Skrifgedeelte: Mt 18:1-9 en 13-15 Teks wat tref: Mt 18:3
Mt 18:3 – “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. ”
In die warboel van gebeure pas nadat Jesus vir ʼn tweede keer sy dood en opstanding in Matteus 17 aangekondig het, kom sy dissipels na Hom met ʼn vreemde vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Nie een bekommer hul oor hul Here se naderende dood nie. Hulle selfsug en eie belang weeg swaarder.
Jesus gebruik hierdie geleentheid om ʼn kosbare les te leer. Toe Hy ʼn kindjie nader roep was hulle beslis verbaas en verontwaardig. Het Jesus dan nie begrip vir hul stryd en kwelvraag nie? Sy antwoord is op die man af en vol gesag. “Dit verseker Ek julle.” Hulle het hierdie einste woorde al meer male gehoor wanneer Jesus iets aangekondig het waarvan die uitkoms nie verander kan word nie. Hulle hoor dat hulle glad nie belangrik genoeg vir die koninkryk van die hemel is nie. Met rooi gesigte dink hulle aan hul vraag oor wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is.
Hulle moet verander en soos kindertjies word. Die spreekwoord dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie was destyds nog meer van toepassing. Die woordjie wat vir “kindertjies” gebruik is, het kinders onder die ouderdom van twaalf aangedui. “Laerskool kinders.” Kinders wat nog soveel moet leer. Kinders wat nog soveel ervaring kortkom. Kinders wat destyds nog nie eens by die tempel toegelaat is nie. Ja, hulle is die belangrikste. So belangrik dat Jesus hulle op dieselfde vlak en posisie met Homself stel. “En wie so ʼn kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.” Jesus leer ons dat kinders gesien en gehoor moet word.
Hiermee dui Jesus aan dat ons die gesindheid van kindertjies sal openbaar. Jong kinders vertrou elke woord van hul ouers. Jong kinders se oë is op ouers gerig vir leiding en ʼn veilige bestaan. Vir voedsel, klere, hoop en sekerheid. Vir al hierdie dinge is ons oë op Jesus gerig.
Daarna gaan Jesus voort om die dissipels verder te leer wie werklik belangrik is. Hy gebruik in vers 6 die woord “kleintjies” teenoor die woord “kindertjies” in vers 3 om daarmee almal aan te dui wat deur die God se genade uitverkies is en deur God wedergebore gemaak is. As Christus met sy bloed vir jou betaal het, is jy belangrik en niemand sal dit ooit kan verander nie. Inteendeel kan hul die ergste verwag. Dit is beter dat hulle in die diep see verdrink. Hulle word aan God se volle oordeel onderwerp.
Aan die einde van Matteus 18 kry ons die pragtige beeld waar Jesus wys dat kindertjies vir Hom belangrik is wanneer Hy sy hande op hul lê. Hiermee betoon Hy sy absolute en onvoorwaardelike liefde.
In die volgende aantal dagstukkies wil ons DV gedeeltes bepeins waar God juis kindertjies gebruik het om ons meer van sy koninkryk te leer.
Dors vir meer:
Ps 131
Gebed
Here, stroop my van my eie hoogheidswaan en selfsug. Stuur U Gees om my die gesindheid en geloof van ʼn kind te leer en om volkome op U te vertrou. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply