Skrifgedeelte: Rut 4
Vers wat tref, Rut 4:17 “Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.” Obed was die voorvader van Dawid.”

In hoofstuk 4 kom ons by die kern van die boek Rut. Die Here het nie net vir Rut en Naomi versorg nie, maar daar is nou ʼn nageslag vir Naomi en Rut. Hier is groot feestelikheid met die geboorte van Rut se seuntjie. Die leegheid en bitterheid wat Naomi beleef het, het nou verander in feestelikheid en volheid. Die seënbede wat die leiers Boas en Rut toegewens het, is vervul. Baie mooi word dit beklemtoon- Die Here het Rut laat swanger word. Dit is die Here wat voorsien het. Daarom ook die buurvroue se uitroep: Aan die Here kom die lof toe!
Mag ons na moeilike omstandighede ook weer die Here lof toesing omdat dit Hy is wat voorsien en versorg, al gebruik Hy mense om dit te doen.
Mag ons altyd in die Here se diens staan soos wat Obed beteken, ʼn dienaar en aanbidder van die God.

So is daar vir ons ook groot feestelikheid uit die nageslag van Rut- Die Here het Maria gekies sodat Jesus Christus as mens gebore is in Bethlehem. So het die Here onder ons kom woon.
Christus was en is ons Losser. As verlostes behoort ons nou aan die Here en is ons aanbidders en dienaars wat gereed is om as die liggaam van Christus hier op aarde die Here se sorg uit te dra en Hom te loof.
Mag die Here ons ook gebruik as instrumente om ander se gebede te antwoord en om aan ander te verkondig Jesus Christus is ons losser.

Gebed.
Here aan U kom al die lof toe! Dankie vir die verlossing en seëninge waaraan ons kan deel. Gebruik ons as U dienaars! Amen.

Dors vir meer:
Matteus 1:1-17

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei