Category: Uncategorized (Page 5 of 33)

Dagstuk 1 September 2021 – Loof die Here- daar is so baie redes daarvoor! – Skrifgedeelte: Psalm 103.

Skrifgedeelte: Psalm 103.
Vers wat tref, Psalm 103:10 “ Hy behandel ons nie ooreenkomstig ons sonde nie en vergeld ons nie ooreenkomstig ons sondeskuld nie;”

In die eerste deel van Psalm 103 is die persoonlike uitroep om die Here te loof met alles wat in jou is.
In hierdie tweede deel van die psalm kring die lof al verder uit totdat die hemelwesens en skepping die Here se lof moet besing!

As gemeente saam moet ons ook die lof van die Here besing- En daar is baie redes daarvoor!
In die eerste plek is God lofwaardig vir wié Hy is. Dit alleen is alle rede tot lof. In die tweede plek sing ons God se lof vir dit wat Hy doen (of ook nie doen nie).
God is barmhartig en genadig, geduldig en oorvloedig in troue liefde! Hy behandel ons nie soos wat ons sondeskuld ons toekom nie – maar bewys Sy troue liefde aan ons deur Jesus Christus. Met
Nagmaal is ons herinner God het ons oortredings heeltemal verwyder weg van ons want dit is ten volle in Jesus Christus betaal!
Sy troue liefde bly vir ewig oor ons.

Loof die Here, o, my siel!

Gebed.
Here!? Hoe kan ek U dank vir U grootheid en barmhartigheid? Dankie vir U groot ontferming en trou! Mag ek vandag U loof met alles wat in my is!
Amen.

Dors vir meer:
Eksodus 34.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 30 Augustus 2021 – Prys die Here met alles wat in my is! – Skrifgedeelte: Psalm 103.

Skrifgedeelte: Psalm 103.
Vers wat tref, Psalm 103: “ Loof die Here, o, my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam!”

Saam met Nagmaalsviering lees ons as lofprysing Psalm 103. Hoe gepas is hierdie psalm van Dawid nie vir ons nie? Gisteroggend is ons weereens onder die besef gebring van die Here se grootheid en goedheid vir ons.
Daarom wil ek uitroep: Loof die Here! Om die Here net met my mond te loof is nie genoeg nie. Ek wil die Here loof met my siel- met al my emosies en gedagtes. Na my volle menswees, met alles wie ek is. Ek wil die Here nog verder loof, met alles wat in my is- letterlik word hier verwys na my ingewandes- met my hele lyf en wese wil ek die Here loof.

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. So maklik kyk ons vas aan dit wat ons voel ons nie het nie, dit wat nog kort en ontbreek. Met nagmaal word ons weer herinner aan dit wat ons wel het- God het aan my volkome vergifnis van al my sondeskuld gegee! Christus se kruisdood is nie net vir ons ʼn gebeurtenis in die verlede nie, nee, reeds nou het ek die ewige lewe en God staan my by in al my omstandighede. Nagmaal laat my ook vorentoe kyk- ek kan hoop en uitsien op die wederkoms van Jesus Christus.

Daarom kan ek nie anders as om vanoggend weer die Here te loof met alles wat in my is nie!

Gebed.
Dankie Here dat ek U kan dank met my hele hart! Uit ʼn groot liefde en trou is daar vir my volkome skuldvergifnis. Ek sal U loof vir altyd!
Amen.

Dors vir meer:
Psalm 105

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 27 Augustus 2021 – God is groot! – Skrifgedeelte: Job 9:1-19

Skrifgedeelte: Job 9:1-19 Teks wat tref:  Job 9:4

Job 9:4   – “Die wysheid en krag van God is groot.”

Nadat nog een van Job se vriende hom in hoofstuk 8 probeer bemoedig begin Job weer praat. Hy erken dat die woorde van Bildad waar is. God sal weer vreugde gee en vir Job van blydskap laat jubel. (8:21) Tog laat dit Job se twyfel en wanhoop nie onmiddellik verdwyn nie.  Job se woorde spreek steeds van uiterste wanhoop. Hy beleef dat niemand ʼn saak teen God kan wen nie.  Hy probeer nog ʼn keer antwoorde kry.  Jy mag moontlik net so voel as jy die “waaroms” van die lewe probeer uitpluis.

Hierna word Job gelei om die wysheid en krag van God te beleef.  Sy waarnemings hiervan laat hom dadelik besef dat niemand God kan teëstaan nie. Die skepping getuig van die grootheid van God se werke. Hy gee opdrag aan die son om op te kom, Hy verseël die sterre, Hy span die hemel soos ʼn tent en Hy hou die golwe van die see in bedwang.  Wanneer ek voel dat alles rondom my wankel en dat duisternis die lig verdryf, is dit God se Almag wat weer nuwe hoop bring. As ek twyfel en voel dat alles kantel herinner God se skepping my dat alles op vaste fondamente staan. Selfs golwe wat my lewe bedreig en die harde realiteite van elke dag se swoeg en sweet kan my nie oorweldig nie.

Die verwysing na die Beer en Orion, die Sewester en die sterrebeelde in die suide, bring opnuut hoop. Deur al die eeue is sterre gebruik om rigting en koers aan te dui. Dit is simbolies van hoop. Elke ster in die hemelruim getuig van God se werke.  “Wat Hy doen is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder.” (9:10)

Naas God se teenwoordigheid in en beheer oor die skepping is God ook nooit ver van my nie. Selfs in die oomblikke wanneer dit voel dat ek die Here nie gewaar nie, en Hy deur sy Gees verby my sweef en ek dit nie agter kom nie, is God steeds daar.  Daar is niks wat God keer nie.  Tog bly Job worstel en voel hy dat God hom pynig met stormwinde en dat die lewe hom platslaan en hy nie kans kry om asem te skep nie. So mag my worstelstryd moontlik nie onmiddellik verdwyn nie. Nes Job word ek deur die realiteite van my lewensbestaan oorweldig.  Sy belewing verwoord my belewenis so treffend. 

Die oplossing hiervoor is dat ek steeds moet aanhou.  Job kry eers later antwoorde en berusting. Erken saam met Job dat Hy die sterke is. Spandeer tyd in God se teenwoordigheid.  In Openbaring 22:16 ontmoet ons vir Christus wat die helder Môrester is.  Dan verdwyn alle “waaroms” finaal.

Dors vir meer:

Op 22:6-21

Gebed

Here, dankie dat U altyd naby my is.  Dankie dat U lig vir elke dag bring.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 25 Augustus 2021 – God is teen (vir) my – Skrifgedeelte: Job 6:1-30 en 7:17-21

Skrifgedeelte: Job 6:1-30 en 7:17-21     Teks wat tref:  Job 6:4

Job 6:4   – “Die pyle van die Almagtige deurboor my. Verskrikkinge van God bedreig my.”

Dit klink amper nie of Job enigsins ag geslaan het op Elifas se woorde in hoofstuk 5:8 nie. Die raad val op dowe ore. Inteendeel lyk dit dat Job nog meer belewe dat sy omstandighede nooit sal verander nie.  Die dieptes word net donkerder. Sy woorde spreek van uiterste wanhoop. Sy ellende weeg swaarder as die sand van die see.  Jy mag moontlik net so voel as jy antwoorde vir die “waaroms” probeer kry.  Die dood van ʼn lewensmaat, die verterende en uitmergelende siektetoestand en die onregverdige behandeling van jou werkgewer voel soos pyle van die Almagtige wat jou deurboor.  Niemand ken jou pyn en gemoed nie. Die lewe maak nie eens meer sin nie.

Jy het nie ʼn eetlus nie. Jou vriende en die reisigers op die pad kan nie eens help om jou op te beur nie.  Job se wanhoop is so intens dat hy op geestelike en liggaamlike gebied geen toekoms sien nie. Hy ly aan slaaploosheid, sy liggaam is oortrek met wurms, rowe en stof. Hy beskryf die toppunt van selfbejammering. Dit is ʼn egte belewenis.  Hy het alles op aarde verloor. Sy huis, familie en rykdom. Hy kan nie eers na die Here gaan nie – Verskrikkinge van God bedreig hom (6:4). Hy verloor alle perspektief en glo selfs dat die Here hom sal soek maar dat hy ophou het om te lewe.

Ons kan ook sulke situasies beleef.  Dat jy so ver van die Here verwyder is dat niks meer sin maak nie.  Dan bring hoofstuk 7 ons juis weer in God se teenwoordigheid.  Al kry Job nie dadelik antwoorde nie, en al voel dit dat die Here hom verwerp het, werk die Heilige Gees in sy lewe.  Met elke vraag kan Job sy belewenis voor die Here bring.  Moet daarom nooit met jou” waaroms” self probeer antwoorde vind nie.  God gebruik vriende en reisigers om jou weer nader aan Hom te bring.

Aan die kruis het Christus gebid dat dit van Hom weggeneem sal word.  Deur gehoorsaam te bly en in sy gesprekke met sy Vader, het Hy die dood oorwin sodat ek kan lewe en nie verlore is nie. 

Dors vir meer:

Ps 86

Gebed

Here, dankie dat U my opvang wanneer dit voel dat alles in duie stort. Dankie dat ek met my worstelinge by U kan kom staan. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 23 Augustus 2021 – ʼn Nagmerrie – Skrifgedeelte: Job 5:1-17     

Skrifgedeelte: Job 5:1-17                                   Teks wat tref: Job 5:8

Job 5:8 – “As ek jy was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê.”

ʼn Nagmerrie

Na alles wat met Job gebeur het, ontmoet ons hom aan die einde van Hoofstuk 3 waar hy geen rus en vrede het nie. In sy eie woorde is daar geen verposing nie maar net angs. Daarna bemoedig sy vriende hom met gesprekke. Sy vriend Elifas se bedoelings is opreg.  Hy verwoord Job se gevoel. Aanvanklik hoor ons die simpatieke woorde waarmee Elifas hom ondersteun. Met gebruikmaking van ʼn interessante skryftegniek vol retoriese vrae word ʼn standpunt gestel. Daarna volg ʼn beredenering en dan ʼn slotargument.  Sodoende probeer hy antwoorde gee vir die “waaroms” van die lewe.

Tydens ʼn nagmerrie waar ʼn gesig vir Elifas ontstel en sy hare orent laat staan ervaar hy iets van die worstelstryd van die mens. Die beelde wat hy gebruik beskryf die intensiteit van sy belewenis dat daar net onreg is. 

Hy besef dat daar net antwoorde sal kom wanneer hy met God rekening hou (4:8,15 en 5:8).  Dit is die enigste manier om verbitterdheid, rampe en ellende te verwerk.  Hy bied nie ʼn kitsoplossing aan en gee nie valse vertroue nie.  Die Heilige Gees bring hom tot bedaring.

Vanaf hoofstuk 5:15 sien hy hoedat God op elke gebied ingryp. Hongersnood en oorlog hou op en daar is bevryding uit elke ramp. God verwyder selfs die klippe in die veld sodat ek nie sal struikel nie. Hy dink aan die kleinste detail. Dit is hoe goed Hy my ken.  As God ingryp is daar ʼn merkbare verandering.

Jou worstelstryd mag dalk op ʼn ander vlak wees.  Gebeure rondom jou veroorsaak dat elke aand se nagrus dalk in ʼn nagmerrie ontaard.  Jy voel te nagekom. Jy voel alleen. Jy voel verontreg.  Christus is tydens sy hele lewe op aarde aan al hierdie dinge onderwerp.  As Regverdige en Gestuurde van God verduur Hy dit alles sodat jy na die nagmerrie kan ontwaak en God se seëninge beleef.  Nie net die klippe in die veld nie, maar die sonde word verwyder. 

Bring daarom jou nagmerrie na die Here!

Dors vir meer:

Job 5:18-27

Gebed

Here, dankie dat U elke dag vir my sorg. Leer my om my saak aan U voor te lê.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 20 Augustus 2021 – Feestelikheid oor ʼn nageslag! – Skrifgedeelte: Rut 4

Skrifgedeelte: Rut 4
Vers wat tref, Rut 4:17 “Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.” Obed was die voorvader van Dawid.”

In hoofstuk 4 kom ons by die kern van die boek Rut. Die Here het nie net vir Rut en Naomi versorg nie, maar daar is nou ʼn nageslag vir Naomi en Rut. Hier is groot feestelikheid met die geboorte van Rut se seuntjie. Die leegheid en bitterheid wat Naomi beleef het, het nou verander in feestelikheid en volheid. Die seënbede wat die leiers Boas en Rut toegewens het, is vervul. Baie mooi word dit beklemtoon- Die Here het Rut laat swanger word. Dit is die Here wat voorsien het. Daarom ook die buurvroue se uitroep: Aan die Here kom die lof toe!
Mag ons na moeilike omstandighede ook weer die Here lof toesing omdat dit Hy is wat voorsien en versorg, al gebruik Hy mense om dit te doen.
Mag ons altyd in die Here se diens staan soos wat Obed beteken, ʼn dienaar en aanbidder van die God.

So is daar vir ons ook groot feestelikheid uit die nageslag van Rut- Die Here het Maria gekies sodat Jesus Christus as mens gebore is in Bethlehem. So het die Here onder ons kom woon.
Christus was en is ons Losser. As verlostes behoort ons nou aan die Here en is ons aanbidders en dienaars wat gereed is om as die liggaam van Christus hier op aarde die Here se sorg uit te dra en Hom te loof.
Mag die Here ons ook gebruik as instrumente om ander se gebede te antwoord en om aan ander te verkondig Jesus Christus is ons losser.

Gebed.
Here aan U kom al die lof toe! Dankie vir die verlossing en seëninge waaraan ons kan deel. Gebruik ons as U dienaars! Amen.

Dors vir meer:
Matteus 1:1-17

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 18 Augustus 2021 – Christus ons Losser! – Skrifgedeelte: Rut 3-4:12.

Skrifgedeelte: Rut 3-4:12.
Vers wat tref, Rut 3:13. “As hy dan môreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed, maar as hy nie wil nie, sal ek so seker as die Here leef, as losser optree. Bly hier tot môreoggend.”

Rut nader Boas om as haar losser op te tree. Nie enige iemand kan sommer net as losser optree nie.
In die eerste plek moes ʼn losser ʼn naby familielid wees. Die familielid moet dan ook welaf genoeg wees om die losser prys te kan betaal- die volle prys moet betaal word. Die losser moet bereid om as losser op te tree en lewenslank hierdie verpligting na te kom.
So gebruik die Here mense om ander mense te help en te versorg in hul nood.

Maar hierdie lossingswet dui vir ons baie mooi op Jesus Christus se koms. Jesus Christus wat die enigste een is wat in staat is om as ons Losser van die sondes op te tree. Hy alleen kan die volle prys betaal en het dit dan ook so gedoen aan die kruis! Hy was bereid om die vernedering te ondergaan om mens te word en onder ons te kom woon sodat ons losgekoop kan word en kan deel as kinders van die Here God. Hy alleen kan en wil ook as ons Losser optree- Hy is Jesus Christus ons Verlosser!

Die Here het voorsien en versorg sodat ons kan deel aan die ewige lewe!

Gebed.
Dankie dat Jesus Christus ons verlos van al ons sonde skuld. Dankie dat daar nou vir ons ʼn heenkome verseker is! Amen.

Dors vir meer:
Filippense 2.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 16 Augustus 2021 – Rut en Naomi maak ʼn plan. – Skrifgedeelte: Rut 3

Skrifgedeelte: Rut 3.
Vers wat tref, Rut 3:9. “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.” 2020 Vertaling.

Rut en Naomi vind hulle nogsteeds in ʼn moeilike situasie. Rut kon vir hul sorg deur die are op die lande van Boas op te tel, maar nou is hul aan die einde van die graanoes. Wat moet hul volgende doen? Hulle moet die lossingwet (Lev. 25) en huwelikswet (Deut. 25) aan die gang sit waar die naaste vermoënde man die grond moet uitkoop en die weduwee as vrou neem.
Naomi maak ʼn plan dat Rut vir Boas nader en vir hom vra om die lossingsreg uit te oefen. Noami volg nie die pad om na die oudstes in die stad te gaan en daar vir Boas en die ander familie te roep nie. Rut gaan kruip in die aand by Boas se voete in. Toe Boas vra wie is by sy voete, stel Rut as’t ware haar huwelikversoek- Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.
Rut en Naomi volg nie die gewonde pad nie, maar tog is dit nie ʼn slinkse plan nie. Dit is ʼn geleentheid om eers met Boas te praat voordat daar met die oudstes van die stad gepraat word.

Wat leer hierdie gedeelte vir ons vandag? Ons moet beplan en optree. Ons beplanning en oplossings moet ons soek binne die raamwerk van God se voorskrifte en Hom ken in alles wat ons doen (Spreuke 3:6).
Verder moet ons onder “soom van die kleed” van die Here leef. (Ander vertalings “skuilend onder sy vleuels” ). Slegs deur die genadige beskikking van die Here het ons deur Jesus Christus ʼn ereplek in die koninkryk van God. Die Here wys nie die weg wat Hom om genade smeek nie.
Stel jou self hierdie week weer opnuut bereidwillig in die diens van die Here!

Gebed.
Here my God! U is die groot en ontsagwekkende God. Dankie dat U die soom van U kleed oor my gegooi het, U genade aan my bewys deur Jesus Christus. Mag ek bereidwillig in U diens staan!
Amen.

Dors vir meer:
Levitikus 25

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 13 Augustus 2021 – Die Here voorsien deur ander. – Skrifgedeelte: Rut 2.

Skrifgedeelte: Rut 2.
Vers wat tref, Rut 2:12: “Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy ‘n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

Rut en Naomi vind hulle in ʼn moeilike situasie. Hulle het teruggekeer na Bethlehem maar hoe gaan hulle nou versorg word? Duidelik sien ons Rut is nie iemand wat by die huis sit en leef asof die wêreld haar iets skuld nie. Sy staan op en gaan uit na die lande om are op te tel (Soos wat die Here die volk beveel het in Deut. 24:19 om die armes toe te laat om are op te tel). Sy werk sonder ophou, sonder om op die kant te staan en net te kla oor haar situasie.
Boas daag op en sien haar dadelik raak en ontferm hom oor haar. So gebruik die Here vir Boas om Sy ontferming en versorging te wys. In Hoofstuk 1 het ons gesien hoe Rut die Here as God aangeneem het en heeltemal inskakel by die volk van God (geloofsgemeenskap). Rut het onder vleuels van die Here, die God van Israel kom skuil.

God gebruik mense om Sy seëninge en versorging aan ander te bewys. Die Here se planne is vervleg met ons optrede. Hy werk in en deur mense se handelinge. Daarom moet ons nie die seëninge wat die HEre aan ons gee om aan ander te gee van iemand af weghou nie. Doen goed aan ander wanneer ons die geleentheid het om goed te doen.
En wanneer ons self in ʼn soortgelyke situasie as Rut beland, werk en bid. Vra vir die Here se hulp, skakel ten volle in by die gemeente van die Here waar ons mekaar bystaan en versorg.
Moenie net agteroor sit nie, maar bring ook jou kant soos die Here ons die krag en vermoëns gee om te doen.
Bid en werk vandag, want die Here is saam met ons elke dag.

Gebed.
Ons hemelse Vader, baie dankie vir U versorging elke dag. Dankie vir U genade en vrede wat ons in oorvloed beleef deur U Seun Jesus Christus. Help my om ook vandag tot U eer en tot seëninge van ander te werk vandag.
Amen.

Dors vir meer:
Galasiërs 6:1-10

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 11 Augustus 2021 – Leeggemaak deur God? – Skrifgedeelte: Rut 1.

Skrifgedeelte: Rut 1.
Vers wat tref, Rut 1:20-21: Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.”

Vanoggend se dagstukkie sluit aan by wat ons Sondag oggend se preek van uit Rut 1.

Naomi voel verbitterd, sy wil nie meer genoem word die “lieflike/aangename” maar wil eerder die “verbitterde” genoem word. Nie net omdat sy verbitterd voel nie, maar omdat sy die Here blameer vir haar situasie. Sy het ʼn vol en goeie lewe gehad, maar nou het die Here haar lewe leeggemaak.

Met die pandemie is dit vir ons ook maklik om vas te kyk alles wat ons gehad het voor die Inperkings. So ook die nuus en media waar omtrent 70% van alle berigte en plasings gaan oor dinge wat verkeerd is. Hoe maklik kan ons nie meegevoer word hiermee nie. Maar as ons kom luister na ons Skepper en luister na Sy woord, dan het ons die grootste Blye Boodskap wat alle ander boodskappe oorskadu.

Ons lewe was vol sonde en dit is sonde wat skeiding bring tussen ons en God. Maar die Here het ons leeggemaak- leeggemaak van die sonde deur dit heeltemal skoon te was met die bloed van Christus. Voor ons geglo het, was ons verbitterd, was daar vir ons geen uitkoms of heenkome. Maar nou is ons die “lieflikes” wat die Here as sy kinders aangeneem het.

Nou leef ons vol van die Heilige Gees!

Gebed.
Here die skepper van alle dinge. Dankie dat U my leegmaak van alles wat skeiding bring. Dankie vir die volkome verlossing in Jesus Christus. Vervul my met U Heilige Gees en lei my lewe tot U eer!
Amen.

Dors vir meer:
Johannes 14:15-31

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

« Older posts Newer posts »