Skrifgedeelte: Job 6:1-30 en 7:17-21     Teks wat tref:  Job 6:4

Job 6:4   – “Die pyle van die Almagtige deurboor my. Verskrikkinge van God bedreig my.”

Dit klink amper nie of Job enigsins ag geslaan het op Elifas se woorde in hoofstuk 5:8 nie. Die raad val op dowe ore. Inteendeel lyk dit dat Job nog meer belewe dat sy omstandighede nooit sal verander nie.  Die dieptes word net donkerder. Sy woorde spreek van uiterste wanhoop. Sy ellende weeg swaarder as die sand van die see.  Jy mag moontlik net so voel as jy antwoorde vir die “waaroms” probeer kry.  Die dood van ʼn lewensmaat, die verterende en uitmergelende siektetoestand en die onregverdige behandeling van jou werkgewer voel soos pyle van die Almagtige wat jou deurboor.  Niemand ken jou pyn en gemoed nie. Die lewe maak nie eens meer sin nie.

Jy het nie ʼn eetlus nie. Jou vriende en die reisigers op die pad kan nie eens help om jou op te beur nie.  Job se wanhoop is so intens dat hy op geestelike en liggaamlike gebied geen toekoms sien nie. Hy ly aan slaaploosheid, sy liggaam is oortrek met wurms, rowe en stof. Hy beskryf die toppunt van selfbejammering. Dit is ʼn egte belewenis.  Hy het alles op aarde verloor. Sy huis, familie en rykdom. Hy kan nie eers na die Here gaan nie – Verskrikkinge van God bedreig hom (6:4). Hy verloor alle perspektief en glo selfs dat die Here hom sal soek maar dat hy ophou het om te lewe.

Ons kan ook sulke situasies beleef.  Dat jy so ver van die Here verwyder is dat niks meer sin maak nie.  Dan bring hoofstuk 7 ons juis weer in God se teenwoordigheid.  Al kry Job nie dadelik antwoorde nie, en al voel dit dat die Here hom verwerp het, werk die Heilige Gees in sy lewe.  Met elke vraag kan Job sy belewenis voor die Here bring.  Moet daarom nooit met jou” waaroms” self probeer antwoorde vind nie.  God gebruik vriende en reisigers om jou weer nader aan Hom te bring.

Aan die kruis het Christus gebid dat dit van Hom weggeneem sal word.  Deur gehoorsaam te bly en in sy gesprekke met sy Vader, het Hy die dood oorwin sodat ek kan lewe en nie verlore is nie. 

Dors vir meer:

Ps 86

Gebed

Here, dankie dat U my opvang wanneer dit voel dat alles in duie stort. Dankie dat ek met my worstelinge by U kan kom staan. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235