Skrifgedeelte: Job 5:1-17 Teks wat tref: Job 5:8
Job 5:8 – “As ek jy was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê.”
ʼn Nagmerrie
Na alles wat met Job gebeur het, ontmoet ons hom aan die einde van Hoofstuk 3 waar hy geen rus en vrede het nie. In sy eie woorde is daar geen verposing nie maar net angs. Daarna bemoedig sy vriende hom met gesprekke. Sy vriend Elifas se bedoelings is opreg. Hy verwoord Job se gevoel. Aanvanklik hoor ons die simpatieke woorde waarmee Elifas hom ondersteun. Met gebruikmaking van ʼn interessante skryftegniek vol retoriese vrae word ʼn standpunt gestel. Daarna volg ʼn beredenering en dan ʼn slotargument. Sodoende probeer hy antwoorde gee vir die “waaroms” van die lewe.
Tydens ʼn nagmerrie waar ʼn gesig vir Elifas ontstel en sy hare orent laat staan ervaar hy iets van die worstelstryd van die mens. Die beelde wat hy gebruik beskryf die intensiteit van sy belewenis dat daar net onreg is.
Hy besef dat daar net antwoorde sal kom wanneer hy met God rekening hou (4:8,15 en 5:8). Dit is die enigste manier om verbitterdheid, rampe en ellende te verwerk. Hy bied nie ʼn kitsoplossing aan en gee nie valse vertroue nie. Die Heilige Gees bring hom tot bedaring.
Vanaf hoofstuk 5:15 sien hy hoedat God op elke gebied ingryp. Hongersnood en oorlog hou op en daar is bevryding uit elke ramp. God verwyder selfs die klippe in die veld sodat ek nie sal struikel nie. Hy dink aan die kleinste detail. Dit is hoe goed Hy my ken. As God ingryp is daar ʼn merkbare verandering.
Jou worstelstryd mag dalk op ʼn ander vlak wees. Gebeure rondom jou veroorsaak dat elke aand se nagrus dalk in ʼn nagmerrie ontaard. Jy voel te nagekom. Jy voel alleen. Jy voel verontreg. Christus is tydens sy hele lewe op aarde aan al hierdie dinge onderwerp. As Regverdige en Gestuurde van God verduur Hy dit alles sodat jy na die nagmerrie kan ontwaak en God se seëninge beleef. Nie net die klippe in die veld nie, maar die sonde word verwyder.
Bring daarom jou nagmerrie na die Here!
Dors vir meer:
Job 5:18-27
Gebed
Here, dankie dat U elke dag vir my sorg. Leer my om my saak aan U voor te lê. Amen
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235
Leave a Reply