon. Christus is Koning en Regter en Hy kom weer om te oordeel. Die tyd is min, die werk is baie en daar is baie aanvalle en teenstand teen die verkondiging van die Woord.
Bid ook onophoudelik vir ons predikante wat die Woord en gesag van Christus moet bedien. Bid dat hulle altyd die nabyheid van die Heilige Gees sal beleef en met vrymoedigheid die Woord kan verkondig en bly by die waarheid van die evangelie.
Gebed.
Dankie Here dat u predikante skenk vir ons gemeente om te kan volhard in die bediening van die U Woord. Skenk aan hulle die wysheid en die krag om U gemeente toe te rus, sodat u gemeente kan groei in die geloof en goeie werke. Mag ons saam U in alles loof en eer. Amen.
Dors vir meer:
NGB Artikel 30 en 31.
Titus 1.
Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei
Leave a Reply